Artikelbron: opendoorsuk.org
Christen-vervolging is aan die toeneem in Laos met ’n stygende aantal Christene wat vir hulle geloof gearresteer word.
Sedert die begin van die jaar is minstens vyftien gelowiges in hegtenis geneem, insluitend drie kerkleiers wat gevange geneem is omdat hulle geweier het om hul geloof in Jesus Christus te verloën.
In Februarie het die polisie by ’n dorpie in die suide van Laos aangedoen en al die Christene ontbied om bymekaar te kom. Die polisie het toe daarop aangedring dat die Christene hulle geloof in Jesus Christus moet verloën. Daar is gedreig dat dié wat weier, in die tronk aangehou sal word. Ondanks hulle vrees het drie kerkleiers standvastig by hulle oortuigings gehou en geweier om hulle geloof te verloën.
Hulle is met geweld na die polisievoertuie gesleep en na ’n plaaslike tronk geneem, waar hulle nie toegelaat is om te praat of hulself te verdedig nie.
Die aantal Christene wat weens hul geloof in die tronk gegooi is, neem landswyd toe. Waarnemers beskou dit as ’n nuwe tendens in Laos. Naomi*, ’n vennoot van Geopende Deure en ’n kenner van Laos, berig kerke in haar omgewing is gesluit en gelowiges van dié kerke is gearresteer.
“Baie Christene in die omgewing vrees dat meer kerke in die komende maande verbied gaan word. In hierdie streek is daar reeds vanjaar twee huiskerke gesluit. Sommige gemeenskappe word ook deur die owerhede gemonitor,” sê Naomi.
Christene staar ook vyandigheid van plaaslike owerhede en dorpenaars in die gesig. In November het die polisie op ’n huiskerk in die suide van Laos toegeslaan, die diens ontwrig en op Bybels en gesangboeke beslag gelê. Gelowiges in Laos staar ernstige uitdagings in die gesig. “Die plaaslike owerhede, dorpsleiers en ander dorpenaars wil nie Christene in hul gemeenskap hê nie,” sê Dey*, ’n plaaslike vennoot van Geopende Deure. Dorpsbewoners doen alles in hulle vermoë om Christene uit hul gemeenskappe te dryf.
Aan die einde van Januarie is die huise van vyf Christen-gesinne byvoorbeeld vernietig. Toe hulle terugkom van ’n besoek aan ’n ander dorpie, het hulle gevind dat al hulle huise in die ryslande gesloop is. Hierdie mense is vir die tweede keer ontheem weens hulle geloof in Jesus Christus. Hulle huise is ’n paar maande tevore ook verwoes en die Christene is deur dorpenaars en die plaaslike owerhede verdryf.
Die aantal gelowiges in die suide van Laos neem toe en dit is wat gelei het tot ’n ooreenstemmende toename in vervolging in die land. Laos is 31ste op die Wêreldwaarnemingslys van Christen-vervolging.
*Name verander vir sekuriteitsredes.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 11/04/2023
Foto: opendoorsuk.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.