Geskryf deur: Lourieke Haller

Die stigters van God in Sport, Karien Basson en Tanya Powell het die bekendstelling van hul eerste boek, Luister, God se stem in my lewe onlangs tydens ’n elegante laatontbyt by die 360 Bloemendal in Kaapstad aangebied.

God in Sport (G.I.S.) is deur die twee gestig as ’n platform waar geloof en sport mekaar ontmoet.

Kyk gerus na hierdie video om brokkies van die onderhoude met die atlete wat in die boek verskyn te sien, asook die visie van God in Sport.

Tydens die bekendstelling was die onderhoude met van die sportsterre wat in die boek verskyn beide insiggewend en soms roerend met die atlete én gehoor wat ’n traan of twee moes wegpink.

Die rugbyspeler Ruhan Nel moes ’n paar keer swaar sluk voordat hy die Here uit sy hart kon bedank vir die genade dat hy sy vier maande oue dogtertjie kan druk en vashou – met verwysing na ’n gebeurtenis waarvan hy lesers in die boek vertel. Daar was ook ’n emosionele oomblik toe die Powell-broers, Neil en Jimmy, die voormalige Springbokkaptein, Theuns Stofberg vereer het vir sy nalatenskap en goddelike voorbeeld aan hulle generasie nadat Stofberg tydens sý spreekbeurt hulde gebring het aan die legendariese, Dawie de Villiers en die invloed wat hy op jong spelers gehad het. oud-Springbok-kaptein

Die Paralimpiese naelloper, Anruné Weyers, het haar pasgebore seuntjie saam met haar na die verhoog gebring en met ’n stralende glimlag verklaar dat ’n goue medalje tweede kom in vergelyking met die vreugde om ’n ma te kon word – hoewel sy gesê het dat geen oefenregime so straf is soos om na ’n pasgebore babatjie te kyk nie.

Die sewesspeler Angelo Davids het afrigter Neil Powell, wat langs hom gesit het, met trane bedank vir die invloed wat hy in sy lewe gehad het en dat Powell nie net ’n mentor was nie, maar ook ’n geestelike vader vir hom en soveel van die ander jong spelers is.

Die een atleet na die ander het erkenning gegee aan die belangrike rol wat God in hul lewens gehad het en nog steeds speel, veral wanneer die lewe teleurstellings – soos ’n besering of om nie die span te haal nie – opdis.

Soos Karien egter tydens die onderhoude herhaal het: “God is nie op soek na volmaakte mense nie. Hy soek na dié wat volkome aan Hom oorgegee het en wat ander mense kan inspireer deur hoe hulle hul onvolmaakthede hanteer.”

Die boeke, Luister. God se stem in my lewe en Listen. God’s voice in my life vertel hierdie stories op ’n eerlike en roerende manier. Albei hierdie boeke is op JOY! Gifts beskikbaar teen ’n spesiale boekbekendstellingsprys van R299.

Klik op die skakels hier onder om joune vandag nog te bestel:

LISTEN: God’s voice in my life – joygifts.co.za
LUISTER: God se stem in my lewe – joygifts.co.za

Karien is deel van die Finesse Voelgoed Tydskrif en die redakteur van Vroue wat Glo. Sy is al meer as twintig jaar lank in die mediabedryf betrokke en as bestuurder, skakelbeampte, joernalis en radio- en televisie-aanbieder is sy steeds lief daarvoor om ander se stories te vertel, want die passie vir God en mense is opreg en kom uit haar hart uit.

Tanya se belangstelling in rugby en sport loop diep as peetkind vir die bekende rugbylegende, Uli Schmidt. Sy het ’n graad in biokinetika en was vanaf 2004-2011 ’n biokinetikus aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is die vrou van Neil Powell, die voormalige hoofafrigter van die Blitsbokke en huidige direkteur van rugby by die Haaie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 30/07/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here