Geskryf deur: FEBA Radio Suid-Afrika
Artikelbron: Artikel verskaf
“Die FEBA Mosambiek- en FEBA Malawi-spanne werk 24 uur per dag om te help waar hulle ook al kan, maar trotseer talle uitdagings soos die voortdurende modderstortings en kragtige strome wat mense meesleur.”
Tropiese storm Freddy het verwoesting gesaai in Mosambiek en Malawi en tot die dood van meer as 320 mense gelei. Dié getal neem teen ‘n kommerwekkende tempo toe. Benewens die bedroewende dodetal is duisende mense beseer, van hul geliefdes geskei en het hulle hul huise verloor.
Die sikloon het sentraal Mosambiek eerste getref op Saterdag die 11de Maart en wydverspreide oorstromings veroorsaak en dakke van geboue afgeruk voordat dit na die binneland verskuif het na Malawi, waar dit grondverskuiwings en kitsvloede veroorsaak het.
Die ware omvang van die skade en lewensverlies word steeds bepaal, met kragtoevoer en telefoonseine wat in sommige gebiede afgesny is. Die storm word beskryf as een van die sterkste wat nog in die suidelike halfrond aangeteken is en kan moontlik ook die een wees wat die langste geduur het. Die situasie is kritiek in die Zambezia-provinsie van Mosambiek, waar daar geen kontak gemaak kan word met die streke nie.
Die storm het ook bestaande probleme vererger: soos Malawi se dodelikste cholera-uitbreking ooit en Mosambiek wat reeds ’n jaar se reënval binne vier weke gehad het. Klimaatwetenskaplikes skryf die groter krag van tropiese storms aan fossielbrandstof-gedrewe klimaatsverandering toe wat hitte-energie van warm seewater na die atmosfeer oordra. Die humanitêre agentskappe wat in die geaffekteerde gebiede teenwoordig is, het nie tans die vermoë om die ramp te hanteer nie.
FEBA se stasiedirekteur in Mosambiek het die organisasie meegedeel dat FEBA se radiotoring by die Zambezia-radiostasie, Impact Radio, ineengestort het as gevolg van die monsteragtige Freddy. Dit sal die span verhoed om die Goeie Nuus uit te saai totdat die stasie weer herstel is.
Die FEBA Mosambiek- en FEBA Malawi-spanne werk 24 uur per dag om te help waar hulle ook al kan, maar trotseer talle uitdagings soos die voortdurende modderstortings en kragtige strome wat mense meesleur.
Bid asseblief dat God die luisteraars en spanne in al twee lande sal beskerm terwyl hulle hierdie verskriklike situasie die hoof bied.
As jy ‘’ skenking wil maak om die Impact Radiostasie te help herbou, besoek gerus www.febaradio.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/03/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.