Geskryf deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: www.opendoors.org.za
Hulle het daardie oggend vir aanbidding byeengekom. Honderde mense was vergader om aan ’n doopdiens deel te neem toe ’n bom deur die kerk geruk het. Daar is 20 aanbidders dood en 17 beseer.
Maar slegs ’n week ná die bomaanval het die CEPAC-kerk in die oostelike streek van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) weer byeengekom. Dit gee ons ’n beeld van die robuuste lewenskragtigheid van die Kerk in Afrika suid van die Sahara. Die lede van dié kerk in die dorp Kasindi het geweier dat hulle geloof geskud word. In plaas daarvan het hulle saamgekom om deur sang en dans te aanbid en God te dank vir sy beskerming en genade met hierdie kragtige woorde:
U het toegelaat dat ons aangeval word
U het ons geloof versterk
Ons vind dat ons vorentoe beweeg in U teenwoordigheid, HERE
U het ons so pas na ’n hoër vlak geneem…
Enkele dae ná die bomaanval het die Islamitiese Staat (IS) verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. In Afrika suid van die Sahara is ekstremiste se pogings om die Kerk lam te lê en uit te roei besig om ’n keerpunt te bereik namate Christen-gemeenskappe sukkel om te oorleef in die toenemende geweld en groeiende onsekerheid. Daar is ’n aanslag op die Kerk. In Nigerië word daar elke twee uur ’n Christen vir sy/haar geloof vermoor.
Maar, soos hierdie gemeente in die DRK toon, is die lydende Kerk ook lewenskragtig en getrou.
Getroue gelowiges soos hierdie aanbidders verseker dat die Evangelie selfs in die moeilikste omstandighede uitgeleef word. Elke keer as ons hoor hoe ’n suster of broer hulle hartseer na God toe bring of ons sien hoe ’n kerk weer bymekaar kom ná ’n aanval, sien ons God aan die werk – in ons lewens en ons wêreld.
Kyk asseblief na die drie minute video om die robuuste geloof van jou vervolgde geloofsfamilie in aksie te sien. Deel gerus die berig met ander.
“Staan op, laat jou lig skyn! Ja, jou lig het gekom, en die heerlikheid van die Here
skyn oor jou. Ja, kyk, donkerte bedek die aarde, en diepe duisternis die volke; maar oor jou skyn die Here, en oor jou word sy heerlikheid sigbaar. Nasies sal na jou lig trek, en konings na die helder lig van jou sonsopkoms.” – Jesaja 60:1-3.
Klik hier om saam met die Kerk in Afrika suid van die Sahara te staan en as een te bid.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 07/06/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.