Artikelbron: cvandaag.nl
Twee kerkleiers in Colombia is ernstig beseer in ’n skietery. Die priesters was die teiken van ’n kriminele groep.
Die twee Rooms-Katolieke priesters het verlede maand onder skoot gekom nadat hulle ’n kerkdiens in die dorpie Esmeralda gelei het. Die dorpie is geleë in die Cauca, ’n streek wat as een van die gewelddadigste in Colombia beskou word. Misdaadbendes het priesters, pastore en etniese leiers geteiken wat in die openbaar pleit vir vrede en menseregte.
Die priesters se motor het met dagbreek in die dorp Caldono onder hewige vuur gekom; daarna het dit geblyk dat die voertuig minstens 36 keer deur koeëls getref is. Die insittendes, diaken Fredy Muñoz en lekepriester Eider Bototo, is ernstig beseer. Muñoz sou vandeesmaand as priester georden word. Albei slagoffers is nou buite gevaar.
Rossana Ramirez, ’n navorser by Geopende Deure, is nie verbaas oor die aanval nie. “Dit is bekend dat kriminele groepe in Colombia menseregte-aktiviste, insluitend kerkleiers, aanval as hulle ’n boodskap van vrede en respek vir menseregte propageer.” Ramirez wys daarop dat die VN se vredesending in Colombia die Cauca-streek as een van die mees gewelddadige dele van die land beskryf.
“Kriminele groepe het etniese leiers, verteenwoordigers van die burgerlike samelewing en ander wat betrokke is by die herintegrasie van die [voormalige guerrillabeweging] FARC geteiken. Die VN het hierdie aanval op Christene veroordeel, asook die besondere kwesbaarheid van kerkleiers beklemtoon.” Dit beteken, volgens Ramirez, “hopelik ’n stap vorentoe in die beskerming van godsdiensvryheid” in Colombia.
Die hoof van die VN-vredesending in Colombia, Carlos Ruiz Massieu, het kort ná die aanval solidariteit met die kerk in Colombia uitgespreek. “Die Kerk is ’n onskatbare bondgenoot vir vredebou en versoening,” het hy in ‘n toespraak by die VN se veiligheidsraad gesê.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/08/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.