Geskryf deur: International Christian Concern
Artikelbron:persecution.org

Die Afrika-unie het uiteindelik die moorde op Christene in Nigerië aangespreek en ’n verklaring uitgereik in reaksie op president Donald Trump se dreigemente teen Nigerië indien omstandighede nie verander nie.

Op 31 Oktober het Trump Nigerië amptelik as ’n “Country of Particular Concern” (CPC) aangewys en die aandag gevestig op Christene wat geteiken word daar. Hy het met militêre ingryping gedreig indien Nigerië nie optree om die moorde te stop nie.

Nou slaan die Afrika-unie terug en beweer dat dit ongeregverdig is om Nigerië vir die aanvalle verantwoordelik te hou. Die Afrika-uniekommissie, die administratiewe en uitvoerende arm van die Afrika-unie, het verklaar dat Nigerië die soewereine reg het om sy interne sake te bestuur, insluitend veiligheid, godsdiensvryheid en menseregte.

Die kommissie het in ’n onlangse persverklaring gesê dat hulle bekommerd is oor “… onlangse uitsprake deur die Verenigde State van Amerika wat beweer dat die regering van Nigerië medepligtig is aan die geteikende moord op Christene en wat militêre optrede dreig”, en het verder beklemtoon dat “enige eksterne betrokkenheid Nigerië se soewereiniteit, territoriale integriteit en eenheid moet respekteer …”

Die Afrika-unie verteenwoordig 55 lande en het gesê dat hulle enige narratief verwerp wat “godsdiens as wapen gebruik of veiligheids uitdagings oormatig vereenvoudig”. President Trump het gedreig om hulp aan die land te sny en geniet die steun van die VSA se minister van verdediging om jihadistiese terreurgroepe aan te val wat Christene geteiken het.

Die Afrika-unie steun nie hierdie benadering nie en stel dat “om alle geweld saam te vat onder een enkele narratief wat godsdiens teiken, doeltreffende oplossings kan belemmer en gemeenskappe kan destabiliseer …”

In reaksie op president Trump se dreigemente het president Tinubu van Nigerië gesê dat die land met groot veiligheids uitdagings te kampe het en beklemtoon dat die Nigeriese regering daaraan werk om terreurgroepe binne die land uit te skakel. In ’n verklaring op 7 November het hy gesê dat Nigerië al die afgelope 20 jaar deur terrorisme geteister word en belowe dat hy nie sal ophou voordat die probleem uitgeskakel is nie.

“Ons sal terrorisme beslissend verslaan en oorwinning in hierdie stryd behaal. Veiligheid is nie onderhandelbaar nie, en ons sal nooit op hierdie beginsel kompromie aangaan nie. Met onwrikbare moed en ’n standvastige toewyding aan die oppergesag van die reg, sal ons seëvier,” het hy gesê. “Aan die dapper mans en vroue van ons weermag en ons intelligensiegemeenskap, verenig in doel ongeag stam of godsdiens, wat vreesloos dien, sy aan sy veg en soms die hoogste prys betaal, betuig ons ons diepste dank. Julle toewyding is ons krag in die stryd teen terreur.”

Die Nigeriese minister van buitelandse sake, Yusuf Tuggar, het ook tot die debat bygedra en gesê dat die regering nie godsdiensvervolging kan ondersteun nie, aangesien dit strydig is met Nigerië se waardes.

“Dit is onmoontlik dat daar godsdiensvervolging kan wees wat op enige wyse, vorm of vlak deur die regering van Nigerië gesteun kan word, hetsy op federale, streek- of plaaslike vlak,” het Tuggar gesê. “Dit is onmoontlik.”

Die minister van inligting en nasionale oriëntasie, Alhaji Mohammed Idris, het soortgelyke gevoelens herhaal en gesê dat die land met ’n terrorismeprobleem te doen het, nie met ’n spesifieke Christenvervolging nie.

Nigerië se minister van lugvaart en ruimtevaartontwikkeling, Festus Keyamo, het ’n brief aan president Trump geskryf en weer verklaar dat die land terrorisme beveg, nie Christenvervolging nie.

“Trouens, meeste van die veiligheidsbase wat deur hom aangestel is, is Christene, so dit is ondenkbaar om te verbeel dat hulle medepligtig sou wees aan die dood van mede-Christene in Nigerië … President Bola Ahmed Tinubu van Nigerië, hoewel ’n Moslem, is ’n bekende ‘gematigde’ wie se vrou ’n pastoor is in een van die grootste Pinksterkerke in Nigerië, en meeste van sy kinders is praktiserende Christene.”

Keyamo het verder aangevoer dat daar geen godsdiensvervolging in die land is nie, maar dat hulle hulp vra om terreurverwante probleme die hoof te bied.

“Ons vra vir samewerking,” het hy gesê. “Ons vra vir eerlike en oop dialoog met u regering in hierdie tyd. Ons vra dat u, u bronne van inligting in hierdie stadium verbreed, sodat u ’n gebalanseerde prentjie kan kry van wat in Nigerië gebeur.”

Die Afrika-unie het hierdie gevoelens beaam en die Verenigde State versoek om met Nigerië in gesprek te tree deur diplomatieke dialoog, intelligensie-deling en vennootskap, terwyl Nigerië se soewereiniteit gerespekteer word.

Hoewel daar meningsverskil is oor wat presies Christenvervolging behels en wat tans gebeur, is daar wel eenstemmigheid dat daar ’n ernstige probleem is wat aangespreek moet word om die geweld in Nigerië te stop.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 23/11/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here