Geskryf deur: Gigi Kotze Artikelbron: incontextinternational.org
In Augustus, is ’n “drywende tydbom”, volgens die Verenigde Nasies (VN) – die olietenkskip wat in die Rooisee aan sy lot oorgelaat is – suksesvol leeggetap. Nadat ’n burgeroorlog in 2014 uitgebreek het, is die vaartuig naby Jemen met meer as ’n miljoen vate olie aan boord, versaak en agtergelaat. In 2020 het lekke in die enjinkamer wat die skip kon laat sink, vrese ontlok dat die verwerende FSO Safer sou ontplof of in stukke breek, wat ’n groot oliestorting sou veroorsaak – vier keer meer olie as wat deur die Exxon Valdez by Alaska in 1989 gestort is. Met behulp van modelle is getoon dat die olie van die skip die kuslyne van Jemen, Saoedi-Arabië en Noord-Afrika sou deurdrenk. Dit sou wortelbome en koraalriwwe versmoor, ’n visbedryf waarvan 1,7 miljoen mense afhanklik is, verwoes, en ontsoutingsaanlegte wat vars water aan ’n verdere 10 miljoen mense voorsien, vergiftig. Die VN het desperaat geraak om ’n omgewingskatastrofe, wat bekend sou staan as “die ergste oliestorting van ons era”, te voorkom.
In 2021 het David Gressly (die VN se resident en humanitêre koördineerder vir Jemen) begin om afsonderlik met Jemen se Houthi-rebelle en die koalisiegesteunde regering te vergader om te bespreek hoe die skip gered kan word. In September 2022 het beide partye tot ’n plan ingestem om die olie te verwyder, onderhewig aan die sleutelvereiste dat iemand ’n nuwe vaartuig moes koop waarin die oorgetapte olie, waarvan die eienaarskap betwis word, geberg kan word. ’n Nuwe skip sou meer as $50 miljoen kos – ’n bedrag wat normaalweg deur die skeepseienaars en hul versekeraars gedek word. Dit het egter die VN se verantwoordelikheid geword om $144 miljoen in te samel om die totale koste, wat die nuwe skip en die aanstelling van ’n maatskappy om die olie oor te tap insluit, te dek.
In Mei 2022 het die VN ’n fondsinsamelingsveldtog onder lidlande geloods. In Junie 2022 het Gressly ’n massa-insamelingsveldtog onder die publiek van stapel gestuur. Teen September 2022 het die veldtog $75 miljoen van die benodigde $144 miljoen uit sowat 17 verskillende lande ingesamel, wat ’n Jemense multinasionale maatskappy en ’n groep Amerikaanse skoolkinders insluit. Toe die veldtog in Julie vanjaar $121 miljoen bereik het, het die VN se humanitêre noodhulpfonds ’n lening wat die oorblywende gaping van $20 miljoen gevul het, voorsien. Vandat die olieverwyderingstaak begin het, het dit 18 dae geneem om die oortapping in ’n strook water waar seemyne geplant was, te voltooi.
“Aangesien mense gewoonlik vir ’n saak gee waarin hulle glo, kan die afleiding gemaak word dat wat aan Christelike sendingwerk gegee word, weerspieël hoeveel mens in sending glo.” – Akinyemi O. Alawode
In die verlede het *INcontext die belangrikheid van omgewingsbewaring gedek en hoe ons as gelowiges geroep word om die aarde wat God aan ons toevertrou het, te bewaar. Hoewel dit uiters belangrik vir God is, het ons ’n nog groter verantwoordelikheid as die Liggaam van Christus om blymoedig en vrygewig te wees in ons bydraes tot humanitêre hulp (wat mense raak wat na die beeld van God geskape is – Matteus 25:31-46) en tot sendingwerk (die bevordering van die Koninkryk van God en die redding van siele). In Junie vanjaar het die VN aangedui dat hulle genoodsaak was om kos, kontantbetalings en bystand aan miljoene mense in baie lande regoor die wêreld te sny. Dit was as gevolg van ’n “verlammende befondsingskrisis” wat die skenkings met sowat die helfte laat daal het, terwyl akute honger rekordvlakke bereik. Volgens die Joshua-projek is 42,4% van die wêreldbevolking nog onbereik met die Evangelie van Christus – die taak wat aan die Kerk opgedra is ten tye van Jesus se hemelvaart. Een van die grootste struikelblokke wat enige sendeling of sendingorganisasie in die gesig staar, is ’n tekort aan finansies of befondsing vir die werk van God wat hulle so getrou verrig. Soos ons gesien het met die Jemense tenkskip, as mense in hulle harte saamstaan vir ’n saak, is daar niks wat nie bereik kan word nie, en is daar ook geen beperking op die hulpbronne wat ingesamel kan word nie. Mag Christus ons as Sy Bruid by Sy terugkeer aantref met harte soos Syne en besig met Sy sake – naamlik om diegene in dringende nood te help en om Sy Koninkryk hier op aarde te bevorder, en so die “wêreld in beroering te bring” soos die vroeë dissipels (Handelinge 17:6).
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die Liggaam van Christus goeie rentmeesters van alles wat God aan hulle toevertrou het, sal wees;
- dat gelowiges regoor die wêreld in hart en saak vir die behoeftiges en verlorenes sal saamstaan; en
- dat die Bruid van Christus die wêreld, deur middel van haar mensliewendheid en vrygewige harte, in beroering sal bring.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 09/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








