Geskryf deur: Lisa Polson
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Ek het altyd gedink al wat nodig is vir iemand om Jesus met oorgawe te volg, is dat hulle oë moet oopgaan. As hulle net iets kan sien van die heerlikheid van die Koninkryk en God se groot liefde vir hulle, sal hulle sekerlik so meegevoer wees dat hulle met vreugde elke tydelike plesier sou opgee vir hierdie ewige skat?
Te veel gevra
Toe het ek ’n gesprek gehad met iemand wat Jesus geken het. Hy was gered en bevry en hy het God se goedheid en genade in sy lewe gesien. Maar toe hy sien wat dit sou kos om Jesus te volg, het hy besluit dit is te veel en begin terugkrabbel. Dit was nie onkunde oor God nie, maar akute bewustheid van die prys om Hom te volg wat hierdie man laat terugdeins het, en die lewe van God binne in hom uitgedoof het. Ek was diep bedroef en uitgedaag hierdeur. Kan dit wees dat ons God kan sien, werklik sy liefde ken en ervaar, en Hom steeds nie ten volle kies nie?
Die oseaan van God se Koninkryk
Dis toe dat die Here vir my ’n prentjie wys, amper soos die een hierbo – ’n lugfoto van ’n besige strand. Hy het my gewys hoe die Koninkryk van God soos die oseaan is – toeganklik en beskikbaar vir almal. Tog kies almal nie om in te gaan nie, en diegene wat wel ingaan, het steeds die keuse van hoe diep hulle wil gaan.
So naby tog so ver
In die prentjie was daar honderde mense wat op die strand lê en sonbaai, besig om ’n “lekker tyd” te hê. Maar hulle gaan nooit in die water in nie, al is hulle so naby daaraan. Ander vat nou en dan ’n vinnige swem wanneer die hitte (die uitdagings van die lewe) te veel raak, maar sodra hulle afgekoel het, gaan hulle weer uit.
Vlak geloof of volle oorgawe
Die golwe was nie so vol soos die strand nie, maar daar was steeds baie mense. Hierdie mense is in die Koninkryk en geniet God se seën, maar hulle is nie bereid om verder te gaan as wat hulle voete kan staan nie, en bly dus naby aan die kus. Hoe dieper die oseaan, hoe minder mense was daar. Slegs ’n handjievol het weggebreek van die skares en die dieper waters aangedurf.
Diepseeduikers
Ons is almal geskape om diepseeduikers te wees. Ja, daar is ’n koste. Hoe dieper jy gaan, hoe minder kan jy saamneem. Jy moet van jou waardevolle besittings agterlaat, en sommige mense ook. Alle vertroue op jouself moet wyk, want jy moet staatmaak op jou suurstoftenk vir elke asemteug. Jy sal dikwels nie weet waarheen die stroom jou neem nie, en jy sal menigmaal stroomop moet swem. Dié in die vlak waters sal dink jy is dwaas en dalk selfs ‘n bietjie gek.
Onskatbare waarde van Christus
Die koste vervaag egter in vergelyking met wat verkry word. Wanneer jy die onbekende dieptes aandurf, word die groot geheimenisse van die Koninkryk aan jou geopenbaar – ’n lewe wat jou wildste drome oortref, gevul met passie en ’n doel, onuitspreeklike vreugde en onwrikbare vrede. Belangriker nog, jy kry Christus. En jy sal gou vind dat al daardie dinge wat eens vir jou so belangrik gelyk het, onbenullig is in vergelyking met die oneindige waarde daarvan om Jesus as Here te ken.
Gee alles vir Hom
God roep ons altyd dieper. Gee alles vir Jesus, Hy het reeds alles vir jou gegee. En moenie dat ander ’n paar meter van die see af sterf nie – vertel hulle van die lewende water, neem hulle saam met jou.
LISA POLSON – joernalis by JUIG! Tydskrif.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 13/03/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.