Deur Compelling Truth Ministries
Artikel oorsponklik gepubliseer in JUIG! Tydskrif Julie 2026
Verklarings deur Dr. Pearl Kupe
Miljoene mense, insluitend Christene, worstel met depressie. Depressie kan manifesteer as hartseer, min energie, frustrasie, ’n doodse gevoel en langdurige neerslagtigheid. Dit is ’n ingewikkelde toestand met baie fasette. Om depressief te wees is nie op sigself sonde nie en depressie word ook nie altyd deur sonde veroorsaak nie. Dit beteken ook nie noodwendig dat iemand ’n gebrek aan geloof het nie. Wanneer depressie toeslaan, behoort dit ’n prioriteit te wees om die oorsaak daarvan te identifiseer en die regte behandeling te vind.
Om depressie te verstaan
Soms kan iemand wat aan depressie ly eenvoudig daardeur werk en vertrou dat God vertroosting sal bring en dat die omstandighede sal verander. Ander kere is berading en medikasie nodig. Hoewel die Bybel depressie nie spesifiek op die naam noem nie, hanteer dit wel gevoelens van hartseer, droefheid, eensaamheid en wanhoop. God wil hê dat sy kinders vreugde moet ken. Tye van depressie kan ons selfs nader aan Hom bring terwyl ons deur ons beproewings gaan (Rom 5:3-5; 1 Pet 1:6-7). “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd” (Ps 73:26).
Verskillende vorme van depressie
Depressie het baie oorsake en kom in verskillende vorme voor:
- Situasionele depressie word, soos die naam aandui, deur moeilike omstandighede veroorsaak. Gewoonlik neem dit met verloop van tyd af namate die situasie opgelos of aanvaar word. Situasionele depressie is nie noodwendig verkeerd nie. Dikwels is dit ’n verstaanbare en gepaste reaksie op die pyn van ’n gebroke wêreld (sien Klaagl 3:1-18).
- Kliniese depressie is ’n aanhoudende toestand wat die grootste deel van die dag, byna elke dag en langer as twee weke duur. Dit beïnvloed die alledaagse lewe by die werk, skool en huis. Slaappatrone word versteur. Kliniese depressie kan deur trauma veroorsaak word.
- Chroniese depressie is minder intens as kliniese depressie, maar kan baie langer duur – minstens twee jaar. Dit word gekenmerk deur moegheid, hartseer en ’n algemene gevoel van ongesteldheid. Dit kan ook afgewissel word met episodes van kliniese depressie. Hoewel chroniese depressie nie aangenaam is nie, beïnvloed dit gewoonlik nie iemand se leefstyl of vermoë om te werk in dieselfde mate nie.
Die wortels van depressie
Voor die sondeval was daar geen sonde, skaamte, vrees of depressie nie. Depressie is ’n gevolg van die sondeval en mense wat daarmee worstel ervaar die uitwerking daarvan op elke terrein van die lewe – uiterlik, persoonlik, verstandelik, fisies en geestelik.
UITERLIK
Depressie het ’n sterk genetiese komponent, maar baie depressiewe episodes word deur eksterne omstandighede veroorsaak. Die dood van ’n geliefde is ’n algemene sneller. Langdurige stres, die winterseisoen en ’n besige leefstyl kan ook bydra. (Ps 143:3-4).
PERSOONLIK
Persoonlike keuses speel ook ’n rol in depressie. Soms lei sonde tot depressie en word dit verder daardeur gevoed. Depressie kan veroorsaak word deur alkohol- en dwelmmisbruik, die koestering van woede en selfgesentreerdheid en ander selfvernietigende gedrag. Sonde het altyd negatiewe gevolge. Daarom behoort enige behandeling vir depressie ook te ondersoek watter sondes die situasie moontlik vererger (Ps 32:3-5).
VERSTANDELIK
Depressie word aangevuur deur negatiewe gevoelens, persepsies en gedagtes. Onbybelse oortuigings oor ’n mens se waarde en vermoëns dra dikwels daartoe by. Die Bybel spoor ons aan om ons gedagtes gevange te neem (2 Kor 10:5), om op die waarheid te fokus eerder as op ’n verkeerde persepsie (Joh 8:32) en om op God se Woord te vertrou eerder as op ons gevoelens (Ps 56:4). Wat iemand kies om te glo, waar of onwaar, kan fisiese gevolge hê. As iemand weier om God se krag en liefde te glo en eerder op gebrokenheid en pyn fokus kan dit tot depressie lei (Ps 25:4-5, 16-21).
GEESTELIK
Depressie het beslis ook ’n geestelike dimensie. Dit kan een van satan se middele wees om Christene van die werk van die Koninkryk af weg te trek. Depressie kan ons siening van God beïnvloed en ons van vreugde beroof. Dit is onmoontlik om ’n Geesvervulde lewe sonder vreugde te leef (Gal 5:22; Fil 4:4). Soms kan depressie deur demoniese beïnvloeding veroorsaak word (1 Sam 16:14), maar nie altyd nie. Hoe ons depressie hanteer is ’n diep geestelike saak. Die Bybel sê dat ons al ons bekommernisse op God moet werp (1 Pet 5:7). Die oplossing vir ’n “terneergedrukte siel” is om op die God te vertrou wat red. “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God” (Ps 42:12).
FISIES
Depressie kan die liggaam op verskeie maniere beïnvloed. ’n Besering of siekte kan depressie veroorsaak en terselfdertyd herstel belemmer wat ’n bose kringloop skep. Slapeloosheid kan dieselfde effek hê. Depressie kan ook veroorsaak word deur hormonale wanbalanse of ander fisiese faktore wat met medikasie of aanvullings behandel kan word.
Om genesing te vind
Behandeling vir depressie behoort al hierdie faktore in ag te neem. ’n Holistiese benadering sal waarskynlik geestelike begeleiding, belydenis van sonde, die vernuwing van gedagtes volgens die waarheid, ondersteuning vanuit die geloofsgemeenskap, fisiese oefening, gepaste voeding en moontlik medikasie insluit om die liggaam te laat ontspan en die gemoed te verlig. Dit kan ook meer blootstelling aan sonlig en doelbewuste tye van rus en herstel insluit. Dit is heeltemal gepas om ander van jou stryd te vertel en hulle vir gebed en ondersteuning te vra. Dit is deel van hoe gelowiges mekaar se laste dra (Gal 6:2). Dit is ook wys om raad en mediese hulp by opgeleide professionele persone te soek. Maak dus gebruik van hierdie vorme van ondersteuning as jy met depressie worstel.
Hoop te midde van die donkerte
As jy met depressie worstel, onthou dit: Jy is nie alleen nie en jy is nie buite God se bereik nie. Baie getroue gelowiges in die Skrif het met wanhoop, hartseer, vrees en diep emosionele pyn geworstel. God word nie afgeskrik deur jou vrae, jou trane of jou uitputting nie. Hy sien jou, Hy het jou lief en Hy stap saam met jou, selfs deur die donkerste valleie. Depressie bepaal nie jou identiteit nie en dit het nie die laaste sê oor jou lewe nie. Genesing kan tyd asook ondersteuning, gebed, berading of mediese sorg vereis, maar daar is hoop. Die Here nooi ons om elke las na Hom toe te bring en op die liggaam van Christus te steun vir bemoediging en krag. Selfs wanneer jou gevoelens oorweldigend raak bly God getrou. Sy ontferming is elke oggend nuut en sy teenwoordigheid bly konstant in elke seisoen.


Hierdie artikel verskyn in die Julie 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Hoof foto oorspronklik gepubliseer in die JUIG! Tydskrif van Julie 2026
Datum gepubliseer: 03/07/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








