Geskryf deur: Errol Naidoo
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Charlie Kirk se 22-jarige sluipmoordenaar, Tyler Robinson, het glo uit ’n konserwatiewe familie gekom. Die FBI het onthul dat Robinson op die internet en universiteitskampus geradikaliseer is. Hy het ’n moordlustige haat ontwikkel teenoor die 31-jarige man, eggenoot en pa van twee, bloot omdat hy dit gewaag het om universiteits- en kollegestudente in ’n oop debat te betrek. In ’n SMS aan sy transgender-maat het Robinson bely dat hy Kirk geskiet het “omdat hy genoeg gehad het van sy haat”. Todd Wagner het gesê: “Die waarheid klink soos haatspraak vir dié wat die waarheid haat.”

Indoktrinasie op universiteit
Dit is redelik om aan te neem dat Tyler Robinson se ouers nie die Skrifgebod van Efesiërs 6:4 toegepas het nie: “En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.” Navorsing toon dat miljoene kinders wat grootgeword het in selfverklaarde Christelike huise, blootgestel word aan die goddelose Marxistiese ideologie wanneer hulle universiteit of kollege toe gaan. Hulle los dikwels die Christelike waardes waarmee hulle grootgemaak is en omhels ’n radikale ideologie gewortel in ’n irrasionele haat vir die Drie-enige God van die Bybel.

Broeiplek vir ekstremisme
Kulturele Marxistiese ideologie oorheers universiteits- en kollegekampusse in die VSA sowel as as in Suid-Afrika. Hierdie kampusse is broeiplekke van anti-Christelike en antisemitiese ekstremisme. Ontstellend genoeg het antigesinsideologie ook deurgekruip tot in laer- en hoërskole via kurrikulums soos “Omvattende Seksualiteitsonderrig” (CSE). Indoktrinasie het opvoeding vervang in in skole hier en in die VSA. Charlie Kirk het beduidende deurbraak gemaak in hierdie Marxistiese vestings deur die Evangelie vreesloos te verkondig terwyl hy studente toegespreek het. Sy boodskap van geloof, gesin en vryheid het by miljoene weerklank gevind – en dit is in wese wat hom sy lewe gekos het. Kirk het gewaag om in ’n gebied in te dring wat byna volkome deur die linkses beïnvloed is.

Herlewing van die gesin
Charlie Kirk se doel was om die Amerikaanse gesin te herstel. Hy het jongmense aangemoedig om vervulling te vind in die diens van God, om te trou en kinders te hê. Sy boodskap het direk ingedruis teen die linkse antigesinsmantra. Hulle definieer die huwelik tussen man en vrou as uitgedien en kinders as ’n las. Die ANC bevorder eweneens die “seksuele regte”-agenda in sy geslagsneutrale “Huwelikswet”. Die huwelik, die gesin, ouerlike gesag en geloofsuitspraak word meedoënloos deur die linkses aangeval omdat dit in Bybelse waarheid gegrond is.

Maar hoekom?
Die vraag bly egter: Hoekom het soveel jongmense hierdie goddelose ideologie omhels? Die enigste rasionele antwoord is dat ouers – veral vaders – versuim om hul kinders groot te maak in die tug en vermaning van die Here. Om kinders in die kennis van Christus te grondves het noodsaaklik geword in ’n kultuur wat obsessief is oor snel veranderende giere. Maar wat ons ons kinders leer, is selfs meer deurslaggewend. Misleiding en verdraaiing van die waarheid is nie net volop in opvoeding, die media en aanlyn nie, maar tragies genoeg ook in die Kerk. Ons leef nou in die tyd “wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend” (2 Tim 4:3-4).

’n Post-Christelike kultuur
Bybelgelowige Christene leef in ’n post-Christelike kultuur wat Bybelse moraliteit verwerp. Die oorlog teen Christus blyk duidelik uit die oorlog teen die huwelik, teen die gesin en die agenda om die jong en beïnvloedbare gedagtes van kinders te korrupteer. Dít is hoekom kulturele Marxisme die oorheersende ideologie op universiteits-, kollege- en skoolkampusse is. Die doel is om die gedagtes van toekomstige geslagte vas te vang en te vorm met ’n ideologie wat anti-God, anti-Christus en anti-Skrif is. Die meeste ouers ignoreer hierdie bedreiging wat tans leerinstansies oorweldig. Maar die vraag is: Hoe beveg ons hierdie aanslag op Bybelse waarheid effektief?

Die gevare van ‘woke’ ideologie
Die antwoord is: Deur die Evangelie vreesloos te verkondig. Die mees effektiewe manier waarop Bybelgelowige Christene die leuens van satan teenwerk, is deur die waarheid van God se Woord eg uit te leef en ons kinders in gesonde leer te onderrig. Vervalste Christenskap is een van die vyand se mees doeltreffendste misleidingstrategieë. Ons hoor baie van die gevare van woke ideologie, maar ons ignoreer dikwels die ewe verwoestende verdraaiings van die Skrif in ons kerke. Valse leraars en die valse evangelies wat hulle versprei, bied ’n subtiele maar selfs ernstiger bedreiging vir Skrifgetrouheid as die buitensporige aansprake van kulturele Marxisme. Jesus het gesê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh 8:32). Maar watter waarheid bedoel Hy? Die waarheid van die Skrif soos geopenbaar in die 66 boeke van die Heilige Bybel – wat alleen die geïnspireerde Woord van God is.

Evangeliseer die jeug
Die huidige oorheersing van Marxistiese ideologie op universiteits- en kollegekampusse is gevolglik ’n aanklag teen die Kerk se versuim om die jeug te evangeliseer. Die Kerk versuim om haar Bybelse mandaat te vervul om die heiliges toe te rus vir die werk van die bediening omdat die meeste van wat in die hedendaagse kerk geleer word, nie Bybels is nie. Menslike opinies het geen krag om lewens te ver-ander nie. Maar God se krag is in sy Woord. Ons moet daarom terugkeer na die fondamente van die geloof: verlossing deur genade alleen, deur geloof alleen, in Christus alleen, tot die eer van God alleen. Meer nog, ons moet ons kinders leer om die geïnspireerde Skrif alleen te vertrou, want daarin – en daarin alleen – is die krag van God tot redding.

ERROL NAIDOO – Uitvoerende Direkteur van Family Policy Institute. Teken in op sy weeklikse nuusbrief by familypolicyinstitute.com.

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 12/12/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here