Geskryf deur: Freedom of Religion South Africa
Artikelbron: Artikel verskaf 

Voorleggings van die publiek aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oor die omstrede Wetsontwerp op Haatspraak, het Donderdag, 25 Mei om 13:00 gesluit. Ondanks die kort tydperk van 26 werk dae wat vir kommentaar gegee is, is meer as 50 000 individuele voorleggings aan die NRP gelewer, talle daarvan deur organisasies wat tienduisende lede van die diverse geloofsgemeenskappe van Suid-Afrika verteenwoordig.

“Hierdie voorgestelde wet is ’n ernstige bedreiging vir ons grondwetlike reg op godsdiensvryheid en die fundamentele demokratiese reg van vryheid van spraak,” sê Michael Swain, die uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa (FOR SA), “Niemand behoort strafregtelike vervolging hoef te vrees net omdat hulle sê wat hulle glo nie – selfs al vind ander hulle sienings hoogs aanstootlik of onaanvaarbaar.”

Hierdie wetsontwerp is van die begin af deur voorstanders van vrye spraak teengestaan, insluitend akademici, politieke partye en burgerlike organisasies soos die Campaign for Free Expression, die Free Speech Union of South Africa en die Instituut vir Rasseverhoudinge. Kritici het die wetsontwerp as ongrondwetlik uitgedaag en die vae en te wye definisie van “haatspraak” bevraagteken. Dié definisie slaag ironies genoeg nie daarin om “haat” te definieer nie en die wye lys van beskermde kategorieë, die drakoniese maksimum vonnis van tot agt jaar tronkstraf vir oortreders en die duidelike gebrek aan ’n duidelike en robuuste klousule wat vryheid van spraak en uitdrukking beskerm.

’n Duidelike aanduiding van die ongewildheid van hierdie voorgestelde wet word bewys deur die tienduisende skriftelike voorleggings wat deur individue en organisasies gemaak is om hierdie wetsontwerp teë te staan, sedert die bekendstelling daarvan deur die departement van justisie in 2016, toe die wetsontwerp meer as 70 000 skriftelike voorleggings van die publiek ontvang het.

Toe dit in 2021 deur die Nasionale Vergadering weer vir kommentaar oopgestel is, is meer as 100 000 voorleggings gemaak wat die wetsontwerp teengestaan het en veranderings aanbeveel het. Baie van hierdie voorleggings het gevra dat die haatspraakkomponent van die wetsontwerp in sy geheel geskrap word. Die meerderheid van hierdie voorleggings was van die godsdienssektor, wat deeglik bewus is daarvan dat hierdie wet die potensiaal het om ingespan te word teen mense wat bloot deur uiting te gee aan hulle geloofsoortuigings, ander kan aanstoot gee.

FOR SA wys daarop dat Suid-Afrika reeds bestaande wette het wat doeltreffend gebruik word om haatspraak te straf. Die Gelykheidswet gee aan die howe ’n wye reeks magte om skadevergoeding en ander siviele strawwe op te lê. ʼn Voorbeeld van wette wat heeltemal genoegsaam is om rassistiese spraak suksesvol te vervolg, is te sien in die onlangse sake van byvoorbeeld Vicky Momberg en Penny Sparrow.

Die Wetsontwerp op Haatspraak is nie net onnodig nie”, het FOR SA se regsadviseur, Daniela Ellerbeck, gesê, “maar as dit in sy huidige vorm deurgevoer word, sal dit makliker wees om as ’n misdadiger tronk toe gestuur te word as om beveel te word om ’n openbare verskoning te maak.”

Ondanks die sterk teenkanting, is die wetsontwerp reeds op 14 Maart 2023 deur die Nasionale Vergadering goedgekeur en, indien dit deur die NRP sonder wysigings goedgekeur word, sal dit eers deur die president onderteken moet word voordat dit in werking tree.

“Ons hoop van harte dat die NRP na die wil van die burgers sal luister.” het Michael Swain gesê, “As ’n nuwe demokrasie kan ons nie bekostig om terug te keer na die apartheidsjare se donker dae van sensuur nie.”

Foto: FOR SA se uitvoerende direkteur, Michael Swain, en FOR SA se regsadviseur, Daniela Ellerbeck, lewer meer as 10 000 skriftelike voorleggings aan die NCOP-kantoor om die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraak [B9B-2018] teen te staan.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 26/05/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here