Geskryf deur: Donnelly McCleland incontextinternational.org Artikelbron:
Meer as ’n jaar nadat El Salvador se president, Nayib Bukele, toegeslaan het op die bendes wat ’n
groot deel van die bevolking vir dekades gyselaar gehou het, word daar geskat dat 70 000 mense al
gevange geneem is(2% van die bevolking). Die reg tot wettige verdediging is opgeskort en onbeperkte
aanhouding sonder verhoor word toegelaat onder die “staat van uitsondering” wat verklaar en reeds
13 keer hernu is. Hierdie onderdrukking het gelei tot internasionale veroordeling deur sommiges wat
meen dat dit ’n aanduiding is van moontlike menseregteskendings en ’n beweging in die rigting van
outokrasie.
Bukele se optrede is in ’n meningsopname deur meer as 90% van Salvadoriane goedgekeur. El
Salvador, wat vroeër van die hoogste moordsyfers in die wêreld gehad het (in 2015 was dit meer as
100 moorde vir elke 100 000 inwoners), is gereeld as die moorddadigste land ter wêreld gelys. Sedert
Maart 2022 toe kragdadige optrede teen die bendes begin het, was daar egter ’n dramatiese afname
in geweld. Ongelukkig is onskuldige burgerlikes ook in die enorme offensief vasgevang, hoewel een
amptenaar bevestig het dat tot 5 000 mense uiteindelik vrygelaat is nadat dit geblyk het dat hulle
geensins by bendeaktiwiteite betrokke was nie. Weens die groot aantal mense in aanhouding kan dit
egter nog maande lank duur voordat almal wat aangehou word die nodige evaluasie ontvang het.
Die bendes wat die lewe in El Salvador baie lank gedomineer het, is deur uitgewekenes ver daar
vandaan, in Los Angeles gevorm. Daar het die twee dominante bendes, Mara Salvatrucha 13 (MS-13)
en Barrio 18 tot stand gekom. Gedurende die 1990’s toe Amerika duisende Salvadoriane gedeporteer
het, het Barrio 18 en MS-13 na El Salvador verskuif. Daarna het hulle die woonbuurte dekades lank
deur afpersing en geweld beheer. Tans ervaar baie van die betrokke buurte ’n vryheid wat sommige
inwoners nog nooit beskore was nie. Die veldtog, wat deur militêre magte gelei is, het burgerlike trots
herstel, mededinging van sportspanne onder mekaar en bewegingsvryheid en toegang tot voormalige
bendebeheerde areas moontlik gemaak.
Voordat daar op die bendes toegeslaan is, het baie evangeliese pastore met die Evangelie na
bendelede uitgereik – diegene in tronke sowel as diegene wat pas vrygelaat is. Hierdie pastore het oor
die krag van berou en vergifnis gepreek. Sommige bendelede het daarop reageer. Hoewel dit uiters
moeilik is om ’n bende te verlaat, het sommige bendes hul lede toegelaat om te gaan, indien dit geblyk
het dat hul bekering opreg was. Jose Miguel Cruz, ’n kenner op die gebied van bendes, is werksaam
by Florida se Internasionale Universiteit, en verduidelik: “Die vroom lewenstyl wat deur kerke
aangemoedig word, laat bendes toe om voormalige lede met gemak te monitor.” Cruz, wat opnames
onder bykans 1 200 aktiewe en voormalige Salvadoriaanse bendelede gedoen het, het bevind dat die
mees aanvaarde wyse om ’n bende te verlaat, ’n godvrugtige lewe is.
Die bendes beskou ’n voormalige lid egter steeds “as ’n bedreiging, ’n risiko en ’n potensiële
mededinger.” Oor die jare het verskeie kerke rehabilitasiesentrums vir voormalige bendelede gestig.
Baie van die bendelede het nooit enige formele opleiding gehad of ’n ambag aangeleer nie. Andy, wat
by een van die Christelike sentrums ingeskakel het, het gesê dat ’n bende hom gewerf het toe hy 12
was. Ná byna ’n dekade lank in die tronk het die 29-jarige Andy twee jaar gelede by die program
aangesluit. “Miskien beskou mense my as ’n slegte persoon, maar met my ingesteldheid wat daagliks
verander, hoop ek om te bewys dat ek verander het,” het hy gesê.
Party van hulle wat die lewensveranderende werk van Christus ervaar het, het begin studeer en self
pastore geword. Toe die regering egter onlangs op die bendes toegeslaan het, is baie voormalige
bendelede ook as gevolg van vorige deelname aan bendebedrywighede in hegtenis geneem. Sommige
pastore beskou die huidige ingryping as ’n terugslag vir hul jare in die bediening, maar ander is van
mening dat God steeds die situasie kan gebruik. Terwyl hierdie voormalige bendelede die gevaar loop
om in die tronk geteiken te word, kan dit ook aan hulle geleenthede bied om diegene wat nog nie die
Evangelie gehoor het nie, te bereik. Lewens kan radikaal verander word.
Buite hierdie tronke is verwonde en behoeftige gemeenskappe en tot dusver het die regering nog nie
verduidelik hoe die tienduisende wat aangehou word, voor die gereg te bring nie. Daar is ook nog nie
aangedui of die regering diegene wat uiteindelik vrygelaat gaan word, gaan rehabiliteer en
herintegreer nie; en belangriker, hoe hulle die ontwaking van ’n nuwe geslag van gewelddadige
straatbendes gaan verhoed nie. In ’n artikel deur die United States Institute of Peace het Veronica
Reyna, ’n navorser by Passionist maatskaplike dienste in Meijicanos, ’n arm woonbuurt in San
Salvador, gesê: “Die bendes het beheer uitgeoefen omdat niemand anders dit wou doen nie. Indien
die staat nie hierdie gaping vul nie – nie slegs met polisie nie, maar met opvoeding en ander dienste
nie – sal ander kriminele groepe intree.”
As Christene weet ons dat regerings infrastruktuur en hulpbronne kan voorsien wat heelwat kan bydra
om bestendigheid te bring. Slegs God kan egter genesing, ’n ware lewensdoel en ’n toekoms voorsien.
Met bykans 95% van Salvadoriane wat hulleself Christene noem (45% wat as evangelies beskou word),
is daar baie wat gedoen kan word om die vakuum te vul wat deur die inhegtenisname van die talle
geweldenaars gelaat is. Die wyer Christelike gemeenskap het ’n verstommende geleentheid om hande
te vat met die Salvadoriaanse gelowiges ten einde prakties in hierdie “bevryde” gemeenskappe te
belê. Romeine 15:13 lui: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede
vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” Mag Salvadoriane
se hoop in hierdie tyd al hoe sterker word, terwyl hulle in God glo en op Hom vertrou vir hul redding,
nie op ’n mens nie, hoe “edel” sy pogings ook al blyk te wees.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat die Evangelie vreesloos verkondig sal word, selfs binne die oorvol tronke,
• dat die Here genesing en blywende herstel sal bring aan gemeenskappe wat lank gevange
gehou is deur bendes en vrees, en
• dat die Kerk hierdie seisoen van vryheid sal gebruik om die Goeie Nuus te deel, in hul
onmiddellike woonbuurte en buite hul landsgrense.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 25/06/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit commons.wikimedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.