Geskryf deur: René Roux
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Haar hand rus sag in haar versorger se hand. Haar oë lyk hartseer, maar opgewonde oor wat wag – ek dink dit is grotendeels omdat sy weet waarheen sy gaan. “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie,” lees tannie Marie se versorger vir haar uit die Bybel terwyl sy haar hare saggies vryf. “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal in die huis van die Here tuis bly in lengte van dae.” Dawid se psalm is voltooi en so ook tannie Marie se lewe. Sy blaas haar laaste asem uit en vat die Here se hand by die Jordaanrivier. Haar versorger maak tannie Marie se oë toe.
Die taal van tannie Marie se hart
Tannie Marie het gesterf in haar taal. Die taal waarin sy eens skoolgegaan het, koor gesing het. Die taal waarin sy as onderwyseres onderrig gegee het, die taal waarin sy haar Verlosser gevind het. Die taal wat sy liefgehad het. Haar versorger, wat sy altyd “Dogter” genoem het, staan saggies op – net soos elke aand wanneer sy na tannie Marie omgesien het. Sy wou haar nooit uit haar slaap wakker maak nie. Sy gun hierdie rus vir tannie Marie.
’n Unieke band
My ma was vir ’n lang tyd my ouma se versorger. Daarna het sy ’n versorger gehad wat dag en nag na haar omgesien het en haar geliefkoos het. Klein gebare soos om vir haar lekkers te bring en vir haar te sing. Hierdie versorger het soveel vreugde in my ouma se laaste dae gebring. Natuurlik het ons as familie elke geleentheid benut om vir haar te gaan kuier in Swellendam, my ma was elke dag by my ouma. Maar haar versorger het ’n ander, unieke band met haar gehad. Die laaste band.
’n Godgegewe roeping
Hoe sê ’n mens dankie vir hierdie versorgers? Hoe sal ’n mens ooit genoeg dank kan betoon vir die dapper roeping wat hulle leef? Hoe sal ’n mens ooit kan dankie sê dat hulle daar is in die laaste oomblikke? Wanneer ek op die kampus van Solidariteit Helpende Hand se Opleidingsinstituut stap, sien ek studente wat geluister het na die roeping wat in hul hart geplaas is. Hierdie roeping is nie net sigbaar nie, dit is tasbaar. Dit vul die gange. Die roeping om te versorg.
Versorging in jou moedertaal
Tannie Marie kon in haar eie huis sterf, met iemand by haar wat haar liefgehad en gerespekteer het. Haar kinders kon nie betyds by haar doodsbed wees nie, maar haar versorger was daar. Daar is talle bejaarde persone, persone met gestremdhede en kinders wat versorging nodig het, en wat ’n seëning om dit in jou eie moedertaal, Afrikaans, te ontvang. Dit is waarom hierdie studente by die Opleidingsinstituut studeer, en dit is waarom ek my hoed vir hulle afhaal.
Helpende Hand se Opleidingsinstituut
By hierdie instituut word ’n toekoms vir ons mense gebou. ’n Pad word gestap saam met dié wat ’n verskil wil maak. Op hierdie manier word gemeenskappe versterk en ontwikkel. Iemand se lewe word verander, ’n gesin se uitkyk word verander. Ons weet dat een van die beste maniere om ’n gemeenskap te ontwikkel, deur opleiding is. Elkeen van die studente wat so nederig deur die gange stap en klas draf weet waarom hulle geroep is en hulle werk daaraan om die samelewing ’n beter plek te maak.
Gewortel in Christelike waardes
Hier, by hierdie privaat sentrum, word vaardigheidsopleiding gebied wat diep gewortel is in ons Christelike waardes. Dit is hier waar lewens verander word. Dit is hier waar reeds 141 versorgers hul studies voltooi het – en waar nog vele meer opgelei sal word.
Gehaltesorg begin by gehalte-opleiding
Dit is nie ’n geheim dat Suid-Afrika ’n enorme tekort aan versorgers het nie. En daar waar opleiding wel plaasvind, is die gehalte nie altyd na wense nie. Dit moet en sal altyd ons strewe wees om opleiding van wêreldgehalte aan te bied in hierdie gange van die Opleidingsinstituut. Dit is belangrik dat versorgers gereed is vir die uitdagings van die toekoms sodat hulle ’n bydrae kan lewer om gehaltesorg te lewer daar waar hulle geroep is.
Nou is jou tyd
Hierdie is ’n beroep vir engele. As jy hier lees, weet jy dalk reeds wie in hierdie beroep sal floreer, wie ’n verskil sal maak. Miskien is dit nou hulle tyd. Miskien is dit nou jóú tyd. Soos Hannes Noeth, ons uitvoerende hoof by Solidariteit Helpende Hand, sê: “Jy is geroep vir ’n tyd soos hierdie.” Miskien is hierdie jou tyd. Die samewerking en ondersteuning van donateurs is vir ons van onskatbare waarde. Miskien is jy die engel wat iemand anders kan bemagtig om te studeer? Wees dapper in jou roeping.
RENÉ ROUX – bestuurshoof: Media, Solidariteit Helpende Hand
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 27/03/2024
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








