Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Geloftedag word op 16 Desember gevier ter herinnering aan die Slag van Bloedrivier, nie net as oorwinning vir die Voortrekkers nie, maar ook as ‘n oorwinning vir die Christendom in Afrika. Daar bestaan geen rekord van enige Zoeloe-Christene voor 16 Desember 1838 nie.

Die geestelike bevryding van die Zoeloes
Ten spyte van die geestelike arbeid van die Britse en Amerikaanse sendelinge sedert 1820, was die houvas wat bygeloof op hulle gehad het, die regering van die Zoeloeko­nings en die vrees vir toordokters só groot dat nie een enkele Zoeloe op die prediking van die Evangelie gereageer het voor die nederlaag van Dingaan se impi’s by Bloedrivier nie. Om steeds Geloftedag te vier, is geensins teen Zoeloes gemik nie. Ek het in diepte oor hulle geskiedenis opgelees en het museums in Zoeloeland besoek. Ek beskou die verbond wat die Boere met God gesluit het en die daaropvolgende Slag van Bloedrivier as die begin van die geestelike bevryding van die Zoeloes.

Zoeloes gekersten
Eers ná die Slag van Bloedrivier het honderde, en later duisende, Zoeloes Christus aangeneem. Ná die oorwinning oor Dingaan se magte het die Afrikaanse Christene ‘n sendingstasie en kerk by Mgundgundlovu (Dingaanstat) gebou. Dit is binne sig van die plek waar Piet ­Retief en 100 van sy volgelinge vermoor is. Die Afrikaanse sen­delinge het ‘n skool vir blindes, ‘n opleidings­kollege vir evangeliste en vir hul voormalige vyande opgerig. As Christene moet ons God ken en bekend maak. Ons moet ons geskiedenis ken om ‘n beter toekoms te kan bou. Ons moet “die tye verstaan” (1 Kron 12:32) en weet wat God se wil daaromtrent is.

Shaka en die ‘Mfekane’
Shaka het die Zoeloes as ‘n groot oorlogvolk gevestig. Hy het ’n vernietigende oorlog van stapel gestuur wat groot dele van die land onbewoond gelaat het. Dit het tot die uitwissing van honderde stamme gelei.
Bekend as die “Swart Napoleon”, het hy Suid-Afrika in bloed geweek en talle krale vernietig – veral
tussen 1820 en 1824. Shaka word beskryf as groot, aantreklik en ’n militêre genie. Hy het die Zoeloes as ‘n magtige oorlogmasjien gevestig, nuwe geveg-sisteme ingestel en die nuwe aanvalswapen, die assegaai, ingebring. Hy het sy manne verplig om kaalvoet te loop om hul voete hard te maak. Sy impi’s moes op dorings dans en indien enigeen pyn gewys het, is hulle onmiddellik om die lewe gebring. Hy het sy manne afgerig om as ‘n eenheid, in die vorm van ’n bees se horings, te veg. Die mees ervare impi’s was op die voorpunt om te “deurboor” en die jonger impi’s was agter hulle om die vyand te omsingel. Die Zoeloes het elke liewe stam wat hul teengekom het, oorweldig en uitgewis.

Dingaan se verraad
Op 22 September 1828 is Shaka, die Zoeloekoning en grondlegger van die Zoeloes, in sy slaap deur sy halfbroers, prins Dingaan en prins Mhlangana doodgesteek. Kort daarná het Dingaan gesorg dat Mhlangana ook vermoor word en toe elke mededinger wat sy pad sou kruis. Hy was ongeveer 30 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het vir homself ‘n nuwe hoofstat in Mgungundlovu gebou. Hy het spoedig meer as 300 vroue en byvroue gehad. Hy was nie ’n vegter soos Shaka nie. In plaas om aan die voorpunt van militêre veldtogte te wees, het hy die impi’s uitgestuur, maar self by die paleis agtergebly. Hy was voortdurend omring deur dansers en feesvierings.

Die liggelowige Piet Retief
Sendelinge het Piet Retief gewaarsku toe hy na Dingaan is om te onderhandel vir die Voortrekkers se verblyf in die ontvolkte gebied tussen die Tugela- en Boesmansrivier (hedendaagse Natal). Retief was egter vol selfvertroue en het alle waarskuwings verontagsaam.

Waarskuwings van sendelinge verontagsaam
Eerwaarde Francis Owen van die Church Missionary Society het as een van die koning se vertalers opgetree. Die meeste inligting omtrent Piet Retief en Dingaan se onderhandelinge kom uit eerw. Owen se dagboek. Die koning het Retief onthaal toe hy Mgungundlovu bereik het. Eerw. Owen het Retief ernstig gewaarsku oor die talle wreedhede, martelings en teregstellings waarvan hy (onder dwang) die getuie was, tog was Retief baie beïndruk deur Dingaan se “erns, edelheid, intelligensie en welwillendheid.”

Mgungundlovu
Retief het Saterdag 3 Februarie met ongeveer 100 volgelinge in Mgungundlovu aangekom. Met die ondertekening van die dokument waardeur Dingaan toegestem het dat die Trekkers die gebied tussen die Tugela en Umzimvubu mag bewoon, het Retief gevoel dat sy vertroue in Dingaan geëer is en die dokument is met groot verligting in sy leerbriewetassie gebêre. Die sendeling, eerw. Owen, was egter baie ontstemd omdat Retief en sy volgelinge die erediens van Sondag 4 Februarie misgeloop het – juis as gevolg van die ondertekening van hierdie dokument. Retief het er­ken dat hy skoon vergeet het dat dit Sondag was. Maandag is die Trekkers op ‘n einde-lose vertoning van oorlogsdanse en militêre krygsoefeninge getrakteer. Dingaan is bestempel as ’n “meester in die vertoonkuns, soos nog nooit in die land gesien is nie.”

Weerloos voor Dingaan
Dinsdag het William Wood, ’n jong Engelse handelaar wat ook vlot in Zoeloe was, Retief gewaarsku dat hy en al sy volgelinge “voor die einde van die dag uitgewis sou word”. Retief en sy manne is na ‘n laaste afskeidsparty genooi net toe hulle wou vertrek. Hulle is versoek om hul gewere buite die kraalhekke te los. Verbysterend genoeg het hulle aan die versoek voldoen. Ná vele oorlogsdanse wat in volume en intensiteit toegeneem het, het Dingaan opgestaan en geskree: “Babulaleni abathakathi!” (Maak die towenaars dood!)

Koelbloedige moord
Oorkant die stroom en op die oorkantste heuwel moes eerw. Francis Owen in afgryse toekyk hoe ’n magdom Zoeloes (omtrent nege tot tien per Boer) die magtelose slagoffers na die heuwel gesleep het. Baie van die Boere is deur assegaaie deurboor en Piet Retief se jong seun is voor sy oë vermoor.

Massamoord om middernag
Op die noodlottige Dinsdag, 6 Februarie, moes eerw. Owen toekyk hoe Dingaan ‘n reusemag in die rigting stuur van waar die trekkers gekom het. In die vroeë oggendure van 17 Februarie het tienduisend Zoeloekrygers die slapende Voortrekkers tussen die Boesmans- en Blaauw­krantzrivier aangeval. Die Trekkers is deur hul blaffende honde wakker gemaak. Die Zoeloekrygers het die mans, vrouens en kinders – hele gesinne – uitgemoor.

Teenaanvalle geloods
Sarel Celliers en Gerrit Maritz het stormaanvalle geloods om van die voortvlugtendes te red. Vroue en kinders, sommige so jonk as tien jaar, het verwoed geveg om te oorleef. Die geveg het tot die middag van die 17de geduur toe die Zoeloes einde ten laaste met 25 000 beeste, perde en skape as buit teruggetrek het. Talle Zoeloes is in hierdie verwoede slag gedood. Die Voortrekkers het gerou oor die dood van honderde vroue en kinders. ‘n Dorpie is later op die plek aangelê en Weenen (“Die plek van geween”) genoem.

Lokval by Buffelsrivier
‘n Teenaanval op 6 April het daartoe gelei dat twee mededingende leiers, Piet Uys en Andries Potgieter, by Italeni oorkant die Buffels-rivier in ’n lokval gelei is. ’n Britse ekspe­disie van Port Natal het die Trekkers te hulp gesnel, maar tien van die kommandolede is gedood, insluitende Piet Uys en sy seun Dirkie wat langs sy pa aanhou veg het.

Andries Pretorius en die Wenkommando
Die koms van Andries Pretorius het nuwe hoop gebring. Hy het met 60 Transvaalse vrywilligers vir die Wenkommando, wat hy op die been wou bring, aangekom. Pretorius is tydens ‘n vergadering van die Volksraad tot kommandant-generaal verkies. Binne ’n paar dae het Pretorius met 464 mans en 64 waens vertrek om die Zoeloes te gaan aanval. Hy het die leuse ‘Eendragt Maakt Magt’ – wat later die leuse van die Transvaalse Republiek geword het – geskep. Alle lede van die Wenkommando het intensiewe lesings oor dissipline, Christelike gedrag, integriteit en moed ontvang. Die predikant, Sarel Cilliers, het baie sterk aangedring op godsdienstige gebruike soos daaglikse oggend- en aandgodsdiens waartydens alle mans moes kniel. Die 64 waens het in vier rye beweeg sodat die ry nie te lank was nie en die voor- en agterhoede beskerm kon word. Elke nag is daar laer getrek, wagte uitgesit, inspeksies gehou en verdedigingsvaardighede geoefen. Verkennings-patrollies is uitgestuur om inligting oor die Zoeloebewegings te bekom asook om die trekker van moontlike gevare te vergewis.

Die Gelofte
Net toe die Tugelarivier in vloed was, het die Wenkommando dit by Spioenkop oor­gesteek. Sarel Celliers op Sondag 9 Desember by Wasbank op ’n kanonwa geklim vir die oggenderediens. Hy het ’n plegtige gelofte voorgestel: “My broers en landsgenote, op hierdie oomblik staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde om ‘n belofte te maak. In­dien Hy met ons is en ons beskerm en nie aan die vyand oorlewer nie sodat ons oor hulle kan triomfeer; dan sal ons jaarliks hierdie dag en datum eer en herdenk as Dankdag en Sondag tot Sy eer. Ons sal ons kinders en kindskinders hier­oor inlig dat hulle deel van hierdie gelofte is ter herinnering aan ons nageslag. Indien enigeen ’n probleem hiermee het, laat hom dan nou van hierdie plek wegdraai. Die eer van Sy Naam sal hierdeur met vreugde verhoog word en aan Hom kom toe die eer en heerlikheid vir die oorwinning.” (Vrye vertaling van die oorspronklike Nederlandse Gelofte). Alle Engelse vrywilligers het hulle by die Afrikaanse Voortrekkers gevoeg en die Gelofte afgelê en dit is vanaf 9 Desember elke aand tot en met die aand van die 15de tydens aandgodsdiens herhaal.

Slaags met die Zoeloes
Daar was ’n kalm doelgerigtheid onder die lede van die Wenkommando. Hulle het baie goed besef dat hulle teen ‘n sterk mag in Afrika gaan veg. Tot in daardie stadium is die Zoeloe-impi’s nog nooit in enige geveg verslaan nie. Die kommando het geweet dat Dingaan meer as 20 000 krygers het wat hy gelyktydig teen hulle kon uitstuur – en daar was net 464 boere. Die kommando het die Buffelsrivier op Saterdag 15 Desember oorgesteek en tussen die Buffels- en Ncome-rivier uitgespan. Twee verspieders het gerapporteer dat hulle ‘n groot Zoeloemag sowat een en ‘n half uur weg gesien het. Pretorius het die terrein vir ‘n geskikte laergebied verken en hy het God se hand hierin gesien, aange­sien hy ‘n perfekte plek aan die anderkant van die Ncome-rivier gesien het.

Laer opgeslaan
Aan die wesoewer was ’n diep seekoeigat en ’n enorme donga of kloof. Die laer is opgestel deur hierdie twee natuurlike verskansings te gebruik. Die 64 waens is baie stewig aan mekaar vasgewoel met slegs twee gevegs­openinge waar die kanonne opgestel is. Die agterkant van die D-formasie was teen die donga en die halfmaan in die oopte. Kerse is uitgesit en lanterns is oral aan die lang sweephingsels opgehang om te verhoed dat die Zoeloes die laer ongesiens in die nag kon bereik. Terwyl Sarel Celliers die kommando die laaste keer in die herhaling van die gelofte en sing van Psalms voorgegaan het, het die Zoeloes opgedaag. Die impi’s kon net die spookagtig-verligte laer sien en die vreemde sang hoor.

Verslaan die onoorwinlike oormag
Dit was ‘n spanningsvolle, maanlose nag. Twee uur voor sonop was die Trekkers reeds op hulle poste. Die mis het gelig en ‘n ideale dag sonder wolke of wind, het gebreek. Toe die mis lig, het die Boere die ganse Zoeloemag voor hulle sien sit. Die voorste linie was slegs 40 treë van die halfmaanvormige laer af. Rye van die Zoeloeregimente het saamgegroepeer gesit volgens die kleur van hulle skilde. Daar was tussen 15 en 20 duisend krygers. Die dag het met ‘n verwoede geveg begin – die Zoeloes het gesis, geskree, hul assegaaie teen hul skilde gestamp, donde­rend met hul voete op die grond gestamp en toe die laer bestorm. Die twee kanonne het bane deur die menigtes oopgeskiet en die boere se akkurate skote het sy dodelike tol geëis. ’n Massa Zoeloes het probeer om die agterkant van die laer, deur die donga, te bestorm, maar Sarel Celliers het sy manne gelei om hulle af te sny.

Die Zoeloegety
Die Zoeloes het tot die aanval oorgegaan – ’n vloedgolf krygers het op die waens afgestorm. Die roers het gevaarlik warm begin word, wa-seile is met assegaaie en spiese deurboor, maar die strategiese pla­sing van die laer het die Zoeloes grensloos gefru­streer. Hoe nader hulle aan die waens gekom het, hoe nader is hulle aan mekaar gedwing deur die donga en die rivier totdat hulle oor mekaar en hul gesneuweldes geval het. Hulle het enorme verliese gely sonder om iets te vermag. Nog nooit het so iets met hulle gebeur nie. Andries Pretorius het ’n stormloop in die middel van die impi-mag gelei. Vir die eerste keer in die Zoeloe-ge­skiedenis het die impi’s op die vlug geslaan. Toe die son sak, het die uitgeputte kommandolede vir ’n dank­diens teruggekeer asook vir hul eerste maaltyd van die dag.

Liefde vir hul vyande
Dit is merkwaardig dat, ondanks die verraad wat die Boere moes verduur en die massamoord op so baie vroue en kinders op die oewer van die Blaauwkrantsrivier, hulle geen gruweldade ter ver-gelding gepleeg het nie. In ooreenstemming met die Bybel se mandaat dat jy jou vyande moet liefhê, het die Hervormde Kerk sendingaksies in Zoeloeland begin. Daar is skole, hospitale, kerke en weeshuise, selfs binne sig van die plek waar Piet Retief en sy manne so wreedaardig vermoor is, is opgerig. In die een en ’n halfeeu sedert die eerste Geloftedag, het miljoene Zoeloes Christus aangeneem en is Zoeloeland geseën met herlewing. Op ‘n baie werklike manier het dit alles met die heel eerste Gelofte wat deur Sarel Celliers afgelê is, begin.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 16/12/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here