Geskryf deur: Katelin van Zyl www.incontextinternational.org Artikelbron:
Rusland het nie op Maandag 17 Julie die Swart See-graaninisiatief, wat sedert Julie 2022 gegeld het, hernu nie. Nadat die Russiese vloot se blokkade stygende kospryse en wydverspreide tekorte in die meeste Midde-Oosterse en Afrika-lande veroorsaak het, het hierdie ooreenkoms, wat op 18 Julie verval het, die Oekraïne toegelaat om graan van sy hawens in die Swart See uit te voer. Die ooreenkoms het kospryse wêreldwyd met ongeveer 20% laat daal en toegelaat dat 57% van die 33 miljoen ton graan wat uitgevoer kon word, ontwikkelende lande bereik.
Die Oekraïne het die Wêreldvoedselprogram van 80% van sy graan voorsien, wat as humanitêre hulp aan Jemen, Afghanistan, Djiboeti, Ethiopië, Soedan, Somalië en Kenia gelewer is. Sedert die graan-ooreenkoms verval het, het koringpryse weer gestyg. Kenia se regering beskou Rusland se onttrekking aan die ooreenkoms as verraad teenoor diegene in droogte geteisterde lande, soos die bevolking aan die horing van Afrika wat een van die ergste droogtes in dekades beleef. ’n Geskatte 50 miljoen mense in Ethiopië, Suid-Soedan, Somalië en Kenia het tans ’n behoefte aan voedselhulp as gevolg van jare se gebrekkige reënval.
Terwyl die Verenigde Nasies (VN) Rusland veroordeel en gewaarsku het dat miljoene van die wêreld se armstes “die prys sal betaal”, het Rusland die Weste daarvan beskuldig dat hulle nie hul kant van die ooreenkoms eerbiedig het nie. Rusland het gesê dat hulle die ooreenkoms sal hernu indien hul voorwaardes nagekom word. Rusland het onttrek ’n paar uur nadat die Oekraïense vloot en SBU-veiligheidsdienste ’n hommeltuigaanval op die enigste brug (Kerchbrug) wat Rusland met die Krimskiereiland verbind, geloods het. Hierdie brug is van kritieke belang vir die Russiese weermag se toevoerlyn. Moskou meld egter nie hierdie aanval as die rede vir die onttrekking nie, maar wel die gebruik van die ooreenkoms om “die eng selfbelang” van die Oekraïne en sy Westerse bondgenote “te dien”, terwyl die uitvoer van Rusland se graan en kunsmis beperk is. Rusland se ambassadeur in Kenia, Dmitry Maksimychev, het te kenne gegee dat die beperking van Russiese uitvoere verantwoordelik is daarvoor dat kos as oorlogswapen deur die Weste gebruik word.
Verlede week het Rusland ’n Rusland-Afrika-beraad gehou, wat op ’n kritieke tyd in die gemeenskaplik voordelige verhouding tussen Rusland en baie van die Afrika-state plaasvind. Rusland het ná die beëindiging van die ooreenkoms herhaaldelik gratis graan aan lae inkomste-lande beloof en gesê dat dit Oekraïense graan kan vervang. Rusland verskaf ook belangrike militêre ondersteuning aan sommige Afrika-lande, veral deur die Wagner-militêre groep blykbaar hul werk in Afrika voortsit. Indien Afrika-lande egter ongelukkig voel ná die beraad, kan hulle dalk begin om hulself van Rusland te distansieer. Die wêreldwye Kerk kan vir Afrika se leiers, sowel as ander besluitnemers in Rusland, die Oekraïne en die Weste bid, dat hulle nederig en wys in hul geopolitieke betrekkinge sal wees sodat dit hul mense tot voordeel sal strek. Die Kerk kan ook bid dat die besluitneming en gedrag van diegene wat bely dat hulle Christene is, tot eer van God sal wees.
Talle hou vol dat Afrika die potensiaal het om die vasteland te voed en hul eie graan en stapelvoedsel te produseer. Tog bly die vasteland afhanklik van ingevoerde graan. Natuurlik het Afrika met vele uitdagings soos klimaatsverandering, onbestendigheid, korrupsie, swak regering, uitbuiting en beperkte toegang tot bemesting en voedselverwerking te kampe. In Nigerië, byvoorbeeld, waar boere probeer om weg te beweeg van die afhanklikheid van ingevoerde koring, lei hoë temperature, onvoorspelbare reënvalpatrone, tesame met geweld tussen bendes, boere en veewagters tot ’n onvermoë om in die aanvraag te voorsien. Aangesien baie streke in Afrika nie geskik is vir koring- en graanverbouing nie, is daar al voorgestel dat vreemde graankosse vervang kan word met plaaslike soorte soos fonio, tef, sorghum, amarant en giers, wat onderbenut word en ’n gesonder dieet kan behels. Groter binnelandse handel in hierdie oeste kan meer werk en inkomste skep. Selfs indien slegs ’n paar Afrika-lande meer landbouprodukte, veral noodsaaklike graan en stapelvoedsel, aan ander lande in Afrika kan voorsien, kan dit tot groot voordeel vir die hele kontinent strek.
Justin Long het onlangs ’n verslag met statistiek oor die Christendom wêreldwyd vrygestel. Die Christelike geloof is tans die mees prominente geloofstelsel in Afrika en daar word voorspel dat dit so sal bly tot in 2050. Afrikane sal ook teen 2050 ’n kwart van die wêreldbevolking uitmaak. Indien die Christendom Bybelse waarhede toepas, behoort dit ook ontwikkeling in die gemeenskap, politiek en ekonomie te weeg te bring. In hierdie konteks word ons ook herinner aan die sendinggeleenthede wat in die landbou gevind kan word. Farming God’s Way is ’n toerustingsmanier wat Afrika deur middel van ’n goddelike en bemagtigende model in die “broodmandjie van die wêreld” wil omskep. Dit is bemoedigend om te sien dat oplossings ten opsigte van voedselsekerheid en armoede in Afrika sigbaar word wanneer God se werkswyse gevolg word. Dis aanvanklik in Zimbabwe op ’n groot kommersiële plaas ontwikkel, waar ’n kombinasie van Bybelbeginsels, bestuursbeginsels en tegnologie toegepas is en wat sedertdien deur boere, NRO’s, kerke en sendelinge dwarsdeur Afrika en ander dele van die wêreld gebruik word.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid vir wysheid en nederigheid onder wêreldleiers om in die beste belang van die mense vir wie God hulle verantwoordelik gemaak het, op te tree;
- dat God landbouleiers in Afrika sal oprig en vir oplossings om in die voedselbehoeftes van mense in ontwikkelende lande te voorsien, veral deur plaaslike en streeksoplossings; en
- dat Christenskap tot ander vorme van ontwikkeling in Afrika sal lei en dat Farming God’s Way groot fisiese en ander geestelike opbrengste sal lewer.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 29/07/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.