Artikelbron: Lig in Duisternis Uitgewers 

Die teoloog en skrywer, ds. Henning Dafel, en die illustreerder, Ester van Deventer, het onlangs saamgewerk om die eerste twee boekies van ’n reeks, Boustene van die Koninkryk (Gr. 1 & 2), te laat realiseer. Dié boekies is deur Lig in Duisternis Uitgewers gepubliseer.

Die boekies is elkeen op ’n spesifieke jaargroep gemik en bevat 27 Bybelverhale uit die Ou en Nuwe Testament, in maklik verstaanbare Afrikaans. Dit is propvol kleurvolle illustrasies, inkleurprente, plakkers en opbouende Bybelverse om te memoriseer. Saam wil die boeke, in breë trekke, jonger verbondskinders die groot verhaal van die Bybel laat beleef, verstaan en ken.

Ds. Dafel sê sy twee kinders (onderskeidelik vier en sewe), was die inspirasie agter sy besluit om met hierdie reeks te begin. “Ek wil graag sien dat hulle in die Bybel geanker is,” sê hy.

Hy verwys terug na die begin van sy eie laerskooljare en onthou hoe juffrouens Reinet Botha en Yvonne Goosen baie moeite gedoen het om hom en sy klasmaats te help om Bybelverse te memoriseer. Baie van hierdie verse onthou hy tot vandag toe! Dit is juis om hierdie rede dat ds. Dafel besluit het om memoriseringstekste by die Bybelverhale in te sluit.

“Ek gebruik dit self as ’n hulpmiddel met aandgodsdiens. Ek lees die vers wat vir memorisering bedoel is en verduidelik dan die gedagtes daarin. Daarna werk ons deur die verhaal wat in ses tot agt minute deurgelees kan word. Ons doen ook moeite om deur die vrae te werk sodat die verhaal ’n bietjie vasgelê kan word. Soos wat ’n mens met die werk van die Here besig is, bring Hy dikwels baie talentvolle mense oor jou pad,” vertel ds. Dafel oor die samewerking met Ester van Deventer, wat die illustrasies vir die boekies gedoen het.

“Ek het die eerste boek self probeer illustreer, maar gou besef dat die werkslading eenvoudig te veel is. Dit is juis toe dat die publikasiebeampte by Lig en Duisternis Uitgewers my gekontak het met nuus dat hulle ’n uiters talentvolle illustreerder in die oog het.”

Ester, wat reeds as vierjarige saam met haar ouma uit tydskrifte geteken het, is baie trots op die eerste publikasie waarin haar illustrasies verskyn.

“Dit was báie lekker om die boekies te illustreer. As daar kritiek gelewer is, was dit altyd baie eerlik en opbouend,” sê sy.

Ester noem dat sy baie vryheid met die illustrasies gehad het en dat Lig in Duisternis Uitgewers se riglyne was dat dit “eenvoudig, maar vol emosie” moes wees.

“Ek is baie dankbaar en opgewonde oor die manier waarop sy die boekies tot ’n heel nuwe vlak kon lig,” sê ds. Dafel. “Soos haar naam sê, is sy inderdaad ’n ster.”

Ds. Dafel se droom sluit ’n volledige bundel van Bybelverhale vir kinders in en selfs ’n animasiereeks gebaseer op Ester se unieke illustrasies. Sy bede is dat die Here hierdie materiaal sal gebruik om ’n nuwe generasie in sy Woord te anker sodat hulle ook kan getuig soos Hebreërs 6:19 sê: … en ons het dit as ’n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel …

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 03/01/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here