Geskryf deur: Bernhard Ficker Artikelbron: Artikel verskaf
Die ongeveer 200 afgevaardigdes en waarnemers van dwarsdeur die land wat die Koinonia Sinode
van dolerende NG-gemeentes bygewoon het, meld dat dit baie suksesvol was en dat daar ’n
besonderse gees van eenstemmigheid oor alle sake geheers het.
Dit was die eerste kategoriale sinode van NG-gemeentes wat nie deur geografiese grense
gedefinieer word nie. Die tema was “Saam op weg na Kerkreformasie”.
Bekendstelling van boek
Tydens die Konoinia Sinode is die boek Die Kerk met die Verkeerde Baas, amptelik deur ds.
Gerhard Mahne bekendgestel.
Hierdie boek wat deur ds. Mahne tesame met vyftien ander skrywers daargestel is, gee ’n baie goeie
oorsig van wat die afgelope twee dekades in die NG Kerk gebeur het. Dit wys daarop dat teologiese
liberalisme tussen die Bybel en die kerk kom lê het soos ’n balanseer bal en die kerk laat kantel.
Liberalisme probeer om geloof te handhaaf, maar tegelykertyd rasionele ongeloof daarmee te
balanseer. Die vraag word gevra: “Wat het geword van die ‘nou poort’ en die ‘smal pad’ wat na die
lewe lei (Matt 7:14)?” Lidmate verlaat daarom die kerk en ander volhard in sonde en gaan verlore.
Die boek is spesifiek geskryf vir diegene wat steeds die kernwaarhede van die Bybel as die lig op hul
pad wil hê. Dit is noodsaaklike leesstof vir elkeen wat wil weet wat aangaan en wat aangegaan het in
die NG Kerk. Dit gee ’n oorsig van die ruimhuisdenke sonder grense in die NG Kerk; die Algemene
Sinode se ruimdenkendheid oor verskeie sake; die Algemene sinode se Droomscenario 2030; die
groeiende humanisme met sy Skrifvreemde boodskap wat die NG Kerk ingesluip het; die ontstaan
van die Algemene Sinode as ’n “kultuurliggaam”; moontlike uittrede uit die algemene Sinodeverband; terug na ’n Federale Raad en die pad vorentoe.
Waar kry ek die boek?
Die boek is beskikbaar by die Strand Moedergemeente. Skakel 021-8531128 of whatsapp
0833971455 om die boek te bekom.
Ten einde dit moontlik te maak om die boek op massaskaal te versprei, is die kopie in boekvorm
beskikbaar teen ’n nominale bedrag van slegs R40 plus posgeld. Die e-boek is gratis verkrygbaar by
whatsapp 082-2377793 of op die webwerf www.koinoniasinode.org.za. Meer inligting is beskikbaar
oor hierdie Familie van Reformerende NG Kerke en die Koinonia Sinode op die
webwerwe www.koinoniasinode.org.za en www.glodiebybel.co.za.

Meer oor die Koinonia Sinode
Die Koinonia Sinode is die tuiste van dolerende gemeentes van die NG Kerk, waarvan daar tans
bykans 100 is. Dit is nou behalwe die groot getal behoudende gemeentes wat hulleself nog nie
amptelik as dolerend verklaar het nie, asook tienduisende dolerende lidmate wat nog by gemeentes
aanbid wat nie doleer nie. Doleer beteken om te treur. Dolerende lidmate en gemeentes treur dus
oor die liberale, humanistiese en onbybelse dwaalleer wat by die algemene sinode deur die liberales
die NG Kerk ingebring is.
Die Koinonia Sinode se deeglik voorbereide agenda was 100 bladsye lank en is deur beide teoloë en
lidmate opgestel. Ná deeglike beplanning is verreikende voorstelle aanvaar ten einde die vestiging
en groei van die doleer-beweging onder behoudende NG-gemeentes en Skrifgetroue lidmate te
verseker. Spesifieke planne vir amptelike mediasie met die Algemene Sinode is ook goedgekeur.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 27/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








