Geskryf deur: Gerda Potgieter

Daar is steeds tyd om te registreer.

Die welbekende KwaSizabantu Jeugkonferensie speel ‘n deurslaggewende rol om geestelike groei by jongmense te bewerkstelling. Die komende konferensie, wat vanaf 10 tot 16 Desember by die sendingstasie in Kranskop gehou word, is geen uitsondering nie. Daar is nog kans as jy dit wil gaan bywoon.

Die KwaSizabantu Jeugkonferensie is ’n Christelike byeenkoms van jongmense wat fokus op geestelike groei, kameraadskap, mentorskap, ondersteuning aan gemeenskappe en die aanleer van lewensvaardighede. Die konferensie is deel van die jeuguitreikingsprogram van die sending en word gratis vir tweemaal per jaar tydens die lang skoolvakansies vir ’n volle week aangebied. Die program is ’n gesonde mengsel van gereelde dienste, geestelike ondersteuning, asook pret en plesier tydens ’n sportdag. As jy deelneem aan al die aktiwiteite en luister na die sprekers, sal jy ‘n dieper verbintenis met God ontwikkel asook ‘n passie vir geloof. Daar is ook ’n geleentheid om hulp te kry vir persoonlike en sosiale uitdagings.

Die konferensie trek jongmense van verskeie provinsies, wat ’n bewys is dat dit nasionale ondersteuning geniet. Met die vorige jeugkonferensie in Julie het meer as 8,000 jongmense geregistreer om die konferensie by te woon en op die dankseggingsdag het die gemeenskap en jongmense in groot syfers opgedaag en die ouditorium volgemaak. Die oortollige was in ’n groot tent aan die agterkant van die gebou geakkommodeer en hulle kon die diens op ’n groot televisieskerm volg. Dit was ’n groot belewenis om meer as 12,000 mense, waarvan die meeste jongmense was, bymekaar te sien om die Here te loof en lofsange te sing.

Hierdie jeugkonferensie is een van die mees volhoubare. Dit het sy ontstaan in 1974 gehad en dit groei van jaar tot jaar. Baie van die jongmense wat dit bywoon kom uit haglike omstandighede wat tonne uitdagings vir hulle stel. Die geleentheid wat KwaSizabantu hulle bied om gratis, vir sewe dae, ’n Christelike konferensie by te woon, is enorm. Die sending stuur busse om die groepe wat van ver-af kom, te gaan haal en ry sover as Umtata om hulle na die sendingstasie te bring om die Here se boodskap met hulle te deel. Busse het in Julie meer as 56 keer voltyds gery om hulle te gaan haal by die afsetpunte. Na die konferensie is hulle weer teruggeneem. Dit is wat ek opregte Christenliefde noem en ek bid dat meer organisasies dieselfde sal doen.

Tydens die vorige konferensie het ek gereeld rondgeloop en onbepland met party van die jongmense gesels om te hoor wat hulle ervaring van die konferensie was. Dit was vir my belangrik om te hoor wat in hulle harte aangaan. Hulle vertel hoe welkom hulle voel en is dankbaar dat iemand ook aan hulle aandag gee. Te veel van hulle kry nie by die huis die aandag wat hulle verdien nie. Dit is vir hulle ongelooflik dat mense wat hulle nie eers ken nie, so liefdevol teenoor hulle kan optree, en met hulle die Goeie Nuus deel dat alles nie verlore is nie. Dit is ’n pyniging om te sien hoeveel van ons jongmense nie hoop het vir ’n beter toekoms nie, maar die weeklange kongres het baie weer hoop gegee.

By die jeugkonferensie word die jongmense vaardighede geleer oor hoe om die lewe se uitdagings te hanteer en om te weet waarheen om te gaan vir hulp. Die temas wat bespreek word, is baie toepaslik vir die uitdagings waarmee jongmense worstel. KwaSizabantu werk gereeld saam met skole om bewusmakings programme te loods oor die gevare van dwelms en ander maatskaplike probleme. So het hulle agtergekom dat meer as 50% van skoliere vandag betrokke is by damprook (vaping). Wat my aandag by die vorige konferensie getref het, was die bewyse wat met die jongmense gedeel is oor hoe gevaarlik damprook is, wat die teenoorgestelde is van wat die hoofstroommedia ons probeer wysmaak, naamlik dat dit ’n “gesonder” alternatief vir rook is. Dit is gewoon nie waar nie, en baie jongmense vind dit soms te laat uit.

Verslawing onder jongmense is ’n vinniggroeiende onding en dit benadeel die toekoms van elkeen wat daarmee sukkel, en ook hulle families. Ek het al met verskeie jongmanne gesels wat verslawing oorkom het, en nou ’n beter lewe lei. Ek deel graag die volgende lewensverhaal met julle om julle aan te moedig om te gaan hulp soek vir probleme en ’n daadwerklike poging aan te wend om self aksie te neem.

As jy graag die volgende jeugkonferensie wil bywoon of as jou kerk n groep jongmense wil stuur om kollektief deel te neem, besoek gerus die webtuiste vir meer besonderhede: www.ksb.org of stuur n epos na: reception@ksb.org.za. Jy kan ook skakel na die telefoonnommer: (032) 481 5727


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 6/12/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here