Geskryf deur: Ken Ham
Artikelbron: harbingersdaily.com
Die een oomblik het ’n dinosourus van sowat 7 meter lank en om en by 1 000 kg aan ’n krokodilpoot gekou, die volgende oomblik was dit katastrofies begrawe. Duisende jare later het paleontoloë dit opgegrawe en as ’n nuwe megaraptor-spesie benoem: Joaquinraptor casali.
Hierdie unieke vondst van kakebeen-, skedel-, voorarm-, been- en stertwervelfragment maak dit “een van die volledigste megaraptor-spesimens wat tot dusver ontdek is”, en die eerste wat direkte bewyse gee van wat hierdie vleiseter geëet het: blykbaar “oue voorouers van krokodille” (in die artikel crocodyliforms genoem), gebaseer op ’n been uit ’n poot wat tussen die onderkake van Joaquinraptor gevind is. Die navorsers sê wel die been kon moontlik ná die dier se dood in die bek ingespoel het, maar op grond van die posisie en tandmerke op die been, beskou hulle dit as onwaarskynlik.
Vondse soos hierdie, wat keer op keer opduik, herinner ons aan die waarheid van God se Woord en die wêreldwye vloed in Noag se tyd. Soos ek onlangs in ’n artikel oor dinosourus-spore verduidelik het, is fossielvorming ’n seldsame gebeurtenis wat baie spesifieke omstandighede vereis, soos vinnige begrawing. ’n Dier wat bewaar word terwyl dit nog besig is om te eet, wys op ’n gewelddadige en skielike katastrofe wat ’n dier só vinnig kon oorweldig en begrawe dat dit nie eens sy ete klaar kon maak nie.
Bewyse vir die wêreldwye vloed is oral rondom ons, maar baie wetenskaplikes mis dit omdat hulle geïndoktrineer is om die data deur die bril van stadige, geleidelike prosesse te interpreteer. Maar sulke prosesse vorm nie fossiele nie. Ons sien beslis nie dat dit vandag gebeur nie.
Ek onthou hoe ’n sekulêre wetenskaplike tydens ’n konferensie iets in hierdie lyn gesê het: “Ek sien geen bewys vir ’n wêreldwye vloed nie, al wat jy kry, is fossiellae regoor die wêreld.” Só verblind. Die bewyse het hom in die gesig gestaar. Die gewelddadige dood van miljarde en miljarde skepsels in rotslae regoor die aardbol wys op iets baie anders wat in die verlede gebeur het – ’n massiewe katastrofe.
Daardie katastrofe is opgeteken deur die Ooggetuie van alle geskiedenis, die Skepper-God, in Sy volmaakte Woord. Ja, die wetenskap bevestig steeds die wêreldwye vloed in Noag se dag.
Foto slegs ter illustrasie.
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








