Geskryf deur: Donnelly McCleland
Artikelbron: www.incontextinternational.org
Sedert Dinsdag 26 September het amper 20 000 (van die geraamde totaal van 120 000) etniese
Armeniërs uit Azerbeidjan se Nagorno-Karabakh- wegbreekstreek (die Republiek van Artsakh vir
Armeense inwoners), in ’n volgehoue stroom na die veiligheid van die naburige Armenië gevlug.
Die Azerbeidjaanse militêre magte het verlede Dinsdag (19 September) volle beheer teruggeneem
van die bergagtige Nagorno-Karabakh-streek in ’n blitsige offensief. Binne ’n dag het die
Azerbeidjaanse militêre magte die separatistiese owerhede gedwing om daartoe in te stem om hul
wapens neer te lê en onderhandelinge aan te knoop oor Nagorno-Karabakh se “herintegrasie” in
Azerbeidjan ná drie dekades se regering deur die separatiste.
Volgens Armeense bronne is meer as 200 mense dood tydens ’n geveg wat van korte duur was, en
meer as 400 ander is beseer. Ondanks Azerbeidjan se versekering dat die regte van etniese
Armeniërs in die streek gerespekteer sou word indien hul Azerbeidjaanse burgerskap aanvaar, en
dat voorrade weer sou kon inkom ná ’n tien maande lange blokkade, vrees talle inwoners
weerwraak en het hulle besluit om na Armenië te vertrek. Internasionale waarnemers, insluitend die
EU, het gewaarsku dat jare van geweld, tesame met vurige rasseretoriek aan Azerbeidjan se
outoritêre regering se kant, versoening bemoeilik.
Die Nagorno-Karabakh- (Artsakh-) streek het ’n komplekse geskiedenis, insluitend ’n Christelike
erfenis wat terugdateer tot die vroeë Nuwe Testamentiese tye. Die groter streek het deur die eeue
onder die beheer gekom van die Perse, Turke, Russe, Ottomane en Sowjets en steeds het die
Armeense Kerk deur die eeue, ondanks gereelde en erge onderdrukking, oorleef. Hoewel Nagorno-Karabakh (Artsakh) byna heeltemal deur etniese Armeniërs bewoon word (hoewel dit nie altyd so
was nie), word dit internasionaal as deel van Azerbeidjan erken. Armenië en Azerbeidjan het in die
laaste drie dekades twee groot oorloë oor Nagorno-Karabakh gevoer.
In 1989, net voor die val van die Sowjet-Unie, was daar 145 593 Armeniërs (76,4%), 42 871
Azerbeidjani’s (22,4%) en verskeie duisende Koerde, Russe, Grieke en Assiriërs. In die nadraai van die
jare toe die hewigste gevegte plaasgevind het tydens die Eerste Nagorno-Karabakh-oorlog (1992-
1993), wat Armenië gewen het, is die hele Azerbeidjan en Koerdiese bevolking egter verdryf uit dié
streek en die sewe omringende distrikte wat hoofsaaklik deur ’n geraamde 700 000 Azerbeidjani’s
bewoon is.
Twee dekades van relatiewe stabiliteit het gevolg, maar in die 2010’s het daar verandering ingetree,
en in laat 2020, het die grootskaalse Tweede Nagorno-Karabakh-oorlog tot duisende sterftes asook
’n beduidende oorwinning vir Azerbeidjan gelei. Op 10 November 2020 was daar ’n wapenstilstand
op grond van ’n skietstakingsooreenkoms wat deur drie partye – Armenië, Azerbeidjan, en Rusland –
onderteken is en wat daartoe gelei het dat Azerbeidjan al die geokkupeerde gebiede rondom
Nagorno-Karabakh herwin het, en het hulle ook ’n derde van Nagorno-Karabakh self ingeneem.
Ná Azerbeidjan se onlangse oorwinning, het die Armeense Eerste Minister, Nikol Pashinyan, gesê hy
verwag dat die meeste van die 120 000 burgerlikes die streek sal verlaat en na Armenië sal vlug
weens “die gevaar van etniese suiwering”, en ’n vergelyk getref met die Armeense menseslagting
van 1915 deur Ottomaanse magte. Dekades van bittere konflik, gruweldade en verplasing van mense
het ’n gebrek aan vertroue en aansienlike vyandigheid tussen die twee kante meegebring.
Hierbenewens moet die krisis teen die agtergrond van die groter geopolitieke landskap gesien word.
Op Maandag 25 September, terwyl duisende Armeniërs gevlug het, het die Turkse president Recep
Tayyip Erdoğan en Azerbeidjan se president Ilham Aliyev in Azerbeidjan se Nakhchivan eksklave
ontmoet (’n semi-outonome streek wat deur Armeense gebied van Azerbeidjan geskei word). Pres.
Erdoğan het gesê dat hulle kan trots wees op Azerbeidjan se oorwinning in Karabakh, want “die
operasie is suksesvol voltooi binne ’n kort tydperk, met uiterste sensitiwiteit vir die regte van
burgerlikes”. Die twee leiers het ’n ooreenkoms onderteken vir ’n gaspyplyn, wat die eksklave met
Turkye, waarmee hy ’n klein grens deel, verbind.
Die bondgenote, Turkye en Azerbeidjan, is nie die enigste geopolitieke spelers wat oor die onlangse
militêre oorname van die betwiste streek iets te sê het nie. In die nadraai van die oorname het die
Armeense regering openlik gal afgegaan teenoor Rusland – sy jarelange tradisionele strategiese
vennoot – dat hy “absoluut onverskillig staan” teenoor Azerbeidjaanse “aggressie” teen Armenië.
Rusland het gereageer deur te sê die Armeense eerste minister, Nikol Pashinyan, het net homself te
blameer vir Azerbeidjan se oorwinning oor Karabakh omdat hy daarop aangedring het om met die
Weste, eerder as met Moskou en Bakoe saam te werk om vrede te bewerkstellig.
In die dekades lange konflik het die EU, Amerika, Israel en Turkye almal voordeel getrek uit
wapenverkope aan Azerbeidjan; en Rusland het voordeel getrek uit die verkoop van wapens aan
beide kante. Azerbeidjan se oorwinning in 2020 was grootliks te danke aan die tegnologiese
voordeel wat dit uit al daardie buitelandse wapenaankope verkry het. Daarbenewens het
Azerbeidjan se oliereserwes ook ’n deurslaggewende rol gespeel in die verkryging van steun veral
van die EU en Israel.
Ondanks die ooglopende globale magsinvloede, word die sektariese konflik tussen Armenië en
Azerbeidjan dikwels in godsdienstige terme beskou – Armenië met ’n Christen-meerderheid teenoor
Azerbeidjan met ’n Moslem-meerderheid. Armenië, wat die Christendom in die vroeë 300’s n.C. as
sy staatsgodsdiens aangeneem het, is die wêreld se eerste Christelike nasiestaat. Volgens
oorlewering het die apostels Taddeus en Bartolomeus in die eerste eeu daar gepreek. Ongeveer 98%
van Armeniërs in Artsakh behoort aan die Armeense Apostoliese Kerk, ’n Oosterse Christelike
denominasie in gemeenskap met ander Ortodokse kerke, terwyl ongeveer 0,37% as Evangelies
identifiseer. Daarenteen is Azerbeidjan ’n land met ’n Moslem-meerderheid waarvan 85,9% Sjiïtiese
Moslems is, terwyl slegs 2,53% Christene is (met ongeveer 0,22% van hulle wat Evangelies is).
In ’n artikel in Christianity Today van Februarie/Maart 2022 vra die joernalis Jayson Casper die
vraag: “Hoe sal hulle [Christene aan beide kante van die konflik], indien enigsins, hul intense verskille
kan versoen?” As hierdie soort vraag na afloop van die tweede oorlog gevra is, watter vrae sal nou
gevra word, ná wat blyk die finale nederlaag te wees? Alhoewel die aantal Armeense Christene meer
as Azerbeidjaanse Christene is, bly die feit staan dat daar volgelinge van Christus aan beide kante
van hierdie bloedige en langdurige konflik is. Kan Christene, gevul deur die transformerende krag
van die Heilige Gees, nie ’n gemeenskaplikheid in Christus vind wat geopolitieke verskille en
historiese gruweldade te bowe kan kom nie? En, as hulle so ’n goddelike gemeenskaplikheid kan
vind, moet hulle wag vir hul regerings om vrede te maak, of moet hulle nie self begin deur vrede te
maak met medegelowiges agter die “linies van die vyand” nie? Niemand sal dit hoegenaamd as ’n
maklike taak beskou nie, maar die meeste sal saamstem dat dit ’n groot impak kan hê en ver sal gaan
om ’n heel ander gees ten toon te stel – een van vergifnis en versoening, in teenstelling met dié van
die wêreld – een van wraak en vergelding.
’n Armeense pastoor het met INcontext gedeel dat baie Armeense gelowiges vreesbevange is sedert
Azerbeidjan se beslissende heroorname van Nagorno-Karabakh – hulle weet nie wat dit vir Armenië
kan beteken, wat die toekoms inhou en of Azerbeidjan en hul bondgenoot, Turkye, dalk meer
grondgebied van Armenië gaan afvat nie. Daar heers ’n gees van vrees en onsekerheid. Dit
veroorsaak dat sommige mense God blameer en Hom bevraagteken oor hoekom Hy dit toelaat. Dit
veroorsaak egter ook dat baie mense hulle tot God wend, en meer mense is oop daarvoor om
Christus as hulle Verlosser aan te neem, nie bloot net van Hom te weet a.g.v. kulturele en historiese
invloed nie.
Dit laat mens dink aan ander oorlogsituasies, waar die Koninkryk besig is om uit te brei, soos wat
tans in die Oekraïne plaasvind. Die pastoor het verder verduidelik dat hierdie tipe prediking mense
aanmoedig om nie hul hoop op wêreldse oplossings – ander lande, hetsy die Weste of Rusland – te
vestig nie, maar eerder op God. Hy beklemtoon aan sy gemeente en ander gelowiges dat die Kerk
nie deur al hierdie kwessies afgelei moet word nie, maar eerder op hulle werk gefokus moet bly. Hy
is oortuig daarvan dat Armenië ’n verantwoordelikheid het om die Goeie Nuus te deel, veral met hul
bure – Azerbeidjan, Turkye en Iran. Hulle moenie toelaat dat hierdie aangeleenthede hulle aandag
aflei om hierdie nasies met die evangelie te bereik nie.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid vir God se beskerming oor Armenië en sy mense, dat die situasie nie sal vererger en in
volskaalse oorlog sal ontaard nie;
• dat Azerbeidjaanse owerhede en die militêre magte wat beheer oor die streek oorgeneem
het, die inwoners met menslikheid en regverdigheid sal behandel; en
• dat die Here herlewing in die Armeense Kerk teweeg sal bring en dat hulle hul roeping sal
vervul om hul bure met die reddende evangelie van Christus te bereik.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 30/09/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.