Geskryf deur: Lourieke Haller Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Wanneer die meeste mense die woorde, “essensiële olies” hoor dink hulle aan lekkerruikolietjies – maar dié olies het soveel meer om die lyf. Min mense besef die uitsonderlike medisinale waarde van hierdie geskenk wat God vir ons gegee het. Ek het met Talita Flinspach, die stigter en mede-eienaar van Aviva-olies, gesels oor die wonder van hierdie antieke olies.

Wat is die geheim van essensiële olies?
Die geheim lê in die feit dat essensiële olies natuurlik is, maar ’n farmaseutiese kwaliteit het wat ’n kragtige genesende uitwerking op jou liggaam of selfs jou gemoedstoestand kan hê. Die Vader het plante geskape met wonderlike genesende eienskappe wat jou liggaam kan ondersteun. Van hierdie eienskappe mag anti-inflammatories, antibakterieel, swamdodend of antisepties van aard wees. Selfs diere weet dit en gaan vreet aan sekere plante as hulle kwale het! Kaneel het byvoorbeeld ’n antibakteriële uitwerking en malva-olie (geranium) kan help vir velprobleme en aknee.

In Suid-Afrika word essensiële olies gereguleer as “komplementêre medisyne”. Dit is iets wat mense nie weet nie. Dit word beskou as medisyne. Jy kan dus hierdie komplementêre olie saam met ander medikasie gebruik. Jy kan byvoorbeeld jou pilletjie vir ’n angstoestand of depressie neem, maar jy kan olies soos roos, laventel of ylang-ylang daarmee saam gebruik wat ook sal bydra om jou te kalmeer of die depressie te verlig. Enige sitrusolies sal jou gemoed lig; dit wek die brein op en verfris jou en laat jou vrolik voel. Daar is arbeidsterapeute wat essensiële olies met groot sukses vir kognitiewe beserings in pasiënte gebruik.

Hoe werk dit?
Dit word in jou bloedstroom opgeneem waar dit dan in die liggaam sy werk doen. Dit kan aan die vel gesmeer word – dit moet verdun word met draerolies soos bv. kokosneut-, olyf- of flassaadolie omdat dit so ’n gekonsentreerde chemiese middel is. ’n Mens kan ’n druppel of twee op jou kussing sit. Sekere olies het ’n beter uitwerking as jy daarmee stoom. Wanneer jy dit inasem, stimuleer die reukmolekules die brein direk via die reuksenuwees en beïnvloed die amigdala, die emosionele sentrum van die brein. Laventel kan jy byvoorbeeld aansmeer vir ’n hoofpyn, maar ook vir die ontspannende effek daarvan in jou badwater voeg wanneer jy gespanne is. Vir brongitis kan jy bloekom- of pepermentolie in ’n bak met kookwater drup en jouself “stoom” om die bors oop te kry. ’n Mens kan natuurlik ook die olie in ’n kersbrander verhit.

Hoe word die essensiële olies gemaak?
Die meeste olies word bekom deur stoomdistillasie. Die plante (sade/blomme/blare) gaan deur ’n stoomproses om die olie te onttrek. Dit kan ook deur ’n kouepersproses of ’n infusiemetode bekom word.

Wat is die geskiedenis van hierdie essensiële ‘antieke’ olies?
Dit is al in Bybelse tye in gebruik, die wyse manne het vir Jesus mirre en wierook as ’n geskenk gebring. Plante as medisyne is al wat hulle in antieke tye gehad het. In die Romeinse Ryk het die geleerdes die plante bestudeer vir moontlike medisinale gebruike. Baie van ons mediese kennis vandag is te danke aan hulle navorsing. In die Romeinse tyd het die studente byvoorbeeld met ’n roosmaryntakkie agter die oor rondgeloop, want hulle het ontdek dit verbeter jou geheue. Moderne navorsing met roosmaryn dui daarop dat dit help om nuwe breinbane te vorm wanneer jy dit inasem. Met die navorsing op demensiepasiënte is onthul dat pasiënte wat 20 minute se inhalasie per dag ontvang het, beter gevaar het met hulle geheuetoetse as dié wat nie die roosmaryn ontvang het nie. Onthou, selfs in ons moderne medisyne word die chemiese komponente van plante steeds in ons medisyne gebruik. Hoesstrope bevat dikwels plantekstrakte omdat dit ’n anti-inflammatoriese werking het.

Wat is die wonders van antieke roosolie?
Roosolie is ’n natuurlike pynverligter, en effektief vir die verligting van menstruele krampe. Dit is veral in die Midde-Ooste gebruik vir pynverligting. Dit is uiters geskik vir chroniese pyn waar ’n mens nie pynmedikasie wil gebruik waaraan jy verslaaf kan word nie. Roosolie kan ook baie suksesvol as teenmiddel vir depressie gebruik word.

Waar kry Aviva sy essensiële olies vandaan?
Suid-Afrika is ’n baie groot produsent van essensiële olies, die meeste van die sitrusolies kom van hier. Die lemoenbloeiselolie (neroli oil) is van Spanje en die mirre van Oman en Somalië. Omdat Aviva sy olies plaaslik kry, is sy pryse bekostigbaar en heelwat laer as die ingevoerde produkte.

Wat beteken Aviva?
Aviva is ’n Hebreeuse woord wat lentetyd beteken. Vir my is dit ’n aanduiding van nuwe lewe – iets wat ek vertrou elke kliënt sal ontdek en geniet wanneer hulle hierdie Godgegewe geneesmiddel gebruik.

Wie is Talita en Helmut?

Talita het ’n meestersgraad in opvoedkunde, “want alles gaan oor opvoeding (education). Jy kan die wêreld verander deur mense in te lig en op te voed”. Helmut, ’n ingenieur, is haar steunpilaar en die twee is sewe jaar getroud. Hulle het Aviva begin om “integriteit in ’n bottel” te bied sodat mense die medisinale waarde van Aviva se essensiële olies kan benut in die wete dat hierdie olies onverdun en so suiwer moontlik is. Profyt is nie hulle oogmerk nie, maar om mense aan God se natuurlike geskenk bekend te stel en hulle lewenskwaliteit bekostigbaar te verhoog.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 05/08/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here