Geskryf deur Lourieke Haller
Paasbolletjies is tans oral te koop en mense, of hulle nou Christene is of nie, geniet hierdie geurige gebak wat tradisioneel met Paasfees geassosieer word. Met sjokoladehase en -eiers wat die winkelrakke vul, loop Paasfees egter al hoe meer dieselfde pad as Kersfees – ’n Christelike fees wat dikwels van sy ware betekenis gestroop word. Min mense staan nog stil by die simboliek en die oorsprong van die Paasbolletjie.
Die boodskap in die bolletjie
Die brood verteenwoordig die Nagmaal, die kruis op die bolletjie simboliseer die kruisiging van Jesus en die geurige speserye – kaneel, neutmuskaat en naeltjies – verteenwoordig die speserye waarmee Jesus gebalsem is. Die rosyne in die deeg is simbolies van Christus se liggaam in die graf en die gerysde deeg simboliseer sy opstanding uit die dood. Hierdie simboliek bied ons ideale aanknopingspunte om met ons kinders, familie, vriende of selfs vreemdelinge in die supermark oor die Evangelie te gesels.
’n Tradisie oor eeue
Die meeste bronne stem saam dat die Paasbolletjie uit die vroeë 1700’s kom. Volgens een weergawe het die Paasbolletjie sy oorsprong in die 14de eeu in St. Albans in Hertfordshire, Engeland. ’n Monnik van die St. Albans-klooster, Thomas Rocliffe, het blykbaar ’n resep ontwikkel vir die “Alban Buns” wat hy op Goeie Vrydag onder die armes uitgedeel het.
Die eerste betroubare verwysing na Paasbolletjies verskyn in ’n agttiende-eeuse teks, Poor Robin’s Almanack, 1733: “Good Friday comes this month, the old woman runs, with one or two a penny hot cross buns.” Dit is die rympie waarmee straatverkopers glo hulle Paasbolletjies geadverteer het.
In 1592 het koningin Elizabeth I ’n bevel uitgevaardig dat Paasbolletjies nie meer sommer op enige dag verkoop en geniet mag word nie, net op Goeie Vrydag, Kersfees of op begrafnisse. Hulle was net te spesiaal. Paasbolletjies word steeds tradisioneel in Brittanje en ander statebondslande soos Kanada en Australië op Goeie Vrydag geniet.
’n Boodskap om uit te dra
Hoewel die kruis op die Paasbolletjie vir baie mense bloot ’n versiering is, herinner dit ons as Christene aan Christus se oorwinning aan die kruis. Gebruik gerus hierdie Paasfees die volgende idees om die Evangelie met ander te deel:
- Deel Paasbolletjies en koffie by ’n ouetehuis uit en gesels met die inwoners oor die betekenis daarvan.
- Nooi jou bure en hul kinders vir ’n Paaseiersoektog. Bedien koffie, tee en Paasbolletjies, en gebruik die geleentheid om hulle na julle kerk se Paasdiens uit te nooi.
- Deel gratis Paaseiers uit en bid vir geleenthede om die Evangelie met mense te deel.
- Gemeenskapskoor: Nooi ongelowige vriende om saam in ’n Paaskoor te kom sing. Nie net sal die Evangelie deur die musiek oorgedra word nie, maar dit kan die gemeenskapsgevoel versterk en eensames help om vriende te maak.
- Opeluggeleenthede: Sluit by ander kerke in jou omgewing aan en reël ’n buitelug-Paasdiens sodat verbygangers die boodskap kan hoor of saam kan sing. Bied ná die diens koffie en Paasbolletjies aan.
Wat ook al die oorsprong van die Paasbolletjie is, laat hierdie tradisie jou herinner aan die ware betekenis van Paasfees – die dood en opstanding van ons Verlosser, Jesus Christus.


Hierdie artikel verskyn in die April 2026 uitgawe van JUIG! Tydskrif. Lees die digitale weergawe van hierdie tydskrif hier: joygifts.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
Datum gepubliseer: 22/03/2026
Foto’s verkry deur oorspronklike artikel
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








