Geskryf deur: gotquestions.org
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Om jou saak met God “reg” te kry, moet jy eers verstaan wat “verkeerd” is. Die antwoord is sonde. “Daar is niemand wat goed doen nie, selfs nie één nie” (Ps 14:3). Ons was ongehoorsaam aan God se gebooie; ons het almal “gedwaal soos skape” (Jes 53:6).
Ons is verlos
Die slegte nuus is dat die straf vir sonde die dood is. “Dit is die mens wat sondig wat sal sterf” (Eseg 18:4). Die goeie nuus is egter dat ’n liefdevolle God ons nie alleen gelos het nie, maar gekom het om ons te verlos. Jesus het die doel van sy koms beskryf: “…om te soek en te red wat verlore is” (Luk 19:10). En met sy sterwenswoorde aan die kruis het Hy bevestig dat Hy sy doel bereik het: “Dit is volbring!” (Joh 19:30).
Die eerste stap
Die regte verhouding met God begin deur te erken dat jy gesondig het. Dan volg ’n nederige belydenis van jou sonde voor God (Jes 57:15). “Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered” (Rom 10:10).
Gepaard met geloof
Hierdie berou oor jou sonde moet gepaardgaan met geloof – geloof dat Jesus jou Verlosser is deurdat Hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het en toe uit die dood opgestaan het. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom 10:9). Die noodsaaklikheid van geloof kom in baie ander teksverse ook voor, soos in Johannes 20:27; Handelinge 16:31; Galasiërs 2:16; 3:11, 26 en in Efesiërs 2:8.
Reaksie op God
Om jou saak met God reg te hê, hang af van jou reaksie op wat God vir jou gedoen het. Hy het die offer gegee sodat jou sonde weggeneem kan word (Joh 1:29) en Hy gee die belofte: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Hand 2:21).
Die verlore seun
Die gelykenis van die verlore seun is ’n baie mooi illustrasie van berou en vergifnis (Lukas 15:11-32). Die jongste seun het sy erfporsie op sondige maniere uitgemors (v 13) en nadat hy erken het dat hy baie verkeerde dinge gedoen het, het hy besluit om terug te keer huis toe (v 18). Hy het gedink dat sy pa hom nie meer as sy seun sal erken nie (v 19), maar hy was verkeerd. Sy pa was oorstelp van vreugde oor sy seun se terugkoms (v 20). Hy het die seun alles vergewe en vir hom ’n groot feesmaal laat voorberei (v 24). God kom sy beloftes na en dit sluit die belofte van vergifnis in. “As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede” (Ps 34:18).
’n Voorbeeldgebed
As jy jou saak met God reg wil kry, bid die volgende gebed. Onthou egter dat om net hierdie gebed of enige ander gebed te bid, jou nie sal red nie. Dit is slegs geloof in Christus wat jou van sonde kan verlos. Hierdie gebed is ’n eenvoudige manier om vir God te vertel van jou geloof in Hom en om Hom te bedank omdat Hy voorsiening gemaak het vir jou verlossing.
“God, ek weet dat ek teen U gesondig het en die straf daarvoor verdien. Maar Jesus Christus het in my plek die straf op Hom geneem sodat ek deur geloof in Hom, vergewe kon word. Ek los nou my sondige lewe en vertrou dat U my sal red. Baie dankie vir U wonderlike genade en vergifnis – die vreugde van ’n ewige lewe! Amen!”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 14/03/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.