Geskryf deur: Michael Swain, FOR SA uitvoerende direkteur 
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Dit is verstommend om die vernietiging van die reg op godsdiensvryheid te aanskou in “Westerse” nasies wat voorheen die kampvegters daarvoor was. Dit is ’n wêreldwye neiging en die verskuiwing wen oral veld. Dikwels word dit deur regeringsagentskappe en wetgewing bemagtig en versnel. Hoewel hierdie inisiatiewe oënskynlik edele bedoelings het om haatspraak te voorkom, openbare orde te handhaaf, gelykheid te bevorder en onbillike diskriminasie te voorkom, word dit dikwels gebruik om mense wat uiting gee aan hulle opregte oortuigings, gering te ag, te marginaliseer, die stilswye op te lê en selfs te kriminaliseer.

Moeilike regsgedinge
Private individue en organisasies wat in die spervuur kom, kan uitgerekte en duur regsgedinge op die hals haal. ’n Bakker van Colorado, Amerika, wat geweier het om ’n troukoek vir ’n gay paartjie te bak, is deur die Colorado-menseregte-kommissie gedagvaar. Amerika se appèlhof het bewyse van openlike vyandigheid en vooroordeel teen die bakker se godsdiensoortuigings gevind. Daar is beslis dat sy reg vir die kommissie om neutraal en verdraagsaam te staan teenoor sy godsdiensoortuigings, geskend is. Tog is daar die volgende dag weer ’n saak teen hom aanhangig gemaak deur ’n advokaat wat biologies ’n man is, maar as ’n vrou identifiseer. In ons land is die Beloftebos-troulokaal in die Wes-Kaap deur die Suid-Afrikaanse Mense-regtekommissie namens ’n selfdegeslagpaartjie gedagvaar omdat daar geweier is om die huweliksviering daar te laat plaasvind. Hierdie saak is nog hangende.

Vryheid van spraak is dikwels die eerste slagoffer
In Noorweë word ’n verteenwoordiger van ’n wêreldwye feministiese organisasie deur tronkstraf van tot drie jaar in die gesig gestaar nadat sy ’n transaktivistiese groep gekritiseer het omdat hulle kinders leer dat biologiese mans lesbiërs kan wees. In Engeland lyk dit of die stryd nou oorskakel na die onderdrukking van vryheid van denke: In twee verskillende gevalle is vroue in hegtenis geneem omdat hulle in stilte in die omgewing van ’n aborsiekliniek gebid het. Die een is skuldig bevind en met R40 000 beboet. Engeland se Public Spaces Protection Order het ’n “veilige sone” rondom aborsieklinieke afgekondig en enige dade wat “goedkeurend of afkeurend” is, word streng verbied – insluitend gebed. In Suid-Afrika voer Freedom of Religion South Africa (FOR SA) al meer as vyf jaar lank ’n veldtog teen die Haatspraakwetsontwerp, wat kan meebring dat jy tot agt jaar lank tronk toe gestuur kan word as jy ’n standpunt uitspreek wat iemand in ’n beskermde groep aansienlike “emosionele skade” berokken.

Kriminaliserende omskakelingsterapie
’n Wet wat in Victoria, Australië, bekragtig is, kriminaliseer “bekeringsterapie”, wat volgens berig word “die mees algemeen in geloofsgebaseerde kontekste voorkom, met tipiese praktyke wat berading, gebed, skriflesing, retraits of ‘geestelike genesing’ insluit”. Dieselfde wet dwing ouers om hulle kinders se begeerte om van geslag te verander, te aanvaar of gedagvaar te word as hulle enigsins poog om potensieel skadelike en onomkeerbare behandeling te voorkom. Sulke “behandeling” sluit in borsbinding (chest-binding), die neem van hormoonblokkeerders en geslagsveranderingschirurgie.

Beskerming van godsdiensvryheid
FOR SA is in sy tiende bestaansjaar en ons kan onomwonde sê dat ons ’n groot rol gespeel het in die beskerming en handhawing van godsdiensvryheid in hierdie land. Laat ons saamstaan in die stryd vir geloof en vryheid en verseker dat Suid-Afrika nie dieselfde pad as ander Westerse nasies stap nie.

FOR SA is ’n organisasie sonder winsbejag, wat regsondersteuning bied en hom beywer om ons grondwetlike reg op godsdiensvryheid te handhaaf, insluitend:
• Om jou geloof in privaat asook openbaar te deel en uit te leef.
• Die outonomie van geloofsgebaseerde organisasies.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

Datum gepubliseer: 26/04/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit freepik.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here