Geskryf deur Ilse Strauss
Artikel verskaf deur Maroela Media

Ek wil nie hierdie artikel skryf nie. Ek wil nie my dag spandeer deur my pad te baan deur die afgryse nie. Wie sou? En tog is ek hier.
Hoekom? As gevolg van dit wat ek onlangs in ʼn Bybelstudiegroep in Suid-Afrika uitgevind het.

Ons was onlangs op ʼn spreektoer in Gauteng, en het die aand spandeer saam met wonderlike mense wat lief is vir die God van Israel, die Bybel en die mense van Israel. Ek het doelbewus nie in te veel detail ingegaan oor die gebeure van 7 Oktober 2023 nie. Ek het aangeneem hulle weet. Ek het aangeneem almal weet.

Maar terwyl ons gesels het, het ek terloops van die dinge genoem wat ek op die Gaza-grens gesien het nadat Hamas gekom het. Skaars ʼn paar sinne in, het een van die mans sy hand opgesteek. “Wag,” het hy gesê. “Ek weet daar was ʼn aanval op 7 Oktober, dat Hamas Israel probeer infiltreer het en dat Israel daarna ʼn oorlog begin het. Maar was dit regtig só erg? Die Suid-Afrikaanse media het nie die dinge gedek wat jy nou net genoem het nie.”

Ek het ʼn oomblik in stilte gesit en probeer besluit hoe om te antwoord. Want nee, dit was nie só erg nie. Dit was baie erger.

Ek was minder as 48 uur nadat Hamas aangeval het op die Gaza-grens. Die liggame was nog besig om geprosesseer te word. Wrakke het swart gestaan en rook op nou-verlate paaie. Sommige van die terroriste was nog steeds binne-in Israel. Die stank van verbrande vlees in jou neusgate. Die deure van bomskuilings langs die Pad van die Dood wat teen vreemde hoeke hang – skuilings wat ure vantevore nog volgepak was toe Hamas-terroriste doodluiters granate ingegooi het om die binnekant in slaghuise te verander. Missiele wat soos helder linte van vuur deur die lug trek.

Hoe beskryf ʼn mens daardie tonele terwyl jy in ʼn rustige sitkamer in Pretoria sit? Hoe verduidelik jy die loutere vreugde waarmee Hamas van die mees onuitspreeklik bose dade ooit gepleeg het, die gruweldade met trots verfilm het en toe self die video-materiaal versprei het?

‘n Israeliese soldaat hou ‘n nasionale vlag vas terwyl ‘n kolom tenks op 11 Oktober 2023 in die boonste Galilea in die noorde van Israel naby die grens met Libanon versamel word. (FOTO: JALAA MAREY/AFP)

Weerstand, noem sommige dit. Die logiese reaksie op jare se onderdrukking, rasionaliseer ander. Om die bewerings van besetting en onderdrukking wat voor Israel se deur gelê word te ontmasker, is ʼn artikel vir ʼn ander dag. Maar ʼn mens wonder hoe die verkragting van ʼn vrou tot die dood toe as weerstand kwalifiseer. Of die verwurging van kleuters en gryses.

Nee. Dit was nie só erg nie. Dit was baie erger. En daarom skryf ek vandag.

Gruweldade sonder ʼn stem

“As iemand wil weet hoe die hel lyk, kan ek hulle vertel,” het die Israeliese nooddienswerker Eran Masas aan die siviele kommissie vir misdade teen vroue en kinders deur Hamas op 7 Oktober vertel, nadat hy drie dae lank liggame naby die terrein van die Nova-fees herwin het.

In die eerste paar dae ná die besef begin deurskemer het van wat Hamas aan Israeliese vroue en kinders gedoen het, het ʼn groot deel van die wêreld met medelye gereageer. Dit

het nie lank gehou nie. Soos meer verslae van verkragting, verminking en marteling na vore gekom het, het daardie medelye vinnig verander in eise vir Israeliese “proporsionaliteit”, en daarna in ʼn verharding van harte teen die smeekroep van gemartelde vroue en gyselaars wat steeds in Gaza mishandel is. Om te erken wat Hamas gedoen het, beteken om die groep in ʼn swak lig te stel en te erken dat Israel se reaksie geregverdig was. Dit is ʼn ongerieflike waarheid vir baie, en daarom word enige melding van die seksuele geweld van 7 Oktober selfs nou nog met ontkenning of vyandigheid begroet.

Hierdie Mei het die siviele kommissie vir misdade teen vroue en kinders deur Hamas op 7 Oktober ʼn verslag van 282 bladsye vrygestel met die titel “Silenced No More”. Dit is die produk van ʼn tweejaarlange ondersoek: meer as 10 000 foto’s en video-segmente is bestudeer, meer as 1 800 kumulatiewe ure se visuele analise is gedoen en meer as 430 getuienisse is ingesamel van oorlewendes, getuies, vrygelaat gyselaars en familielede. Die slagoffers het uit 52 verskillende nasionaliteite gekom.

Die kommissie het dertien patrone van seksuele en geslagsgebaseerde geweld geïdentifiseer wat herhaal is in huise, langs paaie, op die Nova-feesterrein en op militêre basisse en wat daarna tydens gevangenskap tot in die tonnels van Gaza voortgesit is. Die verslag is onderskryf deur, onder andere, die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, en Sheryl Sandberg, te midde van ʼn lang lys regskundiges, menseregtefigure en rabbi’s. Min dokumente oor seksuele geweld tydens konflikte is al ooit op soveel getuienis gebou.

Die verslag gee hierdie patroon ʼn naam: kinoside (kinocide). Dit beskryf seksuele geweld wat doelbewus binne gesinne toegedien word, ontwerp om die bande tussen ouer en kind, man en vrou, te vernietig. In verskeie gedokumenteerde gevalle is familielede gedwing om mekaar te mishandel. Die doel was nooit bloot die dood nie. Dit was die vernietiging van ʼn gesin terwyl die lede moes toekyk.

In die naskokke van Hamas se aanval op Israel op 7 Oktober 2023 (FOTO: MAHMUD HAMS/AFP)

Niks hiervan was spontaan of op die ingewing van die oomblik nie. Israeliese troepe het notaboeke, kaarte en Arabies-na-Hebreeuse-fraseboeke op die liggame van dooie terroriste gevind, kompleet met opdragte soos “trek jou broek uit” en “lê op die grond.” Kabelbinders (cable ties) is ingepak om slagoffers stil te hou. Dit was beplan, geoefen en uitgevoer volgens instruksies wat vooraf neergeskryf is.

Dit is ook nie weggesteek nie. Die terroriste het hulself verfilm en die video-materiaal op sosiale media geplaas, soms sommer op die slagoffers se eie profiele. Sommige gesinne het eers uitgevind wat met hulle dogters gebeur het toe die video’s hul fone bereik het.

Hamas het vroue se liggame as oorlogstrofeë behandel en die wreedheid in propaganda vir ʼn wêreldwye gehoor opgedis.

Een getuie het beskryf hoe hy ʼn jong vrou se liggaam naby die Nova-terrein gevind het – kaal, in die skouer geskiet, met haar klere in ʼn hoop langs haar. Hy het met haar gepraat terwyl hy gewerk het en haar toestemming gevra om haar aan te trek, terwyl hy sy eie sewejarige dogter in haar plek voorgestel het.

ʼn Manlike oorlewende, wie se getuienis deur ʼn leuenverklikker bevestig is, het vertel dat hy die slagoffer was van groepsverkragting en dat hy geslaan is totdat hy sy bewussyn verloor het. “Hulle was soos diere,” het hy gesê. Hy stort vandag steeds ʼn dosyn keer per dag.

ʼn Getuie wat onder die skuilnaam Sapir getuig het, het in die droë gras naby die feesterrein weggekruip terwyl sowat honderd Hamas-terroriste deur die gebied beweeg het, besig om wapens en gevange vroue uit te ruil. Van ʼn paar meter af het sy gekyk hoe een van hulle ʼn vrou se borste vermink terwyl sy nog lewendig was en haar toe aan ʼn ander aanvaller oorhandig het. “Sy was nog lewendig,” het Sapir vertel. Die man wat oorgeneem het, het

haar toe verkrag en haar in die kop geskiet terwyl hy steeds besig was. Sapir het hierdie weergawe kort ná die bloedbad aan die Israeliese polisie gegee en het dit daardie Desember voor die Verenigde Nasies herhaal.

Nog ʼn getuie, wat onder die Nova-verhoog weggekruip het, het gekyk hoe ʼn ander vrou naby ʼn geparkeerde motor veg om haar klere aan te hou. Toe sy nie ophou om weerstand te bied nie, het die mans haar grond toe gedwing. Een van hulle het haar met ʼn graaf vermoor, en haar kop het oor die grond gerol. Dieselfde getuie het gekyk hoe ʼn ander vrou vir wat vir hom soos ʼn uur gevoel het deur ʼn groep terroriste een na die ander verkrag word, voordat haar aanvallers haar geskiet het terwyl hulle gelag het. Hy het homself later met ʼn derde slagoffer se bloed besmeer en roerloos tussen die liggame gelê totdat dit veilig was om te beweeg. Hy vra vandag nog in sy drome vir die vroue om verskoning.

ʼn Selektiewe woede

Tog, ten spyte van ʼn verslag van 282 bladsye wat op twee jaar se dokumentasie gebou is, wil ʼn groot deel van die wêreld steeds nie hierdie Israeli’s glo nie. Dit pas nie die narratief nie.

Kyk maar na die tydsberekening. Die dag voordat “Silenced No More” vrygestel is, het die New York Times ʼn rubriek deur Nicholas Kristof gepubliseer waarin wydverspreide seksuele misbruik van Palestynse aangehoudenes deur Israeliese veiligheidsmagte beweer is, insluitend ʼn bewering dat wagte honde opgelei het om gevangenes te verkrag. Kristof het op twee bronne gesteun om daardie spesifieke bewering te staaf: ʼn verslag van Euro-Med Human Rights Monitor (ʼn organisasie wie se stigter reeds in 2013 deur Israel geïdentifiseer is as een van Hamas se hoofoperateurs in Europa), en ʼn plasing wat wyd en vinnig versprei het deur Shaiel Ben-Ephraim, ʼn voormalige nadoktorale genoot aan UCLA wat homself nou as ʼn geopolitieke ontleder beskryf.

Kom ons fokus vir ʼn oomblik op Ben-Ephraim. In ʼn potgooi in April het hy beweer dat hy met twee wagte gepraat het. Een het aangevoer dat hy self die geweld aanskou het. Die ander een het bloot van iemand anders daarvan gehoor. Dis belangrik om daarop te let dat Ben-Ephraim destyds erken het dat die bewering onbevestig was. Daardie waarskuwing het egter verdwyn namate die storie versprei het – eers deur aanlyn kommentators, toe in die Euro-Med-verslag self, en uiteindelik in Kristof se rubriek, waar twee oënskynlik afsonderlike bronne aan die bewering die illusie van onafhanklike bevestiging gegee het. Albei het teruggelei na dieselfde twee anonieme wagte.

Hondegedragkenners, veeartse en diere-opleiers was dit egter eens: ʼn hond kan nie opgelei word om ʼn seksuele aanval op ʼn menslike teiken uit te voer nie. En die New York Times kon nie ʼn enkele spesialis na vore bring wat bereid was om die teendeel aan te voer nie.

Geen name nie. Geen datums nie. Geen video’s nie. Geen forensiese getuienis nie. Geen spesialis nie. En tog is dit gepubliseer, presies die dag voordat twee jaar se gedokumenteerde, leuenverklikker-bevestigde Hamas-gruweldade die publiek bereik het. Die Times sê hy het nie geweet die kommissie se verslag is op pad nie. Kritici is daarvan oortuig dat die tydsberekening geen toeval was nie. Hoe dit ook al sy, die ironie bly staan.

Vergelyk dit met die geval van Jamal Hussein Ahmad Radi en sy agttienjarige seun Abdallah, albei Hamas-operateurs wat deur Israeliese magte gevange geneem is in Gaza. Pa en seun het op kamera kalm beskryf hoe hulle by burgerlike huise in die kibboets Nir Oz ingebreek het, vroue verkrag het en hulle daarna vermoor het. “Ek het twee mense vermoor, ek het twee mense verkrag, en ek het by vyf huise ingebreek,” het die seun uit sy eie en sonder berou vertel. Manne met name. Opgeneemde bekentenisse. Stawende misdaadtonele. Daardie storie het skaars ʼn rimpeling buite Israel veroorsaak.

Dit is die patroon. Anonieme, ongestaafde bewerings teen Israel reis om die wêreld voordat die waarheid eers kans kry om sy skoene aan te trek. Gedokumenteerde, belyde Hamas-misdade teen Israeliese vroue sink sonder ʼn spoor.

Dit is ook opmerklik dat Hamas se wreedheid teenoor vroue nooit by Israel se grens opgehou het nie. Oor die afgelope weke het vroue in Gaza begin om seksuele uitbuiting deur mans binne Hamas se eie geledere te beskryf: misbruik wat verruil word vir kos en behuisingskoepons, weduwees wat in stilte ingedwing word deur dieselfde mans wat beweer hulle is die beskermhere. Selfs die vroue vir wie Hamas beweer hulle veg, is nie veilig teen hulle nie. Maar daardie storie sukkel ook om ʼn gehoor te vind wat bereid is om te luister.

Evyatar David is op 7 Oktober 2023 tydiens die Hamas-aanval ontvoer. (FOTO:AFP)

Dit is wat “Silenced No More” anderkant enige enkele daad van wreedheid dokumenteer. Die kommissie het bevind dat die aanvalle uitgevoer is onder ʼn eksplisiete Hamas-beleid, een wat die groep se eie leiers hardop uitgespreek het: om aanvalle soos 7 Oktober weer en weer te herhaal totdat Israel uitgeroei is. Daar is geen anonieme wag nodig om daardie saak te maak nie, geen NRO-verslag om op te steun nie. Hamas het dit self gesê, in hul eie woorde, dit toe verfilm en opgelaai sodat die wêreld geen verskoning sou hê om nie te kyk nie.

Hulle steek nie weg wat hulle gedoen het nie. Hulle is trots daarop. En hulle het beloof, sonder om verskoning te vra, om dit weer te doen.

Die plig om te praat

Wanneer die wêreld kies om sy oë te sluit, word die blote vertel van die waarheid ʼn versetdaad.

Ek wil steeds nie hierdie artikels skryf nie. Maar as die oorlewendes die moed kan vind om te praat, het ons nie die reg om weens ongemak te swyg nie. Die bewyse is daar – op skrif, op kamera, en in die bloed van die onskuldiges. Niemand kan eendag sê hulle het nie geweet nie.

Daarom skryf ek. Want die slagoffers het nie meer ʼn stem nie, maar die waarheid het wel.

· Ilse Strauss woon saam met haar gesin in Jerusalem, Israel. Sy dien as die direkteur van internasionale ontwikkeling by Bridges for Peace, ʼn Christenorganisasie van vrywilligers wêreldwyd wat verhoudings bou tussen Christene en Jode, en het ʼn meestersgraad in Judeo-Christelike Sinergisme. Sy is gedurende Julie en Augustus op ’n spreektoer in die Kaap sowel as Namibië. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na info@rimontrust.com


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Hoof foto verkry vanaf Freepik; slegs vir illustrasie doeleindes
Inhoud fotos verkry vanaf oorsponklike artikel in Maroela Media
Datum gepubliseer: 02/07/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here