Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Ek ken ’n seuntjie. Een wie se stukkende hart weerspieël is deur woede-uitbarstings – die gevolg van sy hele lewe wat uitmekaargeval het. Ek ken ’n seuntjie. Hy is skaars ’n jaar jonger as my eie dogtertjie. Slegs ses jaar oud, maar hy het nie ’n mamma nie, ook nie ’n pappa nie. Ek ken ’n seuntjie. Hy is gered – alleenlik deur God se genade en ’n gemeenskap wat hom in liefde ontvang het. Ek ken ’n seuntjie, sy naam is Dawid.

Klein Dawid het in die bietjie meer as 2 100 dae van sy kort lewetjie, meer trauma ervaar as wat ek in my bykans 12 700 dae al ervaar het; trauma wat so ’n klein mensie glad nie verdien of enigsins moes beleef het nie.

’n Seuntjie met ’n slingervel voor Goliat
As ek die naam Dawid hoor, dink ek aan ’n koning; hoe Dawid vir Goliat verslaan het. Ek dink aan dapperheid, maar ek sien ook ’n seuntjie met ’n slingervel en drie klippies. Ek sien die Here se genade en seën oor iemand wat geskiedenis gemaak het deur dapper te wees en net op die Here te vertrou.
Dan keer my gedagtes weer terug na ons klein Dawid. ’n Seuntjie sonder ’n slingervel, een wat nog nie die geleentheid gehad het om vir Jesus te leer ken voordat hy vir Helpende Hand ontmoet het nie. Hy was egter reeds een van Jesus se skapies al het hy dit nog nie geweet nie, want hierdie klein Dawid is reeds op ses jaar oud besig om teen sy reus, sý Goliat, te veg!

Die reuse van geweld, dwelms, moord en verwerping
Dawid se lewe het bestaan uit woedeuitbarstings, dwelmverslawing by sy ouerhuis, diefstal, vyandigheid, geweld, verwerping deur sy mamma, alkoholmisbruik en die moord op sy pappa. Elke kind reageer op ’n unieke manier op so ’n skokkende gebeurtenis, maar dit kan veroorsaak dat verskeie emosies ervaar word, insluitend die reuse van angs, vrees, hartseer en verwarring wat hulle skadu oor die kind gooi.

Professionele hulp vir ’n gebroke hartjie
So jonk, maar reeds in stukke, het Dawid voor die deur van Solidariteit Helpende Hand se Ons Sentrum opgedaag. Die stukkies moet weer geheg word. Dit is gebrokenheid wat so ’n klein seuntjie glad nie verstaan nie en wat elke dag professionele hulp vereis.

Hoop vlam op
Terwyl klein Dawid met die hulp van ons kundige terapeute by Ons Sentrum die herstelproses begin, dink ek aan die feit dat Dawid van die Bybel nie as ’n prins in ’n paleis gebore is nie. Hy was maar net ’n skaapwagtertjie toe Samuel hom die dag as koning gesalf het. Nuwe hoop vlam in my hart op, want ek ken nie net ’n seuntjie nie, ek ken ’n seuntjie wat as koning hier gaan uitstap, want hy het ’n God, hy het ’n gemeenskap en hy het genesing binne bereik.

’n Nuwe familie vol liefde
Dawid se mamma wil hom nie ken nie, sy pappa is vermoor, maar sy familie vind hy nou in ’n gemeenskap van liefde en hulp by Helpende Hand. Dit is ’n gemeenskap wat sien hoe hard hy werk aan sy eie herstel. Elke oorwinninkie word gevier en ons is so trots op hom. Hy is ’n inspirasie vir ons en al die ander kinders wat ons pad kruis. Ter wille van ons kinders sal ons nooit ophou hoop en bid vir emosionele genesing nie. Hulle is die rede waarom ons elke oggend opstaan, werk toe kom en ons roeping uitleef, ons roeping om kinders soos Dawid te wys dat die lewe nie net wreed en hartseer hoef te wees nie, maar dat daar ook ’n toekoms lê wat reeds deur die Here uitgekerf is – ’n goeie een!

Ons klein Dawid se slingervel is Ons Sentrum en sy drie klippies is God, gemeenskap en geloof! Ons besef dat ons nie almal kan help nie, maar ons glo dat dié wat na ons toe gestuur word, hier is vir ’n spesifieke rede. Daarom sal ons nooit ophou om kinders se lewens te probeer verander en te verryk nie.

Daar is altyd hoop
Hierdie storie van herstel en volharding dien as ’n herinnering dat daar áltyd hoop is, selfs in die donkerste tye en dat liefde, ondersteuning en terapie ’n verskil kan maak in die lewens van kinders wat dit nodig het. “Sommige vertrou op strydwaens en ander op perde, maar óns, ons vertrou op die Naam van die Here ons God” (Ps 20:8). Ek ken ’n seuntjie, een wat van nou af voluit gaan lewe.

VAT HANDE MET ONS SENTRUM
Dit is hier waar kindertrauma aangehoor en hanteer word. Die sentrum val onder die vaandel van “Bemagtig ’n kind”, waar ons geleenthede vir kinders moontlik maak. Word deel van ons Bemagtig ’n kind-familie en maak so ’n verskil in ’n kind se lewe. Besoek bemagtignkind.co.za of word vandag deel van
die Helpende Hand-familie en besoek ondersteunons.co.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 02/12/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here