Geskryf deur: Gerda Potgieter
Mercy Ships Suid-Afrika is deel van die groter Mercy Ships Internasionaal-organisasie wat operasies aanboord uitvoer teen geen koste vir diegene wat nie vrye toegang het tot mediese sorg nie. Dit is een van sestien nasionale kantore wat daar gestel is om hoop en heling te bring. Die werk wat die vrywilligers aan boord hierdie hospitaalskepe doen, is nie net inspirerend nie, maar lewensveranderend vir diegene wat deur hulle gehelp word. Die inspirerende verhaal hieronder is dié van klein Memunatu en ons deel graag haar reis na genesing met Mercy Ships met u.
Die wonderverhaal het begin toe Anne-Marie van Tonder, ’n administratiewe assistent op die Global Mercy™, Memunatu by ’n plaaslike kinderhospitaal in Freetown (Sierra Leone) raakgesien het. “Ek het hierdie klein babatjie, baie broos, na my sien kyk,” het Anne-Marie, ’n vrywilliger van Suid-Afrika, gesê. “Dis asof sy direk in my lewe gepraat het. Dit was ’n ware geestelike ingryping”.

Sy was skaars 10 maande oud toe daar ’n groot knop in klein Memunatu se nek, naby die keel area, verskyn het. Dit het gegroei uit ’n klein massa wat verskyn het toe sy slegs vyf maande oud was. Haar ma, Aminata, het verduidelik dat dokters vir haar gesê het dat haar baba te jonk was vir hulle om in te gryp en dat hulle nie kon help nie. “Die probleem het begin toe sy maar vyf maande oud was, asof sy ’n verkoue gehad het,” het Aminata gesê. “Ek het haar hospitaal toe geneem; hulle het gesê dis ’n verkoue en het haar daarvoor behandel. Maar toe het haar nek area al hoe groter begin word.”
Aminata is na verskeie dokters verwys en het uiteindelik ’n nabygeleë kinderhospitaal besoek, waar Anne-Marie vrywillig kos afgelewer het. Anne-Marie is onmiddellik getref deur die lot van die klein baba en het verplig gevoel om te help. Sy het die taak aangepak om uit te vind of sy die kleinding na die Global Mercy kon laat verwys, wat net ‘n paar blokke verder vasgemeer was.
By Mercy Ships skeduleer die span pasiënte lank voor ’n velddiens, maar Memunatu het nie die registrasie-inisiatief bygewoon nie. Dit het beteken dat die enigste manier waarop sy ’n operasie kon kry, deur ’n verwysing was.

“Dit gebeur nie dikwels dat ons sommige van ons verwysings laat in ’n velddiens help nie, want ons het ’n baie vol skedule. Maar as gevolg van haar geval, gebaseer op haar ouderdom en haar grote, en na haar CT-uitslae van die plaaslike hospitaal, was ons bekommerd oor haar toestand en het geweet dat ons haar vinnig moes inkry,” het Krystal Franke, ’n vrywillige preoperatiewe bestuurder van die Verenigde State, gesê. Daardie aand, voor die operasie, het Krystal Memunatu se ma besoek.
“Ek het net besonder geroepe gevoel, as ’n ma, om haar ondersteuning te gee terwyl sy hier was,” het Krystal vertel. “Ek kon sien sy was net bang en bevrees vir haar dogter se lewe. En ek weet hoe dit is.”
’n Britse dokter aanboord die Global Mercy, Dr Leo Cheng, was seker dat die uitgroeisel nie kankeragtig was nie, maar dat dit wel ’n lewensgevaar vir die klein mensie ingehou het as dit nie aandag sou geniet nie. Die delikate operasie is aanboord die skip gedoen en dit was ’n reuse sukses. Vir haar moeder was dit die laaste hoop. ’n Mens sidder om te dink wat met die kleinding kon gebeur het as Anne-Marie haar nie raakgesien en oor haar ontferm het nie.
WAT IS DIE MERCY SHIPS?
Die toegewyde vrywilligers van Mercy Ships beliggaam opregte deernis en nederigheid in hul onwrikbare diens aan ander. Hierdie spanne pas voortdurend aan en groei, en lok meer passievolle individue wat gemotiveer word deur die diep vervulling wat verkry word deur ’n positiewe verskil in die lewens van diegene in nood te maak. Deur hul meedoënlose pogings verhelder hulle selfs die moeilikste situasies en bevorder hulle ’n sterk gevoel van verbintenis en solidariteit tussen mense.
Elke vrywilliger bring hul unieke vaardighede en ervarings, werk saam om lewens- veranderende mediese sorg en ondersteuning te bied, en skep ’n omgewing waar hoop floreer, selfs te midde van teëspoed. Hul onselfsugtige toewyding verander nie net die lewens van pasiënte nie, maar verryk ook dié van die vrywilligers, terwyl hulle blywende bande bou deur hul kollektiewe toewyding aan genesing en deernis.
Mercy Ships is ’n merkwaardige deel van ’n wêreldwye Christelike gemeenskap, wat volledig-toegeruste hospitaalskepe bedryf. Dit word beman deur toegewyde vrywilligers van regoor die wêreld wat gratis, lewensveranderende operasies aanbied regoor Afrika aan diegene in nood. Mercy Ships bied ’n wye reeks mediese dienste, insluitend katarakverwydering, herstelwerk aan gesplete lippe, ortopediese prosedures en maksillofaciale chirurgie. Die vrywilligers lewer uitsonderlike sorg aan individue wat andersins beduidende hindernisse ondervind met betrekking tot toegang tot mediese sorg. Mercy Ships is u ondersteuning en tyd werd.
NOTA: Hierdie inspirerende storie bo is maar een uit tonne ander. Die volle verhaal van klein Memunatu kan gesien word deur die skakel onder te volg. As jy ’n vrywillige werker is of iemand ken wat is, volg Mercy Ships se inspirerende reis op YouTube en op hul webwerf: mercyships.co.za.
Kyk “Memunatu’s Mercy Ships Journey”:
Foto’s verskaf
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








