Geskryf deur: Geopende Deure SA Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Geweld teen Christene in Afrika suid van die Sahara het kommerwekkende vlakke bereik namate gewelddadige Islamitiese militante die streek met uiterste geweld destabiliseer. Dit is die ergste in Nigerië, waar Fulani, Boko Haram, Islamitiese Staat Wes-Afrika-Provinsie (ISWAP) en ander plundertogte op Christen-gemeenskappe uitvoer en mense doodmaak, vermink, verkrag en vir ’n losprys of as seksslawe ontvoer. Nigerië is sesde op Geopende Deure Internasionaal se Wêreldwaarnemingslys van die 50 lande waar Christene die ergste vervolging vir hulle geloof ervaar. Nigerië is ook weer heel bo-aan die lys as die mees gewelddadige land ter wêreld vir Christene om in te woon.
Impak van vervolging Godsdienstig gemotiveerde moorde in Nigerië het van 4 650 verlede jaar tot
5 014 vanjaar gestyg – ’n verbysterende 89% van die internasionale totaal. Altesaam 2 510 Christene in Nigerië is vir hulle geloof ontvoer en duisende ander is interne ontworteldes of het vlugtelinge geword.
Ayuba*, ’n jong Nigeriese gelowige, het die skadelike impak van vervolging eerstehands ervaar. Sy pa en agt ander Christene is in 2020 in ’n Boko Haram-aanval op sy dorp in die noorde van Nigerië dood toe Ayuba 20 jaar oud was.
Aanval deur Boko Haram
Ayuba onthou die dag toe Boko Haram sy dorp aangeval het. “Ons het geweerskote gehoor en ’n gebou sien brand. Mense het vir hulle lewens gevlug toe hulle hoor dat Boko Haram ’n man vermoor het. Ek en my sibbe het gevlug. Ons het gehardloop totdat ons ’n rivier agter ons dorp oorgesteek het. Ek het gehoop dat my pa ons gevolg het, maar daar was geen teken van hom nie.”
’n Skokkende ontdekking
Toe Ayuba-hulle die volgende oggend na die dorp terugkeer, het hulle gehoor dat Boko Haram sy pa gevange geneem het en toe hulle hom vra of hy ’n Moslem of ’n Christen is, het hy geantwoord: “’n Christen.” Dit was al wat die militante nodig gehad het om te hoor, om hom op die plek te onthoof.
Terug by hulle huis het Ayuba drie lyke op die grond aangetref en sy pa aan sy klere uitgeken. Hy het langs hom gekniel en gebid. Selfs in daardie oomblik van smart kon Ayuba die Here dank. “Here, ek is dankbaar – U het gegee en U het geneem. Mag my vader by U rus.”
Steeds in groot gevaar
Ayuba het uitgevind dat hulle gesin steeds in groot gevaar was. “’n Paar weke ná die aanval het Boko Haram ’n lys na ons dorp gestuur – ’n lys van mense wat hulle wou doodmaak. My naam was daarop.” Hy het besef dat dit die beste vir hom en sy sibbe sou wees om na ’n ander dorp te verhuis. Daar het ’n pastoor gereël dat hulle verder suid beweeg, sowat agt uur se ry van hulle dorp af.
Leer om te vergewe
Die pastoor het ook aanbeveel dat Ayuba, wat nou die broodwinner vir sy gesin is, traumasorg by Geopende Deure-vennote by die Shalom Traumasorgsentrum moes kry. Vandag getuig Ayuba dat God die traumasorg en emosionele en geestelike ondersteuning gebruik het om sy geloof te versterk, deursettingsvermoë te ontwikkel en emosioneel te genees. “Dit het my gehelp om my pa se moordenaar en dié wat Boko Haram gehelp het om Christene in die dorp te identifiseer, te vergewe. Ek het geleer om alles by die voete van Jesus te los.”
Jou ondersteuning is noodsaaklik
Jou ondersteuning kan ook jongmense soos Ayuba help om van trauma te genees en die Kerk in Afrika te beskerm deur in die behoeftes van vervolgde gelowiges te voorsien. Maak gebruik van die bankbesonderhede hieronder om vandag ’n geskenk te gee.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 20/05/2023
*Naam verander weens sekuriteitsredes. | Foto’s: © 2023 Geopende Deure Internasionaal
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









