Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand
Artikel Bron: Verskaf
Die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) staar toenemende kritiek in die gesig nadat die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) onlangs onthul het dat R1,7 miljard oor die laaste vyf jaar nie benut is nie. Die fondse was bedoel om behoeftige studente toegang tot hoër onderwys te gee.
Volgens die SIU is die fondse kwansuis nie deur universiteite soos die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) toegeken nie. Dit dui daarop dat swak administrasie en verkeerde toekennings groot uitdagings bly.
Volgens mediaberigte moes Aleah Fontein, ‘n voormalige student, haar drome prysgee weens ‘n gebrek aan fondse. Sy sê: “Ek het twee keer aansoek gedoen en niks gehoor nie. Nou hoor ek daar is ongebruikte fondse. Dit is onaanvaarbaar.”
Helpende Hand se Studietrust bring verligting
Terwyl die NSFAS-stryd voortduur, bied Solidariteit Helpende Hand (SHH) se Studietrust ‘n betroubare alternatief vir behoeftige studente. SHH se Studietrust administreer meer as 220 onafhanklike en gemeenskapstudiefondse en het oor die afgelope 16 jaar meer as 7 000 studente met rentevrye lenings ter waarde van altesaam R340 miljoen bygestaan.
“Ons fokus daarop om studente te help wat werklik finansiële ondersteuning nodig het. Ons streng assesseringsproses verseker dat die regte gesinne hulp ontvang,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Ons het ‘n terugbetalingskoers van 98%. Dit bewys dat ons model werk en dat die mense wat ons help, dit nie misbruik nie.”
Noëth meen die regering faal jongmense omdat die staat nie sy verantwoordelikhede nakom nie. “Die chaos by NSFAS wys hoe ‘n mens staatsfondse nié moet bestuur nie. Die gevolge van hierdie mislukkings land dikwels op die tafels van organisasies soos ons s’n.”
“Die NSFAS-chaos veroorsaak dat Helpende Hand ‘n toestroming van aansoeke het – baie meer as wat ons met ons beperkte hulpbronne kan hanteer. Ons het 600 studente teenoor wie NSFAS tans nie hul verpligtinge kan nakom nie weens hul swak administrasie. Ons wil graag daardie 600 studente help, maar ons het nie voldoende fondse nie. Die publiek kan ons help om hulle te help,” sê Noëth.
Vir meer inligting oor Helpende Hand se Studietrust en hoe om betrokke te raak om studente by te staan, besoek www.hh-studietrust.co.za.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 17/12/2024
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








