Geskryf deur: Donnelly McCleland
Artikelbron: incontextinternational.org
Op 28 Mei het Manipur se hoofminister Nongthombam Biren Singh, van die regerende Bharatiya Janata Party (BJP), aan verslaggewers gesê dat ongeveer 33 militante (van die Kuki-stamgroep) tot dusver doodgemaak is in ’n voortdurende operasie van die sekuriteitsmagte wat gevolg het op etniese botsings in die streek.
Die geweld het op 3 Mei begin toe stamgroepe gebots het met die etniese meerderheidsgroep, Meitei-bevolking – wat nie tot ’n stam behoort nie – oor ekonomiese voordele en kwotas wat aan die stamme toegeken is. Vroeër daardie dag het lede van die Kuki-, Naga-, en ander stamme (erkende geklassifiseerde stamme), wat in die heuwels van Manipur bly (sowat 90% van die staat Manipur), ’n vreedsame protes onderneem teen die moontlike uitbreiding van die kwotavoordele aan die dominante Meitei’s, wat in die Imphalvallei woon (die oorblywende 10% van die staat), waar die hoofstad geleë is.
Meitei’s maak 53% van Manipur se bevolking van 3,2 miljoen uit en Christene uit die stamme 41,29%. Christene geniet egter nie voldoende verteenwoordiging in die staatsvergadering nie, aangesien 40 van die 60 wetgewers uit die Meitei-gemeenskap kom. Die ontwikkelingswanbalans wat die vallei bo die heuwels begunstig is lank reeds ’n twispunt wat konflik tussen die etniese groepe veroorsaak.
Geklassifiseerde stamme en kaste is groepe wat spesifiek deur die Indiese regering aangewys word – dikwels sosiaal en ekonomies die mees benadeelde groepe in Indië – om sekere konsessies en regstellende aksie te ontvang om die strukturele ongelykheid uit die verlede, en diskriminasie aan te spreek. Volgens Indië se 2011-sensus bestaan meer as 30% van die bevolking van sewe uit die agt noordoostelike state in Indië uit geklassifiseerde stamme. Verskeie stamgroepe, insluitend die Kuki-, Zomi- en Naga-mense is meestal Christene, vergeleke met die Meitei-bevolking wat hoofsaaklik Hindoes is.
Die onlangse gepeupelgeweld het tot dusver reeds 70 sterfgevalle tot gevolg gehad met honderde wat beseer is, tienduisende wat verplaas is en baie eiendomme wat verwoes is. Veelvuldige faktore speel ’n rol in die geweld wat in Manipur ontvou – ’n afgeleë staat wat ’n grens van 400 km lank met Mianmar deel. Hierdie faktore sluit in: historiese griewe, ekonomiese druk, onsekerheid oor grond, Hindoe-nasionalisme en vlugtelinge uit die aangrensende Mianmar. Die gewelddadige skare word beskuldig van “geteikende etniese suiwering” en “vervolging van Christene” omdat hulle die Kuki’s aanval, maar nie die Nagas nie (ondanks die feit dat beide bevolkingsgroepe die voorgestelde wetswysigings teenstaan).
Sommige waarnemers, insluitend Paolienlal Haokip (BJP-lid van die wetgewende vergadering vir Saikot), wys op ’n moontlike politieke motivering vir die fokus op Kuki’s, maar nie Nagas nie – Nagas is grotendeels bondgenote van die regerende BJP. Volgens sekere bronne is daar na raming 200 Kuki- en verskeie Meitei-kerkgeboue vernietig, terwyl daar na bewering nie ’n enkele Naga-kerkgebou aangeval is nie. Indië se regerende BJP het groot dele van die land in ’n kruitvat omskep; dit verg slegs een vonk om ’n verwoestende vuur te ontketen. Die geweld in Manipur kan beskou word as die natuurlike gevolg van jare se Hindoe-nasionalistiese propaganda. Dit is wat gebeur wanneer politici godsdienstige haat aanhits vir politieke gewin.
Grondbesit speel ’n geweldige belangrike rol in die konflik – die Meitei-gemeenskap vrees dat hulle hul grond in die Imphalvallei sal verloor indien die status as geklassifiseerde stam nie aan hulle toegestaan word nie. Die stamgroepe vrees weer dat hulle regte in die slag sal bly indien die Meitei’s dieselfde voordele sou ontvang en dat hulle beskerming (veral van hul grond) en politieke verteenwoording as ’n minderheid, afgewater sal word.
In April het die hoofminister van Manipur die bevel gegee vir die uitsetting van die Kuki uit die woude van hul voorgeslagte. Dit het ’n opskudding veroorsaak. Die minister het gesê hierdie stap was bedoel om die onwettige papawer-kwekery in die heuwels te stuit. Die staatsregering beskou hierdie dorpies ook as ’n toevlug vir immigrante uit Mianmar, hoofsaaklik uit die Chin-gemeenskappe (van wie baie ook Christene is). Kuki’s deel hul etniese afkoms met Mianmar se Chin. Meitei’s vrees dat hul getalle oortref sal word deur die invloei van Chin-vlugtelinge. Volgens die regering het die invloei van Chin-vlugtelinge tot meer ontbossing, kweek van papawers en dwelmprobleme binne die staat gelei. In reaksie hierop het die regering ’n geweldige uitsettingsveldtog begin en mense uit verskeie Kuki-dorpe gedryf.
Hoewel mense van beide die Meitei- en Kuki-gemeenskappe doodgemaak en verplaas is, stem die meeste waarnemers saam dat die geweld teen die Christen-Kuki’s buite verhouding was. Die lot van Christen-broers en -susters in Manipur het wye internasionale dekking geniet en daar is hoop dat reg sal geskied. Op 17 Mei het Indië se Hooggeregshof ’n aansoek aangehoor wat deur die Manipur-Stamforum ingedien is wat ’n beroep doen vir dringende ingryping om die geweld te bekamp. Hoofregter Dhananjaya Yeshwant Chandrachud het die bevel van die Manipur-Hooggeregshof, wat tot die sektariese geweld gelei het, veroordeel en dit as “absoluut verkeerd” verklaar. ’n Senior Rooms-Katolieke kerkleier het die effek van die hoofregter se woorde as “balsem op die wonde” beskryf. Dit is ook belangrik om daarop te let dat Christen-bekeerlinge uit die Meitei’s ook geteiken is – veral diegene in die Meitei- en Hindoe-dominante Imphalvallei – en geweldige druk ervaar om terug te keer na die Hindoe-geloof.
Mag die Naga- en Kuki-gelowiges hulle bystaan, hulle ondersteun, namens hulle intree en hulle seën as kragtige voorbeeld van die verenigende krag van die evangelie van Jesus Christus. Mag hulle almal optree as “ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra…” (uit Filippense 2:12-18).
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die Here sal ingryp namens sy kinders in Manipur en dat vrede herstel sal word,
- dat die Here sy kinders sal troos en versterk sodat hulle Christelike liefde en vergifnis sal bewys in die aangesig van diskriminasie, vervolging en geweld, en
dat die Heilige Gees Meitei-bekeerlinge in staat sal stel om vas te staan in hul geloof te midde van bedreiging, vyandigheid en intense druk om terug te keer na die Hindoe-geloof.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 03/06/2023
Foto slegs ter illustrasie: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.