Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: www.incontextinternational.org
Die Logos Hope van die Duitse Christelike welsynsorganisasie GBA Ships (Gute Bücher für Alle, of in Afrikaans, Goeie Boeke vir Almal) het op 27 Oktober in Antsiranana, Madagaskar, aangekom. Die skip het van Dar-es-Salaam-hawe in Tanzanië gereis, waar dit tussen 6 en 22 Oktober vasgemeer was nadat dit Mombasa, Kenia vir die eerste keer in sy geskiedenis van 23 Augustus tot 4 Oktober besoek het.
Die bemanning het beplan om die nuwe gemeenskappe met wie hulle in Kenia in aanraking sou kom, te dien, maar daar was ook opgewondenheid oor wat die bemanningslede van 60 verskillende nasionaliteite van diegene in Kenia en die ander Afrika-lande waar hulle besoek sou aflê, sou leer. Logos Hope se visie vir hierdie Afrika-been van die reis om die wêreld was daarop gerig om die storie van Afrika te vier, soos “vertel deur Afrikane uit alle vlakke van die samelewing, wat bereid is om leiding te neem en betrokke te raak by inisiatiewe wat vrede bevorder en hoop in Afrika en oor die wêreld heen deel”. Die volgende hawe waar Logos Hope gaan aandoen, is Maputo in Mosambiek, waar dit vanaf 19 Desember vir die publiek toeganklik sal wees.
Logos Hope het reeds 146 hawens in 81 lande en gebiede besoek tydens die 19 jaar waarin dit in bedryf is. Die skip, bekend as die grootste drywende boekeskou ter wêreld, het al meer as 9,6 miljoen besoekers aan boord ontvang en daar is reeds meer as 10 miljoen boeke aan boord verkoop. Benewens die boekeskou wat vir die publiek toeganklik is, bied die skip ook geleenthede aan wat gerig is op die fasilitering van vennootskappe tussen leiers uit verskillende sektore van die gemeenskap met die doel om nasies se omstandighede te verbeter.
Logos Hope se bemanning verlaat ook die skip om tyd in gemeenskappe deur te bring, waar hulle saam met plaaslike vennote werk, byvoorbeeld met uitreikaktiwiteite soos huisbou, oogtoetse en tronkbesoeke, maar ook deur die hou van opvoedkundige seminare oor onderwerpe soos geestesgesondheid, beroeps- en gemeenskapsontwikkeling.
In Kenia het bemanningslede die organisasie Blue Earth bygestaan met werk om die wortelboomwoude te herstel, wat watergehalte beskerm, ’n skuiling is vir wild, oorstromings verminder en visproduksie verbeter.
Die aktiwiteite en gemeenskapsinteraksie van Logos Hope se bemanning is ’n tydige herinnering aan die talle geleenthede om in Afrika se voorspoed te belê en ons moet God vra vir kreatiewe en volhoubare oplossings waar mense kan saamwerk om oplossings te vind vir die behoeftes van Afrikane. Deur God se genade is daar groot ontvanklikheid vir die Evangelie in baie dele van Afrika, maar volgens die Joshua-projek se definisie word 962 mensegroepe in Afrika steeds as onbereik beskou. Die Christendom word dikwels met blanke koloniste geassosieer en gevolglik was daar weerstand daarteen om dit as ’n ware deel van Afrika-identiteit te aanvaar. Die Christendom het egter lank voor kolonisasie in Afrika bestaan, reeds sedert die eerste eeu en Afrikane was van die vroegste volgelinge van Christus en het prominente teoloë voortgebring. Die Christendom het in die Midde-Ooste ontstaan en het bykans dieselfde tyd na Afrika en Europa versprei. Hierdie geskiedenis moet gevier word en ons kan die toekoms met hoop tegemoet gaan terwyl die Kerk in Afrika dít wat God in hierdie seisoen van ons verwag, betree.
’n Uitdagende area vir Christene is die politieke arena en aangesien baie Afrika-lande in 2024 verkiesings gaan hou, sal daar menige geleentheid vir Christene wees om hul tyd en talente tot voordeel van die gemeenskap in te span. Op 19 September vanjaar het president Paul Kagame van Ruanda bevestig dat hy homself verkiesbaar gaan stel tot herverkiesing vir ’n vierde termyn in die presidensiële verkiesing in Augustus 2024. In elke verkiesing waarin hy sedert 2003 meegeding het, het hy meer as 93% van die stemme gewen. Daar bestaan egter twyfel tot watter mate hierdie verkiesings vry en regverdig was. Hoewel ’n vierde termyn ongekend sal wees, sal die grondwetlike wysigings wat in Desember 2015 goedgekeur is, hom toelaat om aan ’n verdere twee termyne ná die komende verkiesing deel te neem.
Sommige meen dat demokrasie ’n Westerse instelling is en dat die vele militêre staatsgrepe bewys lewer dat demokrasie nie in Afrika werk nie. Tog het ’n studie van Afrobarometer* wat in Januarie 2023 gepubliseer is, bevind dat burgers van Afrika meestal aan demokrasie toegewyd is. Ondersteuning vir verkiesings het dalk tot ’n mate oor die laaste dekade verflou, maar ondersteuning vir die oppergesag van die reg en aanspreeklikheid het toegeneem. Afrikane het ook sterk en toenemende steun vir beperkte termyne getoon. Burgers van Afrika in die ouderdomsgroep 18-30 het ’n groter toewyding tot demokrasie as hul ouers ten opsigte van sekere faktore soos die belangrikheid van veelpartymededinging getoon. Die jeug het beduidende laer vlakke van tevredenheid met die huidige werking van demokrasie in hul lande getoon.
Daar is geen perfekte politieke stelsel nie en die gebrokenheid van die mensdom beteken dat sonde selfs ’n stelsel wat in teorie goed werk, kan infiltreer en ondermyn en die gewigte wat ’n stelsel in plek hou, in so ’n mate kan verswak dat die stelsel in die praktyk heeltemal anders lyk as in die teorie. Mense raak gefrustreerd met sogenaamde demokratiese leiers wat toenemend outokraties word wanneer hulle aan bewind kom, wat aan mag vasklou deur grondwette te verander om hulle te pas, en in weelde leef terwyl die meerderheid van hul bevolking in armoede leef, en hulle enige opposisie of andersdenkende perspektiewe onderdruk. Frustrasie bou ook op teenoor die “pioniers” en sogenaamde “verdedigers van demokrasie”, naamlik die regerings in Noord-Amerika en Wes-Europa, wat enersyds in die bevordering van goeie regering en die uitwissing van armoede belê, maar andersyds toenemend outokratiese regerings erken en ter wille van hul eie ekonomiese belange die oë sluit vir korrupsie, gierigheid, verraad en menseregteskendings deur hierdie regerings.
Politiek in ons gebroke wêreld is uiters ingewikkeld en sal nooit volkome wees wat dit behoort te wees nie. Ons word egter daaraan herinner dat, hoewel ons aan menslike gesag op aarde onderworpe is, ons as gelowiges uiteindelik onder die heerskappy van God staan; Hy wat in alle opsigte perfek is. Hy is regverdig, magtig, getrou en opreg, maar ook genadig en vol deernis en gee om vir elkeen wat behoeftig, kwesbaar, verlore en in pyn is. Gelowiges kan veilig onder Sy leiding daarna streef om deur God gebruik te word om tot seën te wees in ons gemeenskappe, lande en gebiede en ons deel te doen daar waarheen God ons lei. In plaas daarvan om pessimisties en apaties te wees, kan ons deelneem aan verkiesings en ’n voorbeeld stel deur met integriteit en getrouheid op te tree. Nog belangriker, ons kan bid vir ons leiers, ons lande en die groter streek en kontinent sodat God se wil kan geskied.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat Logos Hope ’n groot uitwerking sal hê op lewens in die oorblywende stede in Afrika waaraan besoek gebring gaan word en dat God in die lewens van die bemanning tydens hulle diens op die skip sal werk;
- dat die Kerk in Afrika sal intree daar waar God ons hierdie seisoen heen roep, met ’n groter wordende kennis van God se Woord, toegerus deur die Heilige Gees, en dat die Evangelie met die 962 onbereikte mensegroepe gedeel sal word; en
- dat God se wil sal geskied waar verkiesings in Afrika voorlê en dat Christene hul gemeenskappe met integriteit, liefde en getrouheid sal dien.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 03/11/2023
Foto: en.wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.