Artikelbron: CNE News
Die regering van Belarus oorweeg dit om wetgewing te verskerp wat die godsdiensvryheid van
gelowiges sal beperk. Hiervolgens sal dit moontlik onwettig wees om op sekere plekke in besit van ’n
Bybel te wees en die vereistes vir registrasie as ’n godsdiensorganisasie sal ook uitgebrei word,
berig CNE News.
Die regering is tans besig om die Wet op Vryheid van Oortuiging en Godsdiensorganisasies te wysig.
Die publiek het tot verlede week ’n kans gehad om kommentaar te lewer op die konsepwetgewing.
Volgens Alexander Rumak, die kommissaris vir godsdiens- en etniese sake, is die veranderinge nodig
om die wet meer toepasbaar te maak en dit te laat strook met die land se grondwet en die
“verhouding tussen owerhede en godsdiensorganisasies” te moderniseer.
Daar word egter verwag dat hierdie veranderinge Belarus se wette sal laat ooreenstem met die
beperkende wette in lande soos Rusland, Oesbekistan en Kazakstan. Hoewel kommissaris Rumak die
versekering gegee het dat kerke nie negatiewe “sosiale, finansiële en ekonomiese gevolge” sal
ondervind nie, bly godsdiensorganisasies bekommerd.
Die Konferensie van Rooms-Katolieke Biskoppe in Belarus (CCEB) verwag byvoorbeeld probleme in
die toekoms. Tydens die openbare konsultasie het lede van die konferensie hulle besware ingedien.
Dit het byvoorbeeld ingesluit hulle kommer oor die vereiste vir godsdiensorganisasies om
dokumenteer watter kinders wat Sondagskool bywoon. Dit is volgens die CCEB ’n skending van
gelowiges se regte. Hulle wys ook op die teenstrydige aard van die wet, aangesien dit ouers verplig
om ’n skriftelike verklaring van hulle geloofsoortuigings in te, maar terselfdertyd word die uitdrukking
van hierdie oortuigings in die openbaar verbied.
Dit word ook baie moeiliker vir godsdiensorganisasies om hulleself onder die voorgestelde
veranderings te laat registreer. As dit deurgevoer word, kan organisasies slegs registreer as hulle vir
ten minste dertig jaar op Belarus se grondgebied aktief was en uit ten minste vyftien gemeenskappe
bestaan. Die wet bepaal ook dat aktiwiteite van ongeregistreerde godsdiensorganisasies verbied
word en dat slegs burgers van Belarus ’n godsdiensorganisasie kan lei.
Daarbenewens sal die lys van redes vir die sluiting van ’n kerk uitgebrei word. Die wysigings verhoog
ook die mag van plaaslike owerhede om godsdiensorganisasies te monitor en te inspekteer, en
godsdienstige aktiwiteite sal slegs op godsdienspersele toegelaat word, met openbare gebed wat
verbied word.
Volgens die wysiging kan godsdienstige lektuur slegs binne godsdiensgeboue gebruik word. Dit wek
kommer vir die Rooms-Katolieke biskoppe in Belarus en hulle het spesifiek gevra of
universiteitsbiblioteke byvoorbeeld steeds Bybels, Korans en ander heilige boeke sal mag uitleen.
Hulle wou ook weet of Bybels gekonfiskeer gaan word.
Daar word gewag op die regering se reaksie op die besware en vrae.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 24/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit commons.wikimedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.