Geskryf deur: Marina Hofmeyer
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Een Sondagmiddag het ek alleen huis toe gery nadat ek by my ouers aan die Weskus gekuier het. Ek het al talle kere dieselfde pad gery, maar hierdie keer was anders. Toe ek oor ’n heuwel verby Malmesbury ry, sien ek ’n Corsa-bakkie en ’n ander motor het so pas voor my gebots. Dit was ’n entjie weg. Ek het dadelik begin rem trap. My motor het destyds nie ’n sluitweerremstelsel (ABS) gehad nie en ek kon nie betyds stop nie. Ek het die bakkie getref. Ek onthou hoe ek in die oomblik gebid het dat ek oukei en by my volle bewussyn sal wees ná die impak (omdat ek alleen in die motor was en die son besig was om te sak). Ek is toe nie beseer nie en het my ouers in trane gebel. Familievriende van Malmesbury het my kom help terwyl my ouers deurgery het. My motor is afgeskryf.
Voel hartseer en verward
Ek het so hartseer gevoel. Die ongeluk was nie my skuld nie. Ek het die Here gevra hoekom dit met my moes gebeur. Die soektog na ’n nuwe motor het begin en ’n paar weke later het ek een gekry. Ek was tevrede met die opgradering, maar ek was steeds nie seker hoekom ek deur hierdie aaklige ervaring moes gaan nie.
’n Gevaarlike ervaring
’n Paar maande later, was ek op ’n Vrydagaand weer op pad na die Weskus om vir my ouers te gaan kuier. Dit was donker en my een koplig het nie gewerk nie, dus was my hoofligte aan. Wanneer motors van voor af aankom, het ek die ligte soos gewoonlik gedomp. ’n Rukkie later het ek besef die pad is weer verlate en ek het die hoofligte op helder gestel. ’n Groot vragmotor het voor my opgedoem, dit was besig om regs by ’n plaaspad in te draai. Die vragmotor het geen ligte of weerkaatsers aan gehad nie – as ek dit nie op die nippertjie gesien het nie. Ek het dadelik rem aangeslaan en minder as ’n meter van die trok af gestop. My hart het woes geklop en ek was yskoud…
Die Here se hand
Nadat ek van die skok herstel het, het ek verder gery met trane wat oor my wange stroom. Ek het besef dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. As ek nie die vorige ongeluk gehad het nie, sou ek my ou voertuig sonder ABS gery het en was daar geen kans dat ek nié die vragmotor sou tref nie. Dankie Here, ek weet dit was U!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 20/04/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.