Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Dit is 1969. Die land is Laos. Frank Gray, ’n jong gelowige van Brittanje wat later een van Far East Broadcasting Association (FEBA) International se direkteure sou word, dien as ’n vrywilliger by Lao National Radio. Hy is getuie van die uitwerking wat die organisasie het. Mense kom van die berge af na die radiostasie vir hulp: Hulle het na die FEBA-uitsendings uit Manila geluister en besluit om Christene te word. Is daar iemand wat hulle kan kom leer hoe om dit te doen? Toe sendelinge en pastore daardie dorpe besoek, tref hulle gesinne aan wat gereed is om Christus te ontvang. Totale transformasie volg – dorpenaars word van opiumverslawing genees en mense begin groente aanplant om te verkoop. Dit is slegs een deel van die Hmong se wonderbaarlike verhaal, maar wie is die Hmong?

Verspreid oor die hele wêreld
Die Hmong is ’n minderheidsgroep met hul oorsprong in China, reeds so vroeg as 2 700 v.C. Gedurende die 19de eeu het van die Hmong na die bergagtige gebiede van Noord-Thailand, Laos en Viëtnam getrek, waar hulle steeds woon. In die nasleep van die Viëtnam-oorlog het baie Hmong-vlugtelinge hulle in Amerika, Australië, Frankryk en ander lande gevestig. Vandag is die totale Hmong-bevolking ongeveer 12 miljoen mense.

In die skadu van geeste
Animistiese en voorvaderaanbidding lê aan die hart van die Hmong-godsdienstradisie. Hulle glo dat dinge ’n gees het en dat die geestelike wêreld saam met die fisiese wêreld bestaan – met die krag om ’n invloed daarop te hê. ’n Sjamaan (tradisionele geestelike geneser) is ’n figuur wat eerbiedig word in hulle samelewing, want hulle glo dat hierdie persoon deur geestelike magte gekies word en as ’n brug tussen die twee wêrelde dien. Die afgeleë dorpies wat oor die berge versprei is asook die sterk mondelinge tradisie maak dit vir hulle moeilik om ’n wyer wêreldbeskouing te verkry (geskrewe Hmong kom eers ±1956 tot stand). Dit is waar kortgolfradio inkom.


Chong (John) Lee, die eerste Hmong-uitsaaier vir FEBA, in 1973 as student aan die Bybelskool in Vientiane.

Wanneer die skaduwee lig
FEBA het in 1954 Lao-programme begin uitsaai, waarna die Hmong ook kon luister totdat die Hmong-uitsendings in 1970 beskikbaar geword het. Dit is slegs deur FEBA se stasie in Manila uitgesaai. In 1977 het Frank Gray en John Lee, ’n Hmong-vlugteling in Amerika wat later ’n legende in die FEBA-uitsaaiwese sou word, egter Hmong-uitsendings begin vervaardig. Hulle was albei begeester oor uitsendings wat deur plaaslike inwoners aan hulle eie mense in hul eie taal gedoen word. Lee het in ’n Hmong-dorpie in Laos grootgeword en het die kultuur verstaan en geweet hoe om die Evangelie so oor te dra dat dit hulle harte sou bereik. Die uitwerking was baie meer dramaties as wat hulle kon droom. “Die Viëtnamese regering was bang omdat so baie Hmong-mense Christene geword het,” vertel Gray. “Hulle het baie propaganda versprei wat mense ontmoedig het om na die uitsendings te luister. Daar was meer as 100 000 Hmong wat Christene geword het.”

Lee het sy luisteraars van die Lam se Boek van die Lewe vertel, waarin jou naam opgeskryf word sodra jy besluit om Jesus as Verlosser aan te neem. Lee het op ’n dag opgedaag met ’n massiewe pak papiere met ongeveer 300 000 name van Hmong-luisteraars wat wou seker maak dat hulle name in die Boek van die Lewe opgeskryf is!

Pastoor Lee het as FEBA se Hmong-uitsaaier gedien vanaf 1977 tot 2002, toe hy ’n noodlottige hartaanval gehad het.


Phairot, FEBA se huidige Hmong-uitsaaier, staan die meeste oggende teen dagbreek op om die Goeie Nuus uit te saai.

Die storie gaan voort…
“Hou asseblief aan om God se Woord te verkondig,” het ’n Hmong-luisteraar onlangs geskryf. “Julle boodskappe gee ons hoop en het duisende na die Here toe gelei. Geen sendeling kan ons in die berge bereik nie, maar FEBA kan! Julle programme is baie belangrik. Ons wag elke dag vir die uitsending.”
Phairot, FEBA se huidige Hmong-uitsaaier, staan voor dagbreek op om sy klank- en kameratoerusting op te stel. Sy uur lange program word dan regstreeks op sosialemedia-kanale uitgesaai. Elke program kry meer as 100 000 trefslae van oral in die wêreld en kykers kontak Phairot om hulle stories te deel.
Mee, ’n middeljarige vrou van die noorde van Thailand, kyk na FEBA se program op haar foon. “Nie almal het die heeltyd elektrisiteit in die dorpies nie,” sê sy, “maar byna almal het ’n selfoonsein!” Sy en haar vriende luister na Phairot as deel van hulle daaglikse roetine en bespreek die program daarna. Haar dorpie het onlangs die eerste keer met die Bybel kennis gemaak en mense vind die Bybel nog verwarrend om te lees. Phairot leer hulle egter een uur lank elke dag hoe om God se Woord te interpreteer en deel van hul lewens te maak.

Bereik die wat ongered is
In ’n wêreld wat so verbind is soos ons s’n, is dit vreemd om te dink dat daar nog gemeenskappe is wat op plekke woon wat so afgeleë is dat buitestanders hulle selde, indien ooit, bereik. Tog is elke siel in daardie berge kosbaar vir God. FEBA se missie is om die onbereiktes deur radio en elke ander beskikbare middel te bereik, totdat almal God se Woord gehoor het; die Woord wat die krag het om lewens te transformeer. Die volgende brief van ’n luisteraar aan pastoor Lee gee ’n blik op hierdie transformerende ervaring.

“Ek is so bly dat ek vir jou kan skryf. Ek wou jou net laat weet: Ek en my gesin het besluit om Jesus Christus as ons Here en persoonlike Verlosser te aanvaar nadat ons na jou uitsending geluister en die Evangelie gehoor het. Ons luister elke dag na jou uitsending … Hou aan om uit te saai sodat ons meer uit die Woord van God kan leer. Bid altyd dat ons geloof sal groei, dat ons ander ook na sy Koninkryk sal lei en eendag die Here Jesus Christus van aangesig tot aangesig sal ontmoet.”

Vat hande met FEBA
Indien jy ’n skenking vir hierdie lewensveranderende projek wil maak, besoek asseblief ons webtuiste febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 17/02/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here