Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: : incontextinternational.org 

Die Nasionale Raad van Kerke in die Filippyne (NCCP) en ander plaaslike kerkleiers het onlangs hul stemme by die jarelange oproepe om ’n einde aan die Filippynse regering se gemilitariseerde teeninsurgensieveldtog, bekend as rooi-etikettering, te voeg.

In die veldtog word individue of groepe (politieke of burgerlike groeperings in die gemeenskap) geëtiketteer as “simpatiseerders met kommuniste”, “kommunistiese terroriste”, of “kommunistiese fasades”, dikwels sonder bewyse. Hulle word gereeld daarvan beskuldig dat hulle meelopers van die Kommunisteparty van die Filippyne (CCP) en sy gewapende vleuel, die Nuwe Volksweermag (NPA), is. Hierdie groeperings het in Maart toenemende aanvalle op die regering geloods. Die huidige administrasie onder president Marcos jr., het in Mei besluit om PHP 10 miljard ($178,56 miljoen) aan die National Task Force to End the Local Communist Armed Conflict (NTF-ELCAC) toe te ken.

Hoewel die taakmag op die kommunistiese insurgensie toegespits is, word die besluit om meer mag aan die NTF-ELCAC te gee, egter wyd teengestaan as gevolg van die taakmag se reputasie om ’n breë spektrum van Filippyne, insluitende joernaliste, aktiviste, regsgeleerdes, inheemse leiers, ontwikkelingswerkers, kerkleiers (ook die NCCP as ’n groep), sendelinge en politieke opponente “te teister, te intimideer en as rooi te etiketteer”.

In Oktober 2022 het regter-sekretaris Remulla voor die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad verskyn en rooi-etikettering as “deel van demokrasie” verdedig. Verskeie VN-lidlande het egter ’n beroep op die Filippyne gedoen om rooi-etikettering te beëindig en om die antiterrorisme wetgewing te hersien. Die Wet teen Terrorisme van 2020, tesame met die Wet op die Finansiering van Voorkoming en Onderdrukking van Terrorisme van 2012, is daarvan beskuldig dat dit gebruik is om andersdenkendes stil te maak en aktivisme aan terrorisme gelyk te stel.

Die Wet verleen groot mag aan veiligheidsmagte om verdagte “vyande van die staat” sonder ’n lasbrief te teiken, te arresteer en aan te hou. Individue en groepe wat as “rooi” (kommuniste) gebrandmerk is, se bates kan bevries word, hul bewegings kan beperk word, hulle kan voortdurend dopgehou word en inhegtenisname, aanhouding en doodsdreigemente in die gesig staar. ’n Onlangse voorbeeld is Aileen Manipol Villarosa, wat op 1 Julie deur die polisie in die Sultan Kudarat-provinsie gearresteer is. Sy is ’n lekesendeling by die Katolieke Landelike Sendelinge van die Filippyne (RMP) en staan tereg op 55 aanklagte van finansiering van terrorisme.

Die NCCP en ander het ook ’n beroep op die regering gedoen om gesprekke met kommunistiese organisasies soos die CCP-NPA en sy politieke vleuel, die Nasionale Demokratiese Front van die Filippyne (NDP of NDFP) te hervat. Die kommunistiese opstand het gedurende die presidentskap van Ferdinand Marcos sr. begin. Sy opvolger, voormalige president Rodrigo Duterte, het ’n reeks ambisieuse samesprekings gefasiliteer, maar het dit op 23 November 2017 laat vaar. Hy het die CPP-NPA op 5 Desember as ’n terreurgroep geklassifiseer en dit het oorgegaan tot ’n volskaalse oorlog.

Hy het in Oktober 2021 genoem dat hy geensins jammer is dat hy die samesprekings opgeskort het nie en verder gesê: “Dalk kan die nuwe president dit doen, maar [ek kon dit nie doen nie]”. Sy opvolger, Marcos jr. het nog nie met vredesonderhandelinge begin nie. Die CCP is op 26 Desember

1968 gestig en is geskoei op ’n ideologie wat Marxisme-Leninisme-Maoisme op die Filippynse konteks toegepas het. Die CCP se doel is om “burokratiese kapitalisme, ’n feodale stelsel en Amerikaanse imperialisme” deur middel van ’n “uitgerekte burgeroorlog” hok te slaan. Dit is soortgelyk aan die Maoistiese revolusionêre ideologie in China – waar die huidige Filippynse regering met ’n nuwe staat, wat deur die werkersklas gelei word, vervang moet word. Dit is moontlik dat die revolusionêre klem op die werkersklas en kleinboere bydra daartoe dat diegene wat poog om in die behoeftes van die armes en kwesbares te voorsien, geteiken word.

Baie groepe en individue wat nie aan hierdie konflik verbonde is nie, bevind hulle steeds in die spervuur van hierdie uiters moeilike politieke klimaat, waar dit voorkom asof daar weinig belangstelling daarin is om ’n vreedsame oplossing vir die situasie te vind. God kan wonderwerke in enige situasie laat gebeur (Job 5:9; Psalm 77:14); dus kan die wêreldwye Kerk saam met die Filippynse Kerk in geloof op ’n deurbraak wag. Hoewel vervolging vele ongewensde uitdagings meebring, kan ons bemoedig word daardeur dat dit dwarsdeur die Kerkgeskiedenis ook tot groei in die Kerk bygedra het. Volgens OMF sluit die behoeftes in die Filippynse Kerk dissipelskap en teologiese en sendingopleiding in, aangesien baie evangeliese Christene eerste generasie gelowiges is en daar ook ’n toename in vals leerstellings en skyn-Christelike groepe in die land is. Die Filippyne is ’n geïsoleerde land m.b.t. sy bevolking waarvan die meerderheid Christene is. Die meeste omringende lande in Suidoos-Asië het baie onbereikte groepe, is geslote vir die evangelie en/of vervolg Christene aktief. Die Kerk in die Filippyne kan in groter mate deur God gebruik word om baie van die nasies in Suidoos-Asië te bereik. Volgens OMF dien baie Filippynse gelowiges in Oos-Asië waar hulle kerke plant en bestaande kerke versterk. Daarbenewens reis baie Filippyne om in verre lande te werk, lande wat dikwels vyandiggesind teenoor die Evangelie is, insluitende lande in die Midde-Ooste.

Ons kan bid dat God hierdie uitdagings in die Filippyne sal gebruik om nie slegs die plaaslike kerk te laat groei nie, maar ook Filippynse gelowiges sal help om meer effektief te wees waar hulle God in ander lande dien.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
· Bid dat God die harte van die huidige Filippynse administrasie sal verander sodat hulle ’n omgewing bevorderlik vir regverdigheid, vrede en respek vir die burgerlike gemeenskap en burgerlike vryheid sal skep,

· dat God die CPP-NPA-NDF sal nadertrek aan Hom en sy hart van omgee aan hulle sal toon, en

· dat die Kerk in die Filippyne in die waarheid van God se Woord geskool en gewortel sal wees, en versterk en toegerus sal word om God op effektiewe wyse in Asië en verder te dien.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 20/07/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here