Geskryf deur: Cornelia de Bruto
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
In hierdie bespreking ondersoek ons drie aspekte:
• Die individu wat kom vir berading (die berade)
• die berader, en
• die metode of gereedskap van berading.
Sielkunde is handig om menslike gedrag en denke te verstaan, maar dit help nie om sielkunde in Skrifgedeeltes te doop en dit dan Christelike sielkunde te noem nie. Christus en die kruis móét sentraal staan.
1. DIE BERADE EN DIE PROBLEEM
Enige probleem waarmee iemand na ’n berader kom, is eintlik net die simptoom. As ons die persoon regtig wil help, moet ons by die wortel van die probleem uitkom.
Wat is hierdie wortel?
Die wortel lê by ons oorsprong in Adam. Ons, Adam se na-geslag, het beheer geneem. Frank Sinatra se liedjie, “I did it my way”, som dit goed op. Van kleins af leer ons om beheer te neem en óns wil af te dwing deur vloerstuipe te kry en te skree. Weet jy van enige babatjie wat geleer moes word om met ’n rooi gesiggie te skree wanneer dinge nie na sy/haar sin is nie? As volwassenes gebruik ons dieselfde metode, net meer beskaafd – of dalk nie so beskaafd nie. Ons bly in beheer, want ons Adamsonde het gewoontegedrag geword. Ons verklaar: “Ék is god; ek sal my reg op myself nie prysgee nie. Ek moet beheer neem.”
Fisiologiese versteurings
So het iemand wat byvoorbeeld ’n probleem soos kompulsiewe gedrag of denke het, op sy/haar manier beheer geneem. Ek weet dit ís uiters simplisties gestel, maar ons praat nou kernagtig hieroor. Daar ís gevalle waar werklike fisiologiese wanbalanse voorkom. Die vraag is: Het hierdie gedrag (om in beheer te wil wees) nie gelei tot hierdie uiteindelike fisiologiese versteuring nie?
In Handbook to Happiness getuig dr. Charles Solomon, die stigter van Grace Fellowship International (GFI), dat hy tot in sy dertigs aan ernstige depressie gelei en medikasie gebruik het. Hy is later totaal verlos en genees deur sy identiteit in Christus te vind. Later meer hieroor.
Oorsake, reaksies en gevolge
Om ’n berade dus te help, moet die berader die individu lei om te ontdek hoe hierdie gedragspatroon wortelgeskiet het en hoe dit gaandeweg versterk is. Uiteindelik moet die berade ontdek dat Christus die oorsake, reaksies en gevolge alles ook kruis toe geneem het. Dán volg dissipelskap.
2. DIE INDIVIDU WAT DIE BERADING DOEN
Ons praat van Christelike berading en Christelike beraders. Wat word daarmee bedoel? Ek kan byvoorbeeld na ’n Christelike werktuigkundige toe gaan. Het ek enige waarborg dat hy my motor gaan kan herstel bloot omdat hy ’n Christen is? Nee. Hy moet weet wat hy doen om ’n deeglike diens te lewer. As ons dus praat van ’n Christelike berader moet hy ’n kenner van sy vak wees. In hierdie geval, beslis iemand wat self by die kruis van Christus uitgekom het. Iemand wat self ook ontdek het dat hy graag in beheer wou wees. Iemand wat ontdek het die oplossing is totale oorgawe aan Christus. Iemand wat op die inwonende Geneesheer, die Heilige Gees, vertrou vir leiding sodat die soekende persoon gehelp kan word.
3. DIE METODE OF GEREEDSKAP VAN BERADING
Daar is heelwat Christelike metodes en kursusse om berades te help. Ongelukkig is talle van die metodes in sielkunde vasgelê. Is sielkunde die “groot gevaar”? Nee, ons moet net die regte plek aan sielkunde toeken en weet wat die basis van sielkunde is.
“Ek is met Christus gekruisig en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” – Galasiërs 2:20
Wat is sielkunde?
In die eerste plek is sielkunde presies wat dit sê, kunde (kennis) van die siel – niks meer en niks minder nie. Elke berader moet weet dat die drie hoekstene van sielkunde humanisme, evolusie en statistiek is. Veral humanisme staan sentraal in sielkunde en dus sal die mens sentraal staan. Dit is handig om sielkunde te gebruik om menslike gedrag en denke te verstaan. Dit help egter nie om sielkunde in Skrifgedeeltes te doop en dit dan Christelike sielkunde te noem nie. Christus en die kruis móét sentraal staan.
Wat is die doel van berading?
Is die doel van berading om die mens beter te laat voel, beter te laat funksioneer en heel moontlik so die vlees te versterk? Nee. Die doel van Christus-gesentreerde berading behoort te wees om die berade te lei om selfgerigte gedrag en denke te erken en te herken, dit kruis toe te neem (Rom 6:11) en dan ’n lewe te lei wat deur die Heilige Gees gerig word. Dit is ’n oorwinnende lewe in Christus, ’n lewe waar die self elke dag verloën word (Matt 16:24-26) en dít benodig dissipelskap.
Dr. Solomon het ná ’n lang stryd teen depressie ontdek dat dié dinge in sy kinderjare wat aanleiding gegee het tot die depressie ook aan die kruis vasgespyker is. Hy het ontdek dat sy metodes om dit te hanteer hopeloos ondoeltreffend is en dat dit ook aan die kruis vasgespyker is. Triomferend het hy ontdek: “Ek is met Christus gekruisig en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal 2:20). Dít is die doelwit vir elke beradingsituasie.
CORNELIA DE BRUTO – het ’n MA in sielkunde en was ’n sielkundedosent. Sy is die afgelope 30 jaar egter as medestigter van Curare betrokke by opleiding van beraders in Christus-gesentreerde berading.
CHRISTUS-GESENTREERDE BERADING
gracefellowshipinternational.com
Wees toegerus vir persoonlike bediening
CURARE is die plaaslike filiaal in Suid-Afrika.
BESPREEK ’N KONFERENSIE OF OPLEIDINGSKURSUS
082 664 74 59 | nehlsiedb@gmail.com | curarecc.org
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 26/04/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








