Artikelbron: All Israel News
Honderde Christene in Noorweë het onlangs in steun vir Israel buite die nasionale parlement in die hoofstad Oslo, saamgetrek te midde van Israel se voortslepende oorlog teen die Hamas-terreurorganisasie in Gasa.
Die Noorse tak van die Internasionale Christen-ambassade in Jerusalem (ICEJ) het die saamtrek gereël. Dit word as ’n geskiedkundige gebeurtenis vir die Skandinawiese land beskou omdat daar histories sterk steun was vir Palestynse organisasies, soos die PLO (Palestina Bevrydingsorganisasie) en later die Palestynse Owerheid (PA). Verskeie Christelike denominasies het by die optog aangesluit, insluitend lede van die Lutherse, Rooms-Katolieke en Pinksterkerke, berig All Israel News.
“Danksy die sterk betrokkenheid van Christelike leiers en organisasies was dit ’n geskiedkundige demonstrasie van Christelike steun vir Israel in ons land. So iets het nog nooit in my lewe gebeur nie,” het Dag Øyvind Juliussen, die nasionale direkteur van ICEJ-Noorweë, gesê. Die Christelike pro-Israel-byeenkoms het ook gevra vir meer optrede om groeiende wêreldwye anti-Semitisme te bekamp.
In ’n gesamentlike verklaring het die Christelike denominasies hul hartseer uitgespreek oor die slagting wat Hamas in Israel op 7 Oktober 2023 uitgevoer het, sowel as die toename in wêreldwye anti-Semitisme. “Ons is geskok oor die aanval op Israel op 7 Oktober. Dit is met diepe hartseer dat ons die voortdurende oorlog en die wêreldwye toename in anti-Semitisme en haat teenoor Jode aanskou. As Christene voel ons ’n spesiale verantwoordelikheid om vir ons Joodse broers op te staan, veral as gevolg van die kerk se geskiedenis van anti-Joodse sentiment en vervolging. Ons kan nie stilbly in die aangesig van hierdie werklikheid nie,” lui die verklaring.
Die teenwoordige Christene het hulle ook uitgespreek teen die terreurorganisasie Hamas, sy anti-Joodse ideologie en sy handves om die Joodse staat uit te roei. “Anti-Semitisme is ’n belangrike element in die oorlog tussen Israel en Hamas. Hamas se uitsprake dat hulle 7 Oktober keer op keer wil herhaal totdat Israel nie meer bestaan nie, demonstreer Hamas se fundamentele anti-Semitiese ideologie soos uitgedruk in sy handves. Ons veroordeel sulke uitsprake ten sterkste. Die anti-Semitiese element in die oorlog en konflik tussen Israel en Hamas moet nie oor die hoof gesien of vergeet word nie.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 07/02/2024
Foto: ICEJ
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.