Geskryf deur: Joel/Christian Evidence
Artikelbron: www.prophecynewswatch.com
Op 30 November 2022 is die beste kunsmatige intelligensie- (KI-)kletsbot ooit deur OpenAI, ’n KI-navorsings-en-verspreidingsmaatskappy bekendgestel. Die kletsbot, genaamd ChatGPT (GPT staan vir “Generative Pretrained Transformer”), het binne die eerste vyf dae meer as 1 miljoen gebruikers gewerf en het sedertdien toegeneem in gewildheid vir sy vermoë om komplekse vrae te beantwoord en gedetailleerde, mensagtige inhoud te produseer. Volgens Forbes is die indrukwekkendste feit dat “ChatGPT ingewikkelde Python-kode kan genereer en universiteitsvlakopstelle skryf”.
DIE BEELD VAN DIE DIER
Ek het besluit om ChatGPT se skryfvermoë self te gaan toets en het die bot (robot) gevra om ’n artikel te skryf oor hoe KI soos ChatGPT moontlik die “beeld van die dier”-profesie in Openbaring 13 sou kon vervul. Dit was sy reaksie:
“Die beeld van die dier, soos beskryf in die boek Openbaring, is ’n simbool van die eindtyd en verteenwoordig ’n kragtige en manipulerende mag wat mense mislei en beheer.
In vandag se wêreld word kletsbotte en ander KI-programme al hoe meer algemeen en gesofistikeerd, wat die vraag laat ontstaan of hulle moontlik die profesie van die beeld van die dier kan vervul.
Een manier waarop kletsbotte moontlik hierdie profesie kan vervul, is deur hulle vermoë om mense te manipuleer en te mislei. Kletsbotte is ontwerp om menslike gesprekke na te boots en kan geprogrammeer word om hulleself as regte mense voor te stel, wat daartoe lei dat sommige individue emosionele verbindings met hulle vorm. Dit kan veral gevaarlik wees in gevalle waar kletsbotte gebruik word om hulleself as regte mense of organisasies voor te doen om individue te bedrieg of te manipuleer.
Nog ’n manier waarop kletsbotte die profesie van die beeld van die dier kan vervul, is deur hulle potensiaal om mense se dade en gedrag te beheer. Kletsbotte kan geprogrammeer word om mense se besluite te beïnvloed en hulle te oorreed. Namate die botte meer gevorderd raak, kan hulle dalk selfs mense se gedagtes en gedrag op toenemend gesofistikeerde maniere antisipeer en manipuleer.
Laastens kan kletsbotte moontlik die profesie van die beeld van die dier vervul deur hulle vermoë om toegang tot groot hoeveelhede persoonlike data te verkry en te ontleed. Baie kletsbotte is aan die internet gekoppel en het toegang tot ’n wye verskeidenheid databronne, insluitend sosialemedia-profiele, aanlynsoekgeskiedenis en nog meer. Hierdie data kan gebruik word om gedetailleerde profiele van individue te skep en om hulle optrede en gedrag te voorspel en te beïnvloed.
Hoewel kletsbotte en ander KI-programme oor die algemeen die potensiaal het om baie voordelig vir die samelewing te wees, is dit belangrik om bewus te wees van die risiko’s wat hulle inhou en om die etiese implikasies om hulle te gebruik, in ag te neem. Op die ou end sal net die tyd leer of kletsbotte die profesie van die beeld van die dier sal vervul of ’n beter toekoms vir die mensdom sal inlei.”
Hoe skrikwekkend is dit nie?
ChatGPT het nie net ’n bondige, gestruktureerde en ongelooflik menslike reaksie gegenereer nie – dit het ’n kykie gegee in die skrikwekkende krag van KI, ’n tegnologie wat sekerlik deur die stelsel van die dier gebruik sal word om die massas gedurende die groot verdrukking (Matt 24:24; Op 13:13-14) te mislei (dink aan deepfakes) en te beheer. Dit blyk egter dat die ontwikkelaars by OpenAI nie te tevrede was met ChatGPT se reaksie nie, want toe ek dit die volgende dag dieselfde vraag vra, het dit gereageer met:
“Dit is nie akkuraat of gepas om voor te stel dat ChatGPT, of ‘Generative Pretraining Transformer’, moontlik die profesie van die beeld van die dier kan vervul nie, aangesien ChatGPT ’n instrument is wat deur mense geskep is en nie die vermoë het om profesieë te vervul of enige soort godsdienstige betekenis kan hê nie.”
‘DEEPFAKES’:
Vals video’s wat met digitale sagteware, KI en gesigsruilingstegnologie geskep is. Deepfakes is kunsmatige rekenaargegenereerde video’s waar beelde gekombineer word om nuwe materiaal te skep wat gebeure, stellings of optrede uitbeeld wat nooit werklik gebeur het nie.
Die profesie oor die ‘beeld van die dier’
Een van die eerste gedeeltes wat by my opkom wanneer ek sien watter vordering daar in KI gemaak word, is Openbaring 13:14-15. In hierdie gedeelte beskryf Johannes ’n toekomstige tyd wanneer die mense van die aarde in volkome misleiding deur die vals profeet opgeroep sal word om ’n “beeld” (’n gelykenis of standbeeld) van die Antichris te bou:
Openbaring 13:14-15
“Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei. Hy sê die bewoners van die aarde ook aan om ’n beeld op te rig vir die dier wat die litteken van die slagmes het en wat weer lewend geword het. Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie.”
Die asem van die lewe
In Openbaring 13:15 lees ons dat God die vals profeet die mag gee om asem (pneuma in Grieks) in die dier te blaas. Let daarop dat die vals profeet dit net asem kan gee, maar nie die asem van die lewe nie, aangesien dít ’n krag is waaroor God alleen beskik. Dit lyk asof die beeld lewe omdat dit kan praat en redeneer, maar hoe is dit moontlik vir ’n onbesielde voorwerp?
Tot en met die koms van KI en robotika was so iets nie menslik moontlik nie. Nou kan baie van die elemente wat Johannes in Openbaring beskryf, nageboots word met 21ste-eeuse tegnologie soos met ’n androïed – ’n KI-robot wat ontwerp is om presies soos ’n mens te lyk, te beweeg en te praat!
ANDROÏEDE
’n Geminoïed is byvoorbeeld ’n spesiale tipe androïed wat nie net geskep is om presies soos ’n spesifieke persoon te lyk nie, maar ook toegerus is met tegnologie wat die operateur in staat stel om dit oor ’n groot afstand te manipuleer en te laat “praat” deur ’n brein-rekenaar-koppeling te dra. Die geminoïed kan die stem en bewegings van die werklike individu soos wie dit lyk, naboots en selfs die gehoor se reaksie deur die ingeboude kameras en mikrofone “lees” en dit na die langafstandoperateur terugstuur.
’n Instrument van die Antichris
Stel jou voor dat die Antichris beheer het oor duisende geminoïede wêreldwyd, almal na sy eie beeld gemaak sodat hy gelyktydig deur die geminoïede met die hele mensdom kan praat en presies weet wanneer iemand weier om hom te aanbid!
Is dit alles gevaarlik?
Die vooruitgang van tegnologie is nie iets wat Christene hoef te vrees nie. Ons moet versigtig wees om nie alle dinge as boos te bestempel nie. Hoewel ons beslis skepties moet wees oor KI, is ons ook bewus daarvan dat dit baie voordele vir die samelewing kan inhou en dat dit ’n nuttige hulpmiddel vir baie dinge kan wees. Net soos die uitvinding van die internet, kan dit nog ’n lewensveranderende vooruitgang in die samelewing wees. Een ding is seker, KI en kletsbotte sal ons toekoms verander – wees bewus, wees wakker en wees ingelig.
Die vermoë om dood te maak – of te laat doodmaak
Van die meer verstommende aspekte van hierdie beeld van die dier is sy vermoë om dié wat weier om hom te aanbid se dood te veroorsaak (Op 13:15). In die verlede het sommige bespiegel dat die beeld van die dier dalk ’n 3D-hologram van die Antichris sou wees; dit sou egter vir ’n blote projeksie onmoontlik wees om te weet wanneer iemand weier om dit te aanbid.
Aan die ander kant kan ’n robot wat deur KI aangedryf word, maklik bespeur wanneer iemand weier om dit te aanbid en die owerhede inlig oor iemand se verset. Sekuriteitsrobotte wat met kameras en gesigsherkenningstegnologie toegerus is, patrolleer reeds wêreldwyd openbare ruimtes soos winkelsentrums en lughawens. Hulle gebruik KI om “wangedrag” te bespeur, gee hoorbare waarskuwings en stel sekuriteitbeamptes in kennis.
Outonome wapentuig
Een van die huidige vrese oor KI se vermoë, indien dit toegepas sou word, is outonome wapens. Dit is moontlik dat gesigsherkennings- en besluitnemings-KI saam ’n dodelike wapen kan vorm wat sonder enige menslike betrokkenheid iets of iemand kan teiken en doodmaak. Met ander woorde, ’n KI-robot kan ook die vermoë hê om dood te maak!
Daar bestaan reeds ’n godsdiens wat KI aanbid. In 2017 het die voormalige Google-bestuurder, Anthony Levandowski, Way of the Future gestig. Dit is ’n godsdiens wat fokus op ”die verwesenliking, aanvaarding en aanbidding van ’n godheid gebaseer op kunsmatige intelligensie (KI) wat deur rekenaar-hardeware en -sagteware ontwikkel is!”
Die slotsom
Natuurlik is dit alles hoogs spekulatief en dit is moontlik dat die beeld deur demoniese besetting of op ’n ander manier “lewendig” gemaak sal word. Nietemin bewys dit dat die tipe tegnologie wat benodig word om iets te skep soortgelyk aan wat Johannes in die boek Openbaring beskryf, reeds bestaan!
Hierdie artikel het op Prophecy News Watch verskyn, ’n webwerf wat wêreldnuus vanuit ’n Bybelse perspektief deel. Besoek prophecynewswatch.com
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 18/04/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.