Geskryf deur David Grobler
Ons leef in ’n wêreld wat behep is met wins. Invloed, erkenning, sekuriteit en prestasie het die maatstawwe vir sukses geword. Soveel se lewens word gebou rondom die bymekaarmaak van goed, met die stille hoop dat wat uiterlik verkry word, uiteindelik sal stabiliseer wat innerlik onrustig voel. Tog konfronteer die Skrif hierdie aanname direk. Paulus skryf: “Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het” (1 Tim 6:6). Wanneer ’n mens sy woorde mooi lees, sien jy dat hy nie teen wins gekant is nie. Hy herdefinieer dit. Die grootste wins wat vir ’n mens beskikbaar is, word nie gevind in wat ons besit nie, maar in wie ons word. In Paulus se tyd, net soos in ons s’n, word godsvrug dikwels behandel as ’n middel tot iets groters. Paulus spreek daardie aanname reguit aan. Godsvrug self is die wins.
Waar godsvrug begin
Paulus veranker hierdie verstaan in Christus wanneer hy skryf: “En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom …” (1 Tim 3:16). Godsvrug is nie ’n selfverbeteringsprojek of ’n verfynde morele kode nie. Dit begin by Christus. Sy lewe, dood en opstanding het herstel wat sonde verwring het en die pad oopgemaak vir mense om van binne af verander te word. Godsvrug kom wanneer ons lewe met Hom in pas is. Dit is Christus wat in ons gestalte kry en ’n lewe vorm wat nie meer om onsself draai nie, maar rus in die feit dat Hy genoeg is. Daarom waarsku Paulus: “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie” (2 Tim 3:5). Dit is moontlik om die voorkoms van vroomheid na te boots terwyl die hart onaangeraak bly. Ware godsvrug is nie uiterlike aanpassing nie. Dit is innerlike transformasie wat deur die inwonende Christus bewerk word.
Die oproep om godsvrug na te jaag
Hierdie transformasie is nie passief nie. Paulus beveel: “Oefen … om in toewyding aan God te lewe” (1 Tim 4:7). Godsvrug moet gekweek word. Net soos fisiese oefening die liggaam versterk, versterk geestelike dissipline die innerlike lewe. Deur gehoorsaamheid, gebed en oorgawe aan die Gees verander ’n mens se denke en begeertes en word sy identiteit al hoe meer in Christus gevestig. Later verskerp Paulus die oproep: “Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid” (1 Tim 6:11). Godsvrug gebeur nie toevallig nie. Dit word nagejaag omdat dit ons in lyn bring met die lewe en karakter van Christus.
Gemeenskap is nie bysaak nie
Paulus sê vir Timoteus dat hy skryf sodat die gemeente kan weet “hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim 3:15). Godsvrug is nie ’n saak wat jy alleen aanpak nie. Dit groei binne daardie huisgesin waar waarheid beskerm en karakter gevorm word deur gedeelde geloof en aanspreeklikheid. Geestelike vorming verswak in isolasie, maar verdiep binne die gemeenskap.
Godsvrug stabiliseer identiteit
Een van Paulus se grootste bekommernisse was dat sommige godsvrug begin gebruik het om vooruit te gaan en invloed te verkry. Paulus stel dit reguit: Godsvrug is nie ’n middel tot ’n doel nie – dit ís die wins. Die wêreld bou identiteit op prestasie, maar die Skrif anker dit in Christus. Paulus is nie gekant teen ywer, groei of uitnemendheid nie; hy skei identiteit van prestasie. Ambisie word gevaarlik wanneer dit ons begin definieer. Wanneer godsvrug die wins is, kan groei volg sonder om die fondament te word. Wanneer identiteit aan uiterlike sukses gekoppel is, styg en daal dit saam met omstandighede. Maar wanneer dit in Christus gewortel is, word dit standvastig en seker. Vergenoegdheid is nie ’n gebrek aan ambisie nie. Dit is ’n diep sekerheid wat kom wanneer Christus genoeg is. Soos Gordon Fee opmerk, is die werklik ryk mens nie dié een wat meer het nie, maar dié een wat minder nodig het. Wanneer Christus genoeg is, hou die rustelose strewe op om ons te beheer.
’n Lewe van binne af herskep
Godsvrug is nooit bloot teoreties nie, dit hervorm ons lewens. Paulus roep gelowiges op om “’n rustige en stil lewe (te) kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid” (1 Tim 2:2). Dit beïnvloed besluite, temper ambisie, rig verhoudings en kweek integriteit. Paulus waarsku dat die liefde vir geld baie van die geloof af laat wegdryf het (1 Tim 6:10), maar hy veroordeel nie voorsiening self nie. Hy leer eerder dié wat ryk is om goed te doen, vrygewig te wees en graag te deel, en só vir hulself ’n skat vir die toekoms bymekaar te maak. (1 Tim 6:17-19). Besittings word dan instrumente van rentmeesterskap en nie die fondament van identiteit nie.
Geanker buite hierdie wêreld
Paulus herinner ons aan die tydelikheid van alle uiterlike dinge: “… want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie” (1 Tim 6:7). Status vervaag. Erkenning verskuif. Invloed gaan van een geslag na ’n ander oor. Maar godsvrug bring iets voort wat blywend is. Dit anker die lewe buite omstandighede en wortel die gelowige in dit wat nie geskud kan word nie. Dit beteken nie dat ons moet ophou bou of streef na uitnemendheid nie. Dit beteken ons identiteit rus nie meer op daardie strewe nie. Christus word die fondament en alles anders vind sy regmatige plek.
’n Nuwe definisie van ware wins
In ’n kultuur waar uiterlike maatstawwe alles bepaal, wys Paulus wat ware sukses is. Die grootste rykdom lê nie in wat ons versamel nie, maar daarin dat ons met Christus leef. Godsvrug weerspieël Hom, gee sekerheid oor wie ons is, verander ons alledaagse lewe en vestig ons hoop in die ewigheid. Die wêreld sal aanhou om meer te soek. Maar dié wat godsvrug nastreef, ontdek iets diep en blywend: Christus is genoeg. Wanneer Hy genoeg is, val alles anders in plek.


Hierdie artikel verskyn in die April 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Fotos verkry deur oorspronklike artikel
Datum gepubliseer: 21/03/2026
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








