Geskryf deur: Olivier Melnick
Artikelbron: www.harbingerdaily.com
Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was die wêreld in skok omdat dit die gruwels van die Holocaust ontdek het wat uit een van die mees opgevoede lande op die planeet gekom het. Afhangende van hoe mens daarna kyk, het die Holocaust SLEGS tagtig jaar gelede of REEDS tagtig jaar gelede plaasgevind. Binne die bestek van die menslike geskiedenis was dit nie lank nie, maar as ons na die mens se lewensduur kyk, help dit ons verstaan dat byna almal wat deur die gruwels van die “Shoah” (katastrofe) gegaan en dit oorleef het, nou weens ouderdom nie meer met ons is nie. Slegs ‘n handjievol oorlewendes wat dit eerstehands beleef het, is nog met ons. Die meeste van hulle in hul negentigs. Spoedig gaan niemand so ’n oorlewende se hand kan vashou en die berugte tatoeëermerk van verdoemenis te sien nie.
Die stemme van die Shoah verdwyn, terwyl die stemme van historiese revisionisme skree dat die Holocaust óf erg oordryf is óf nooit plaasgevind het nie. Die nagedagtenis daarvan is in die hande van familielede van Holocaust-slagoffers. Daarom gaan ek voort om die storie te vertel van hoe my ma in die Suide van Frankryk weggesteek is nadat haar pa deur die Gestapo weggeneem en na Auschwitz gestuur is om vermoor te word. Sommige mense het vroeg besef dat die verskriklike, georganiseerde volksmoord op die Joodse volk gedokumenteer moes word. Een van hierdie mense was generaal Dwight Eisenhower.
Die oomblik toe hy by die kamp by Orhdruf instap, het Hy het verstaan hoe belangrik dit is om die Holocaust te dokumenteer en te onthou. Terwyl hy hierdie kamp van Buchenwald saam met generaals Bradley en Patton besoek het, het hy die omvang besef van wat hy aanskou het. Hy het dadelik ’n brief aan die hoof van die gesamentlike stafhoofde, generaal George Marshall, geskryf waarin hy gesê het: “… Die dinge wat ek gesien het, is onbeskryflik. Terwyl ek deur die kamp gestap het, het ek drie mans teëgekom wat gevangenes was en deur die een of ander plan weggekom het. Ek het via ‘n tolk met hulle gepraat. Die visuele getuienis en die verbale getuienis van hongersnood, wreedheid en dierlikheid was so oorweldigend dat dit my siek laat voel het … Ek het die besoek doelbewus gemaak om in staat te wees om eerstehandse getuienis van hierdie dinge te gee, indien daar ooit in die toekoms ’n neiging ontwikkel om hierdie bewerings bloot af te maak as ‘propaganda’.”
In ‘n stadium tydens die besoek moes generaal Patton homself glo verskoon om in ’n privaat hoekie te gaan opgooi. Ondanks die prysenswaardige pogings wat deur Eisenhower en ander aangewend is, loop die Holocaust toenemend die risiko om in die een of ander obskure hoek van die geskiedenis vergeet te word of nog erger … Sommige sal binnekort glo dat dit eenvoudig nooit gebeur het nie. Dit is ook hoekom ’n deel van die proses was dat die Amerikaanse weermag soveel Duitsers as moontlik moes dwing om die gruwels wat rondom hulle plaasgevind het, te aanskou. Oortreders asook omstanders het te staan gekom voor die gevolge van boosheid in hulle midde.
Generaal Eisenhower sou woedend wees en waarskynlik gewalg word deur vandag se jonger geslag. Hulle gebrek aan belangstelling en gebrek aan kennis van die Joodse ramp help diegene wat dit uit die geskiedenis wil laat verdwyn. Sommige skole raak skaars aan die onderwerp uit vrees om die gevoelens van ander mensegroepe seer te maak. Intussen word die Shoah stadig een persoon op ’n slag uitgevee, een herinnering op ’n slag, een getuienis op ’n slag.
Kyk nou na 7 Oktober 2023, toe die wêreld ’n getuie geword het van die gruwels van die Hamas-terreuraanval op Israel. Ons weet nou dat hul aanval direk uit die Nazi-speelboek was. Eintlik was dit meer soos ’n samesmelting van Nazi’s en Isis op steroïede. Die meeste mense kon nie na enige van die grusame beeldmateriaal kyk wat deur die IDF versamel is nie. Hoe is mense in staat om sulke marteling uit te voer op mense, insluitend baie jong kinders en bejaardes? Hoe kan enigiemand by sy volle verstand selfs bevraagteken dat wat Hamas gedoen het, onmenslik is en duidelik tot die kategorie van “misdade teen die mensdom” behoort?
Koningin Rania van Jordanië het die onthoofding van Israeliese kinders deur Hamas bevraagteken in ’n onderhoud met Christiane Amanpour op CNN. Kolleges en universiteite in Amerika en ander dele van die wêreld het teen Israel en ten gunste van Hamas saamgetrek, wat baie Joodse mense se lewens in gevaar stel … in 2023. Dit is weer 1933! Ons het ’n belangrike keerpunt in moderne anti-Semitisme bereik. Die dier is wêreldwyd ontketen en dit is besig om ’n gewelddadige aanslag op Joodse lewens te maak.
Om die irrasionele beriggewing van die media en ander organisasies of regerings teë te werk, het Israelse owerhede ’n “Eisenhower-oomblik” gehad. Hulle het besluit om vir ’n groep joernaliste ’n samestelling van 43 minute te wys van die gruwels wat Hamas op 7 Oktober gepleeg het, sodat hulle nie sou vergeet nie. Dit is so hartseer dat so ’n geleentheid selfs gehou sou moes word, maar die wêreld moet weet. So moeilik soos hierdie beelde is om na te kyk, moet ons nie ons koppe wegdraai nie, anders word ons die omstanders van die 21ste-eeu.
As dit die nuwe normaal vir Joodse mense wêreldwyd is, moet ons ook daarby aanpas en as gelowiges nie stilbly nie. Duisende Hamas-simpatiseerders het oor die hele wêreld bymekaargekom om teen Israel saam te trek in die grootste vertoning van dubbele standaard wat ons nog ooit gesien het. Die Joodse volk moet weet dat daar Christene is wat gereed is om hulle tot hul redding en veiligheid te verbind. Waar is die Kerk wanneer pro-Hamas mense sing: “From the river to the sea, Palestine shall be free!” of “Gas the Jews!”
Die wêreld word in twee verdeel met pro-Israel- en pro-Palestynse faksies wat kant kies. Let wel, nie alle Palestyne skaar hulle by Hamas nie. Baie van hulle wil net in vrede lewe, maar die lyne word vervaag deur bevooroordeelde beriggewing en dubbele standaarde. Voeg daarby die feit dat jonger geslagte maklik die leuens oor Israel glo omdat hulle geen benul van geskiedenis het nie. Hulle is oningeligte slagoffers van die propagandaskeppers.
Dink ’n bietjie hieroor na:
• 63% Millenniërs en Gen Z het nie geweet dat ses miljoen Jode in die Holocaust gesterf het nie.
• 48% Millenniërs en Gen Z kon nie een enkele konsentrasiekamp noem nie.
• 56% Millenniërs en Gen Z kon Auschwitz nie identifiseer nie.
• 11% Millenniërs en Gen Z glo dat Jode die Holocaust veroorsaak het.
• 49% Millenniërs en Gen Z het ontkenning van die Holocaust op sosiale netwerke gesien.
Israel het jou nodig, die Joodse volk het jou nodig. Dit is nie nou die tyd om op die draad te sit nie!
Ian Kershaw het gesê: “Die pad na Auschwitz is gebou deur haat, maar geplavei met onverskilligheid,” waarby ek byvoeg, “Die pad na nog ’n Holocaust word herbou deur haat, maar nou geplavei met woke-heid en apatie.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/11/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.