Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Voetspoor van Christenskap
Die Christendom het Japan in 1549 bereik met die koms van die Portugese sendeling, Francis Xavier. Teen 1595 was daar ± 300 000 Japannese Christene. Heerser Hideyoshi het egter alle Christen-sendelinge verban en vervolging het gevolg. In 1597 is 26 Christene (12-64 jaar oud) in Nagasaki gekruisig. Teen 1859 is die Christendom weer in Japan gevestig met die aankoms van Protestantse sendelinge. Vandag word die Christendom as Westers beskou en nie as geskik vir Japannese nie, vandaar ’n huiwerigheid om hulle te bekeer.

Vinnige feite
• Slegs 0,8% van die bevolking is belydende Christene.
• Japan het een van die hoogste selfdoodsyfers ter wêreld.
• Japan is een van die lande wat die minste bereik is in die wêreld.
• Godsdiensradiostasies word nie in Japan toegelaat nie.
• Niijima Jō (Joseph Hardy Neesima) was die eerste inheemse Christen-predikant (1874). Hy het die Doshisha-universiteit gestig – steeds een van Japan se mees invloedryke Christelike universiteite.
• In 1883 het Protestante 130 kerke, 70 opvoedkundige instellings en ±5 000 lidmate aangemeld.

Wat glo hulle?
Daar is geen enkele dominante godsdiens in Japan nie, maar mense beoefen Sjintoïsme en Boeddhisme. Veralgemenings is gevaarlik, maar die volgende is die algemene Japannese mening oor God en geloof:

• Daar is geen universele God nie.
• Daar is geen hemel of hel nie.
• Ewigheid: ’n Gestorwene se gees gaan nêrens spesifiek heen nie, maar iets gaan voort na die dood.
• Geen duiwel, sonde of oordeel nie: Die menslike natuur is basies goed. (Die idee dat iemand ’n sondaar kan wees wat genade benodig, is vreemd.)
• Geen duidelike skrifte oor wat om te glo nie. Geen “gebooie” hoe om op te tree nie.
• Harmonie: Die hoogste waarde is waarskynlik wa – harmonieuse verhoudings met ander. Daarom sal idees van goed en kwaad, reg en verkeerd normaalweg beskou word in verhouding tot wat die harmonie in enige gegewe situasie sal behou, eerder as in absolute terme.

Onkunde oor Christenskap
Mense is geneig om onkundig te wees oor Christenskap. Hulle vrae gaan dikwels meer oor leefstylreëls, nie Christenskap nie. Hierdie gebrek aan kennis kan lei tot sosiale vervolging. Hulle is geneig om die Christendom met kultusse te verwar, soos Aum Sjinrikijo, wie se lede in 1995 sarin-gas in ’n Tokio-moltrein vrygestel het (14 mense het gesterf), of die Unification Church, wie se fondsinsamelingspraktyke daartoe gelei het dat ’n woedende jong man die voormalige eerste minister van Japan, Shinzo Abe, vermoor het. Daarom is die Japannese versigtig vir die Christendom.

Bid vir Japan
Met meer as 65% van die bevolking wat nie met die Evangelie bereik is nie, bid asseblief dat die Goeie Nuus oral in hierdie land bekend gemaak word.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 06/04/2024

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here