Geskryf deur: Cassy Fiano-Chesser 
Artikelbron: www.liveaction.org

Dokters in Boston het onlangs ’n verstommende, lewensreddende breinoperasie op ’n ongebore baba uitgevoer terwyl sy nog in die baarmoeder was. Hoewel ander in-utero-operasies al uitgevoer is, was dit die eerste keer dat hierdie spesifieke prosedure ooit uitgevoer is.

Besonderhede oor die operasie is vandeesweek in die mediese joernaal Stroke gepubliseer. Die babadogtertjie is op 30 weke met ’n seldsame bloedvatmisvorming in die brein gediagnoseer. Ongeveer die helfte van kinders wat met VOGM gediagnoseer is, het ’n misvorming wat nie reggestel kan word nie en lei kort na geboorte tot die dood. Vir kinders wie se misvorming behandel kan word, is die prognose egter baie goed.

Volgens die MIT Technology Review het die dogtertjie se ouers ingeskryf vir ’n kliniese proef in die hoop om haar lewe te red.

“Met verloop van tyd blaas die aar in wese op soos ’n ballon,” sê Darren Orbach, ’n radioloog by die Boston Kinderhospitaal in Massachusetts wat babas behandel wat met die toestand gebore word. “Dit plaas skielik ’n enorme las op die pasgebore baba se hart en die meeste babas met hierdie toestand sal spoedig uiters siek word.”

Mario Ganau, ’n neurochirurg by Oxford Universiteitshospitale in die Verenigde Koninkryk, het verder verduidelik: “Dit ontneem die res van die sirkulasiesisteem van bloed.” Gewoonlik probeer dokters om die misvorming ná geboorte reg te stel; maar ongelukkig is dit soms te laat.

Derek en Kenyatta Coleman het met CNN oor hul swangerskap gepraat. Die egpaar was verheug om hul vierde baba te verwag, maar die vreugde het in vrees verander. Toe hulle egter hoor van die kliniese proef wat by Brigham and Women’s-hospitaal en Boston Kinderhospitaal plaasvind, het hulle van hul huis in Baton Rouge, Louisiana, gereis om hulle babadogtertjie – met wie Kenyatta toe 34 weke swanger was – die beste kans op oorlewing te gee.

Met behulp van ’n skandering het dokters die baba eers medikasie gegee om te verseker dat sy nie beweeg nie en dat sy nie pyn sal ervaar nie. Toe het hulle ’n naald deur die ma se buik gedruk en ’n kateter deur die naald geryg, sodat klein spiraalspoeletjies die aar kon vul, bloedvloei vertraag en sodoende die druk verminder.

“Dit was opwindend dat ons tegniese sukses behaal het met die embolisering,” het Orbach gesê en bygevoeg dat die baba onmiddellik tekens van verbetering getoon het.

Twee dae ná die operasie het Kenyatta is baba Denver vroeggebore.

“Ek het haar vir die eerste keer hoor huil – ek kan nie eers in woorde beskryf hoe ek op daardie oomblik gevoel het nie,” het Kenyatta gesê. “Dit was die wonderlikste oomblik om haar vas te hou, na haar te kyk en haar toe te hoor huil.”

Haar pa, Derek, het bygevoeg: “Ek het haar ’n soentjie gegee … ”

Twee maande later floreer Denver en die dokters glo dat geen verdere prosedures nodig sal wees nie.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 01/06/2023
Foto: The Coleman Family

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here