Geskryf deur:  Louis Brittz
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die visioen in Openbaring 7 weerklink steeds oor die aarde en in die hemele: Elke volk, stam en taal sal voor die troon van Christus buig en Hom aanbid. Ons Afrikaanses is natuurlik hierby ingesluit! Dit klink asof dit lekker chaos gaan wees in die hemel, wanneer elke volk die Here daar in hulle eie taal saam aanbid. Iewers in die chaos gaan Afrikaans luid opklink! Dis ons moedertaal waarmee ons diep uit die hart – dieper as met ’n aangenome taal – ons liefde vir Hom kan uitdruk. Miskien is dit waarom ons in Afrikaans bly sing: Die Here verg ons mees opregte aanbidding. En dit gebeur net in die taal waarin ’n mens droom, vry, kwaadword en treur.

Vernuwing in aanbidding
“Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here” roep die Psalm-digter ook in Psalm 98:1 uit, en ons roeping raak duidelik. Elke generasie het ’n klank; ’n kreet. Elke nuwe geslag dink en droom in nuwe idiome, en so vernuwe ons gedigte en liedere ook. Ons wil ons allerbeste vir God gee – dit is wat ware aanbidding behels – en daarom antwoord ons op die roepstem om nuwe liedere in Afrikaans te skep.

Geskuur, geskaaf en getoets Dit gebeur nie vanself nie… liedjies moet geskuur en geskaaf word sodat dit maklik sing. Dit moet getoets word aan die Bybel en deur ’n groep wat dit saam probeer sing. Dit moet opgeneem en uitgeskryf word in speelbare formaat. Dit moet elke denkbare tema in lof en aanbidding verwoord, letterlik “psalms, lofgesange en ander geestelike liedere” wees soos Paulus ons aanraai om te sing (Ef 5:19). En daar moet iets wees vir verskillende ouderdomme, kulture en style.

Nuwe Lof se roeping
Ons roeping by Nuwe Lof is inderdaad uitdagend, maar die meeste dinge wat die moeite werd is, is redelik veeleisend. Ons gebed is dat Nuwe Lof ’n tuiste kan wees waar elke Afrikaanse kerk iets nuuts kan vind om te sing wat kan bydra tot hulle ryk en diep aanbidding voor God se troon. Daardie dag voor sy troon gaan die Afrikaanse Kerk nie met ’n mond vol tande staan nie. Ek hoor dikwels: “Hulle weet nie wat ons weet nie”… Wel, ons weet ons skryf en sing heeltyd nuwe lof- en aanbiddingsmusiek in Afrikaans – en die beste lê nog voor!

Wat is Nuwe Lof?
Die medewerkers wat saam www.nuwelof.co.za die lig laat sien, se missie is om die Afrikaanse Kerk te bemagtig om aan te hou nuwe liedere sing en speel tot God se eer alleen. Ook om hulpmiddele te skep sodat gemeentes dit maklik kan begelei. Groepe liedjieskrywers kom bymekaar en skryf saam aan nuwe musiek vir die webwerf. Opnames word gemaak sodat gemeentes kan hoor hoe dit klink met ’n vol orkes en met samesang. Elke liedjie se akkoorde, melodielyn-bladmusiek (lead sheet), liriekvideo en begeleidingsnitte (tracks) word beskikbaar gestel om gemeentes te help met die sing en speel daarvan. Louis Brittz en Retief Burger is die moderators van die webwerf en sameroepers van die groepe skrywers.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 11/01/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here