Geskryf deur: Almarie du Preez Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die Kaapse winter kan ongenaakbaar wees, veral vir ons reeds kwesbare gemeenskappe. ’n Snoesige winter met basiese items soos skoene en kouse is iets waarvan menige individu slegs kan droom. Daarom is dit wonderlik dat Radio Kaapse Kansel sy middele kon gebruik om luisteraars bewus te maak van die groot nood in hulle plaaslike omgewing met die #WinterWarmerSocksThatRock-veldtog in samewerking met Samaritan’s Feet SA.
Daar is tans oor die 1,5 biljoen mense met grondoordraagbare voetinfeksies wat voorkom kon word deur ’n paar skoene en kouse. Kinders wat die winter kaalvoet moet aandurf, loop groter gevaar om vriesbrand (frostbite) en talle ander voetinfeksies op te doen. Tog besit meer as 600 miljoen mense wêreldwyd nie ’n enkele paar skoene nie.
Bring die hoop van Jesus
“Die persoonlike benadering waarmee Samaritan’s Feet SA hierdie behoefte benader, stel ’n pragtige voorbeeld,” sê Wanda Bam, Kaapse Kansel 729AM se stasiebestuurder. “Nie net voorsien hulle die kinders van plaaslike gemeenskappe elk van ’n paar skoene nie, maar bring ook die hoop van Jesus vir elke individu aan wie hulle ’n paar skoene oorhandig deur hul voete te was en saam met hulle te bid. Dit is vir ons ’n voorreg om by te dra tot ’n organisasie wat klem lê op verhouding bou wanneer hulle gee.”
Deur die #WinterWarmerSocksThatRock-veldtog kon Kaapse Kansel saam met sy getroue luisteraars en ander organisasies se skenkings bydra tot die insameling van 9 828 splinternuwe sokkies wat menige voet en voetjie hierdie winter heerlik warm gaan hou.
’n Kuier by die ateljee
’n Spesiale oorhandiging aan Samaritan’s Feet se hoof- uitvoerende beampte, Hermien Louw, tesame met Marietta Hopley, het op 27 Junie by die Kaapse Kansel-kantore plaasgevind. Die oggend was ook ’n dag van opwinding vir ’n paar leerders van Sir Lowrys Pass Village en Devonvallei Primêr wat buiten ’n spesiale voetwas- en bidsessie saam met Kaapse Kansel-omroepers, ook sommer ’n opvoedkundige toer van die uitsaai-ateljee en opnameproses ontvang het.
’n Hart vir die gemeenskap
“As ouma van drie kleinkinders kan ek met sekerheid getuig dat dit die hart van Radio Kaapse Kansel is om ons gemeenskappe, veral kinders, met hoop vir ’n beter toekoms te bedien,” sê Wanda. “Saam kan ons ’n blywende uitwerking hê wat lewens na liggaam, siel en gees verryk. ’n Hartlike dankie aan elke luisteraar, organisasie en individu wat voete sowel as harte verwarm en in die proses lewens verander.”
Vir meer inligting besoek capepulpit.co.za of stuur ’n e-pos na info@capepulpit.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 27/08/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.