Artikelbron: charismanews.com
Die Christen-sanger Jeremy Camp moes onlangs ’n hartoperasie ondergaan. Die operasie was suksesvol, alhoewel sy herstelperiode ’n paar maande lank sal neem. Sy vrou Adrienne het Camp se aanhangers op sosiale media vir hul gebede en ondersteuning bedank.
Jeremy se hartklop was onreëlmatig en gewoonlik te hoog. Dit het te doen met ’n ritmestoornis wat nie lewensgevaarlik is nie, maar gewoonlik behandeling vereis. Die operasie was om skade aan die hart te voorkom. Adrienne het via Instagram ’n foto gedeel van die sanger in die hospitaalbed.
Toe die sanger die hartoperasie aankondig, het hy honderde boodskappe van ondersteuning ontvang. Adrienne: “Ons is uiters dankbaar vir julle gebede en vir die goeie versorging deur die hospitaalpersoneel.” Sy het Psalm 73:26 aangehaal: “Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.”
Camp het voorheen gedeel dat hy groot krag uit sy geloof in Jesus geput het toe sy eerste vrou Melissa aan eierstokkanker gesterf het. Hy het destyds verwys na Johannes 16:33, “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”
Ná daardie moeilike tydperk het Jeremy die liedjie “I Still Believe” uitgereik. Hierdie liedjie is later in ’n rolprent verfilm.
“Ons leef in ’n gebroke wêreld, waar ons siekte en dood moet hanteer. Maar Jesus herinner ons daaraan dat Hy die dood oorwin het. In tye van onsekerheid, vrees en bekommernis is dit iets om aan vas te hou,” het die sanger gesê.
Camp het talle toekennings vir sy musiek ontvang, insluitend Dove-toekennings en Grammy-benoemings. Sy impak strek egter verder as die musiektoneel. Deur sy musiek en persoonlike getuienis het Jeremy Camp ‘n diepgaande impak op die lewens van baie gehad, wat vertroosting, hoop en inspirasie verskaf aan diegene wat na sy musiek luister en sy storie hoor.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/03/2024
Foto: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








