Geskryf deur: Lourieke Haller
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

‘n Liefde vir Jesus straal uit die 23-jarige Lenny, oftewel Leendert van Ieperen. Sy Hollandse bloed is duidelik te sien in sy witblonde hare en ligblou oë. Lenny se Afrikaanse ouma het as jong vrou sendingwerk in Nigerië gaan doen en daar die Hollandse sendingdokter ontmoet wat later Lenny se oupa sou word.

’n Soeke na identiteit
Lenny was nie altyd so aan die brand vir die Here soos vandag nie … Sy verhaal stem ooreen met dié van talle ander studente uit Afrikaanse huise waar kerk toe gaan deel van hul kultuur was. Sy ouers is geskei toe hy nog op laerskool was. “Ek was as seuntjie al op soek na wie ek is en het my identiteit in sport gevind,” vertel hy.

Vroeg al het Lenny egter ’n andersoortige kant van sy karakter ontdek – dalk oor sy ouma se sendingbloed wat dik in sy are vloei. Hy vertel van die keer toe die ma van ’n gr. 9-meisie in sy klas oorlede is: “My hart het heeldag vir haar gepyn; ek het die juffrou gevra of ons vir haar kan bid, maar toe ek vir haar bid, begin ek huil en kon ek nie ophou huil nie. ’n Tannie het vir my gesê my medelye met ander is ‘n gawe van God. Daardie aand het ek in my kamer gesê: ‘Jesus, vandag gee ek my hart vir U.’ ”

Sy identiteit was egter nog nie in God gevestig nie. Op hoërskool het drank, meisies en slegte vriende sy behoefte aan identiteit begin vervul. “Ek het steeds kerk toe gegaan, maar nêrens gevind wat ek soek nie. Ek was vir vier maande ’n kringleier by die CSV terwyl ek met een voet in die kerk en die ander in die wêreld gestaan het. Ná die Desembervakansie het ek gesê ek is liewer koud as louwarm en het die CSV laat staan,” lag Lenny oor sy “tienerwysheid”.

Al hoe verder van God af
Lenny het na die Universiteit van Stellenbosch gegaan om hom as wynmaker te kwalifiseer. “Ek was bekend as die ou wat graag kuier en drink. My vriende het soms met dwelms geëksperimenteer. Tog het my uiterlike nie my innerlike weerspieël nie. Die Heilige Gees het my voortdurend gevra: ‘Wat doen jy met jou lewe, Leendert?’ ”

Lenny het vakke begin sleep en het die Here verwyt vir sy teëspoed: “Here, hoekom doen U dit aan my?” vertel hy. “Ek hoor toe duidelik in my gedagte die Gees sê: ‘Leendert, hoe verwag jy moet Ek jou seën as jy My op die agtersitplek van jou lewe hou.’ Ek dog ek verbeel my net, maar daardie aand stuur ’n student met wie ek lanklaas gepraat het, uit die bloute vir my ’n SMS en nooi my vir koffie … Toe hy oorkant my sit, is die eerste woorde uit sy mond: ‘Leendert, ek voel die Here sê jy moet ophou om hom op die agtersitplek van jou lewe te sit …’ en hy noem al my probleme op! Hy het vir my gebid, maar ek wou nie my vriende prysgee nie.

“Ek onthou ons het by een van die kuierplekke in Stellenbosch gesit toe ek die Here se teenwoordigheid soos ’n vuur om my voel. Ek wou net met mense oor Jesus praat en vir hulle bid! Ek het besef ek kan nie met een van my vriende deel wat ek voel nie. Die volgende dag het ek die onsedelike verhouding waarin ek was, verbreek en die volgende Sondag na Urban Edge in Durbanville gegaan, waar ek met die Heilige Gees vervul is.”

’n Nuwe lewe begin
Lenny het later by die Shofar Kerk in Stellenbosch aangesluit. Hier is hy omring deur manlike rolmodelle aan wie hy verantwoording moes doen en wat hom gehelp het om sy ware identiteit as seun van God te vind. Ná ’n profesie het dit duidelik geword dat Lenny die gawe van genesing ontvang het. In sy nuutgevonde geloof en liefde vir God het Lenny vir die mense op die wynplaas waar hy as student gewerk het, begin bid.

“Een ou het ’n groot abses in sy mond gehad, sy hele gesig was opgeswel. Ek het vir hom gebid, maar niks sigbaar het gebeur nie. Daardie naweek het ek vir ons tuinier gebid wat erge artritis in sy arms en bene gehad het, weer eens het ek niks gesien gebeur nie, maar terug by die werk was die ou met die tandpyn se gesig nie meer geswel nie. Ek het gedog hulle het sy tand getrek, maar hy sê die pyn en swelling het oornag verdwyn. Die volgende keer toe ek huis toe gaan, kom Solani ons tuinier aangehardloop, ook hy is genees en kon sy gewrigte sonder enige pyn beweeg!”

Lenny doop sy broer by Eersterivier in Stellenbosch. V.l.n.r: Lenny, sy broer Willie en Marlon van Zyl, ’n goeie vriend.

Lenny het nou al vir 250 tot 300 mense gebid wat deur die Here genees is. “Onlangs het ek vir ’n ou gebid wat aan die een kant van sy lyf verlam was; die Here het hom genees en hy kon self wegstap!” Hoe gebeur dit? Lenny antwoord: “Dit kom uit jou verhouding, jou intimiteit, met God. Dan kan jy die seën vervul wat oor jou uitgespreek is.”
As Lenny se storie ’n aanduiding is van wat besig is om te gebeur met die nuwe geslag Christene wat hul identiteit in God vind, wag wonderlike tye vir die Kerk.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 01/01/2018
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here