Geskryf deur: Nathaniel Isaacs
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
My ouers het mekaar in die kerk ontmoet en ek het grootgeword in die huis van die Here. Maar die duiwel het ingekruip en hulle het geskei toe ek agt jaar oud was. Toe was dit net ek, my ma en my twee ouer susters. My pa was die enigste manlike rolmodel wat ek gehad het, en hy het ons net gelos. Dit het my diep seergemaak en ek het baie teruggetrokke geraak.
’n Bababoetie
Toe ek tien jaar oud was, het my ma ’n man ontmoet en met hom begin uitgaan, maar na ’n rukkie het hy ook gegaan. Ná hulle uitmekaar is, het sy uitgevind sy is swanger. Ons was so opgewonde. “Dit móét ’n seuntjie wees,” het ek gesê, en dit was! My ma en pa se egskeiding was ook moeilik vir my susters en hulle het begin rook en alkohol drink. My ma was baie streng en het nie sulke gedrag toegelaat nie. So my susters het by my pa gaan woon, hy het alles toegelaat. Persoonlik het ek nie van die chaos gehou nie, so ek het by my ma en my boetie gebly.
Die dag wat alles verander het
Een Saterdag moes my ma oortyd werk en ek het na my boetie gekyk. Ek was 15 jaar oud en hy was amper vyf jaar oud. Hy het buite met sy maats gespeel en ek was op my selfoon besig om liedjies af te laai toe ek skielik ’n harde slag hoor. Ek het dadelik geweet iets is fout. Ek het buitentoe gehardloop en gesien hoe my boetie bewusteloos in die pad lê. ’n Motor het hom getref. Ek het iemand gekry om my ma te bel. Toe sy daar aankom het sy na my gekyk en gesê: “Dit is jou skuld.” ’n Paar minute later het die paramedici Zach dood verklaar. Ek het my boetie verloor.
Soeke na verligting van die pyn
Na dit het ek en my ma opgehou om met mekaar te praat. Klein dingetjies het haar ontstel en sy het dit op my uitgehaal. Die skuldgevoel het swaar op my gedruk, maar wat my die meeste gepynig het, was om elke aand te hoor hoe my ma haarself aan die slaap huil. Toe ek teruggaan skool toe het ek begin uithang met kinders wat baie moeilikheid gemaak het en sigarette en dagga gerook het. Om my gedagtes van dinge by die huis af te kry, het ek besluit om dit ook te probeer.
Verslawing neem oor
Kort voor lank het ek verslaaf geraak aan dagga, dit het my gehelp slaap. Daardie dag het aanhoudend in my kop herhaal, en ek het my ma se woorde oor en oor gehoor: “Dit is jou skuld.” Ek het ook begin drink. My ma het gesien wat gebeur, maar sy het niks gesê nie. Soms, wanneer ek gedrink het, was daar oomblikke wat ek amper vergeet het dat ek my broer verloor het. Lateraan het ek begin dwelms gebruik en net gedoen wat ook al ek wou. “Môre is aan niemand belowe nie,” was die leuse waarvolgens ek gelewe het. Ek moes ’n paar grade oor doen en na skool het dit net erger geword. Ek het verskeie werke verloor omdat ek dronk was.
Die man op die bus
In 2022 het ek by ’n klerewinkel begin werk. Daar was ’n ou wat elke aand saam met my op die bus huis toe gery het en met my oor die Here gepraat het. Hy het my na sy selgroep genooi. Ek het vir hom gesê dat ek nie gereed is nie en dat ek onheilig leef. Ek het gevoel dat ek te ver van God af is. Maar hierdie man op die bus het aangehou om my elke aand vir drie maande lank uit te nooi. Ek het nog elke nou en dan kerk toe gegaan wanneer ek baie ver en vuil gevoel het, net om ’n bietjie beter te voel. Maar na die tyd het ek net weer teruggekeer na my ou gewoontes. Die dwelms het my gehelp om beter te voel, maar die volgende dag was altyd baie sleg. Op ’n dag het ek weer baie vuil begin voel, so ek het vir hierdie ou ’n boodskap gestuur en gevra of ek saam met hom na sy selgroep kon gaan.
’n Ontmoeting met die God van liefde
Toe ek by die selgroep aankom het ons almal eers net gesels, dit was lekker. Toe het hulle die ligte afgesit en opgestaan. Ek het daar gesit en na hulle gekyk, dit was so mooi om te sien hoe die mense vir God sing. Ek het die teenwoordigheid van God in die atmosfeer gevoel. Terwyl hulle nog besig was om God te aanbid het die selgroepleier het met my kom praat. Ek kan nie presies onthou wat hy gesê het nie, maar dit was iets wat net God kon weet. Ek het besef dat God my steeds liefhet en daardie aand het ek Jesus in my hart ontvang. Dit was in Junie 2022, ek was 24 jaar oud – en dit was die eerste nag in amper tien jaar wat ek rustig geslaap het.
Vryheid van verslawing
Dit was ongelooflik, ek kon nie wag om terug te gaan na die selgroep nie. Hierdie Jesus het so ’n vreugde in my hart gebring, ’n vreugde waarvoor ek nie hoef te drink of te rook nie. Ek het dit net in my gehad. Ek het probeer om self op te hou met my verslawings, maar ek kon net nie. ’n Paar weke later het ek vir die leier gesê dat ek gebed nodig het. Ná daardie gebed het my lippe nooit weer aan alkohol geraak nie. Met dagga en sigarette het dit my sowat drie maande geneem om dit heeltemal te los. Daarna was ek heeltemal uitverkoop vir Jesus. Ek het my hele hart vir Hom gegee, my hele lewe.
Nuwe lewe en nuwe hoop
Die Here het baie dinge vir my herstel. Vandag is ek ’n mentor vir vyf jong mans, almal 15 jaar oud, dieselfde ouderdom wat my boetie vandag sou gewees het. Die Here het vir my vyf klein broers gegee. Hy het ook vir my rolmodelle gegee, mans na wie ek kan opkyk. Ek is nou 26, maar elke Vrydagaand wanneer ek by my kerk se jeug dien voel ek soos ’n 16-jarige. Ek het nooit my tienerjare geniet nie, ek wou net daarvan ontsnap, maar nou is dit asof die Here my tyd aan my teruggegee het. Ek het myself vergewe vir wat met my broer gebeur het, want Jesus het my reeds vergewe. Ek verlang steeds na my boetie, maar ek weet dat ek hemel toe gaan en dat Zach daar vir my wag. Ek sal Jesus vir niks in hierdie wêreld verruil nie. My skatte is in die hemel opgestoor.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 10/01/2025
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.