Artikelbron: The Christian Post
’n Hooggeregshof in Duitsland het beslis dat ’n algemene verbod op vreedsame gebedsbyeenkomste
naby aborsieklinieke die grondwetlike reg op vryheid van vergadering skend. The Christian Post het
berig oor ’n belangrike oorwinning vir die Duitse pro-lewe organisasie, 40 Days for Life.
Die uitspraak, wat verlede week deur die federale administratiewe hof in Leipzig gelewer is, dui die
einde van ’n uitgerekte regstryd aan.
“Die hof in Leipzig het dit weer eens duidelik gemaak dat vreedsame gebedsbyeenkomste nie
verbied kan word nie,” het dr. Felix Böllmann, die direkteur van die Europese-tak van ADF
International. “Gegewe die duidelike bevindings van die hof, sal dit die federale regering baat om
hom te weerhou van sy planne om fundamentele regte in die omgewing van aborsie-organisasies op
grootskaal te beperk.”
Die organisasie se reg op vreedsame byeenkomste is verlede Augustus deur ’n streekhof erken, ’n
besluit wat later deur die stad Pforzheim betwis is.
Die beslissing kom terwyl die federale minister van gesinsake, Lisa Paus, aangedring het op
“sensuursones”. Dit is sones waar pro-lewe-organisasies landswyd in Duitsland verbied word om te
bid of ander vorme van ondersteuning rondom aborsieklinieke aan te bied.
In die verlede het 40 Days for Life twee keer per jaar vergader om vreedsame gebedsbyeenkomste
te hou by ’n Pro Familia-tak – ’n filiaal van Planned Parenthood in Duitsland.
In 2019 het die stad Pforzheim die gebedsgroep verbied om binne sig van die Pro Familia-tak te bid,
ondanks die feit dat ’n dubbele snelweg die groep van die Pro Familia-gebou geskei het. Die hof is
genader om die verbod te betwis omdat die groep beweer het hulle reg op vryheid van vergadering
geskend is.
“Ek is geskok dat ons verhinder word om kwesbare vroue en hul ongebore kinders in gebed te
ondersteun. Dit is ontnugterend om te hoor dat stille gebedsbyeenkomste in ’n openbare plek deur
plaaslike owerhede beperk word. Ons samelewing moet moeders beter ondersteun in moeilike
situasies,” het Pavica Vojnović van 40 Days for Life gesê.
Die hofuitspraak is in skrille kontras met die regering se begeerte om gebedsbyeenkomste naby
aborsieklinieke te verbied. Minister Lisa Paus het byvoorbeeld herhaaldelik verklaar dat sy maatreëls
wil instel om gebed en ander ondersteuningsdienste rondom aborsieklinieke deur wettige maatreëls
te beperk.
“Die ekonomiese eiebelange van ’n organisasie soos Pro Familia kan nie voorrang geniet bo die
Duitse burger se fundamentele reg op vryheid van vergadering en uitdrukking nie,” het dr. Böllmann
gesê. “Hierdie mees onlangse uitspraak is ’n duidelike sein aan Berlyn dat ’n algemene verbod op
vreedsame gebedsbyeenkomste vir vroue in kwesbare situasies nie gepas is in ’n vrye en
demokratiese staat nie.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 27/06/2023
Foto: Alliance Defending Freedom International
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.