Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Die Passiespele in Oberammergau mag dalk op jou emmerskoplys wees, maar dit is ver, duur en vind net elke tiende jaar plaas – wat dit ’n redelik vergesogte droom vir die meeste mense maak. Nader aan die huis bied Hermanus vir die 26ste keer ’n Passiespel in Afrikaans aan en vanjaar vind dit op Goeie Vrydag (29 Maart 2024) in Hermanus se Ou Hawe plaas.

Mees unieke verhoog
Lisma Kotzé, destyds ’n musiekonderwyseres, het die Passiespele 28 jaar gelede begin en met die uitsondering van 2020 tot 2022, het die geleentheid jaarliks plaasgevind – aangebied en vertolk deur plaaslike amateurs. Daar is egter niks amateuragtig aan hierdie produksie nie. Dit is ’n aangrypende gebeurtenis wat Jesus se geboorte, lewe, lyding en sy opstanding passievol uitbeeld. Hierdie gesogte geleentheid word op sekerlik een van die mees unieke en ongeëwenaarde verhoë ter wêreld opgevoer – die gevaarlike, hoë rotshange van Hermanus se Ou Hawe.

Hoogtepunt vir toeskouers
Vanjaar beloof dit om weer ’n hoogtepunt op Hermanus se kalender te wees. Mense kom van heinde en verre en selfs uit die buiteland om op Goeie Vrydag die Passiespel by te woon. Die hervatting van die Passiespel in 2023 ná drie jaar se afwesigheid, was ’n uiters geseënde geleentheid, met nie eens die reën wat die deelnemers óf die toeskouers kon weghou nie!

’n Verhoog in die natuur
Die voorprogram begin reeds om 18:00 met die Novas Vitae-lofdansers en plaaslike gaskunstenaar, Fanie de Jager, wat die gehoor om 19:15 sal vermaak. Die opvoering volg direk daarna om 20:00 wanneer die munisipale beamptes alle ligte rondom die Ou Hawe afskakel sodat die 90 minute lange vertoning in die donker kan begin, met slegs ’n kollig, die maan en laser-effekte as beligting. Die spelers is tussen die ouderdomme van 4 en 83 jaar oud en gebruik die ruwe rotse en somtyds ook die water as hulle verhoog.

Uitstekende musiek
Die klankstelsel is van die beste en sorg daarvoor dat die musiek die Passiespel op ’n gepaste manier aan die toeskouers uitbeeld sodat hulle ’n diep geestelike ervaring kan beleef. Musiek van Richard Strauss, Mozart se klarinetconcerto, die plaaslike Pro Musica-koor en die Worlds Greatest Classics van Vivaldi word onder meer gebruik.

Maak seker jy bespreek jou kaartjie by Computicket. Kaartjies is ook by die ingang te koop op die aand van die vertoning. Meer inligting is beskikbaar op Facebook (Hermanus Passiespel).

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 17/02/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here