Geskryf deur: Geopende Deure SA Artikelbron: JUIG! Tydskrif
In ’n donker stegie laai Ming*, ’n geheime gelowige, swaar bokse in sy motor se kattebak. As hy gevang word, sal hy in hegtenis geneem en waarskynlik tronk toe gestuur word. Hy haal sy foon uit en stuur ’n boodskap aan sy kontakte. “Ek is op pad na die ou plek,” tik hy. Dan skakel hy sy foon af en verwyder die SIM-kaart sodat sy ligging nie opgespoor kan word nie. Niemand hou hom dop nie – behalwe natuurlik die straatkameras wat oral in China is. Die owerhede sou sy bedrywighede as ’n misdaad beskou, aangesien sy vrag onwettige Bybels is.
Digitale vervolging
In China gebruik die owerhede al meer gesofistikeerde tegnologie deur met waarnemingskameras die ongeregistreerde, ondergrondse Kerk te monitor.
In die streek van China waarvandaan Ming kom, vier digitale beheer hoogty. Mense se fone word gemonitor en hulle sosialemedia-toepassings word streng beheer. Daarom is Ming selfs versigtig met sy teks-boodskappe. Enige verkeerde woord kan hom sy vryheid kos.
Ming laai ’n paar bokse in die motor vir sy Bybelsmokkelaktiwiteite.
’n Nuwe begin
Toe Ming ’n Christen geword het, moes hy noodgedwonge na ’n ander stad verhuis en van voor af begin. Later het hy ’n besigheids-eienaar geword, verlief geraak en met ’n pragtige vrou, Hua*, getrou. Hulle het saam ’n huis gebou en ’n dogtertjie, Mei Mei*, gehad.
By die kerk het Ming se geloof in Jesus verdiep. “Om van Jesus te leer, het my laat besef dat my vriende en die gemeenskap by die huis Hom ook nodig het. Die Here het my aangespoor: ‘Gaan terug na jou tuisdorp. Vertel die mense daar van My.’”
Gehoorsaamheid aan die Here
In getroue gehoorsaamheid het Ming alles prysgegee wat hy besit het en teruggetrek na die stad waar elke beweging gemonitor word, die owerhede met ’n ystervuis regeer en bure gedwing word om op mekaar te spioeneer.
Hy het in die geheim begin om klein groepies te lei en gelowiges op onopvallende plekke te ontmoet om God se Woord te bestudeer. Hy het ’n nuwe onderneming saam met ander gelowiges gestig. Dit het as ’n front gedien om Bybels af te lewer. Die besigheid het gedy totdat hul bedrywighede ontbloot is.
Alles verloor vir sy geloof
Ming en sy sakevennote is in hegtenis geneem. Hy is wonder bo wonder vrygelaat en van alle aanklagte vrygespreek, maar hy het sy onderneming en front verloor. Sedert sy arrestasie daag die owerhede dikwels lukraak op om sy huis te deursoek.
Hy het sy vrou en dogter na sy skoonfamilie gestuur om hulle te beskerm. “Ek moes my gesin beskerm,” sê hy. “Maar weens my geloof in Jesus verhinder my skoonpa my nou om my vrou en dogter te sien. Hy plaas druk op ons om te skei.”
Geopende Deure se betrokkenheid
Te midde van alles het God vir broer Hao Ran*, ’n plaaslike vennoot van Geopende Deure, gestuur om saam met Ming te bid, hom te dissipel en hom in sy swaarkry by te staan. “Broer Hao Ran besoek my op ’n gereelde basis en is al jare lank my mentor. Ons bid ten minste twee keer per maand saam en bestudeer die Bybel saam in geloof. Hy gee om en koester my verhouding met die Here.”
Danksy die geskenke en gebede van Geopende Deure-vennote kan gelowiges soos Ming voortgaan om God te dien, selfs al word hulle geloof gemonitor en hulle lewens en vryheid in gevaar gestel.
Gebruik vandag jou vryheid om ingelig te bly en in gebed saam met daardie gelowiges te staan. Besoek opendoors.org.za/afr vir Geopende Deure se digitale kommunikasie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 26/08/2023
Foto’s: © 2023 Geopende Deure Internasionaal. *Name verander en verteenwoordigende foto’s gebruik weens sekuriteitsredes.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.
READ YOUR BIBLE PRAY EVERYDAY AND YOU WILL GROW,GROW,GROW IN SPIRIT TO THE HIGHEST LORD!